Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Abel Pienaar se mites

    

Rapport en Netwerk24 bied reeds vir etlike jare ‘n platform vir die ondermyning van die Christelike geloof en die verspreiding van postmoderne gnostiese bygeloof. Hierdie bygeloof gaan basies oor ‘n sektariese siening wat in verskillende geloofsgemeenskappe aanhang gevind het, ook in sekere midde-oosterse gemeentes  van die vroëe Christelike Kerk. Die uitgangspunt is dat mense deur persoonlike spirituele suiwering een kan word met god – of self ’n god word deur ‘n proses wat Transendensie genoem word en vandag grootliks in die Boeddhisme te vinde is.

In ‘n meningstuk wat op 11 Oktober geplaas is, voer dr. Abel Pienaar ’n betoog onder die opskrif: "Jesus, god of mite". Die skrywer, self ‘n produk van die NG Kerk se staatsbefondsde kweekskool by die Universiteit van Pretoria, voer aan dat die “Christelike geloofkonstruk” uitmekaar val sonder Jesus Christus. Hy stel verder dat niemand ekstern (van die Christendom) in die eerste eeu melding gemaak het van Jesus nie. Hy gebruik dan hierdie stelling (en ‘n bedenklike verwysing na die fondse van antieke gnostiese perkamente in Egipte in die 1940s) om te redeneer dat  vroëe Christene Jesus nie as God gesien het nie, en dat die moderne gnostici soos hyself hul antieke voorlopers se dwaalleer kan afstof om Christus op te eis as ‘n inspirerende mens. By implikasie is Jesus Christus dus slegs ‘n voorbeeld van hoe ons deur ons eie transendensie self persoonlike gode kan word.

Die stellings van hierdie skrywer is egter van alle integriteit ontbloot wanneer ons sien hoe hy op oneerlike wyse inligting weerhou van sy lesers. Daar is inderwaarheid verskeie antieke bronne buite die Nuwe Testament wat verwys na Jesus Christus as historiese figuur en as gekruisigde mens wat deur die eerste Christene as God aanbid is. Die eerste verwysing is deur Cornelius Tacitus, Roomse Senator en Geskiedkundige wat skryf oor Nero se besluit om die Christene te blameer vir die brand wat Rome in 64 N.C. vernietig het. Tacitus verwys na Christene as "volgelinge van Christus, iemand wat die hoogste prys betaal het onder hande van Pontius Pilatus tydens die heerskappy van Tiberius."

Die tweede verwysing kom van Plinius die Jongere, 'n regsgeleerde, skrywer en magistraat van Rome. In 'n brief aan Keiser Trajanus beskryf Plinius in 112 N.C. Christene as "mense wat 'n gewoonte het om op 'n spesifieke dag van die week bymekaar te kom, gesange te sing waardeur hulle Christus, 'n god, vereer en wat verbind is tot 'n eed waarvolgens hulle nie enige bedrog pleeg, steel of egbreuk pleeg nie en nooit valse getuienis lewer nie."

Die derde verwysing kom van Flavius Josefus, 'n Joods-Romeinse geskiedkundige wat gedurende die eerste eeu N.C. Jesus beskryf as 'n "wyse man wat verrassende dade gepleeg het" en dat "sy volgelinge nie na sy kruisiging verdwyn het nie." Verder skryf Josefus dat Jesus se dissipels verslag gedoen het dat Jesus drie dae na sy kruisiging aan hulle verskyn het , dat hy lewe en dat hy derhalwe die Messias mag wees waarna die profete verwys het (volgens ‘n Arabiese vertaling van Josefus se werk wat nie deur Katolieke Kerk gewysig kon wees nie).

Die vierde verwysing is afkomstig uit die Babeloniese Talmoed wat tussen 70 en 200 N.C. in hedendaagse Irak opgestel is, waarin verwys word na die kruisiging van Christus.

Die vyfde verwysing kom vanaf Lucianus van Samosata, 'n Griekse skrywer van die tweede eeu. Lucianus verwys na Christene as "mense wat tot hierdie dag toe die man aanbid wat hulle rites begin het."

Verder bied die optrede, selfs by vervolging, van die Apostels en vroëe Christene, insluitent die Ongelowige Thomas, 'n swaar gewig van omstandigheidsbewyse wat moeilik weerlê kan word dat hierdie mense in alle eerlikheid opgetree het volgens die waarheid wat deur hulle waargeneem en ervaar is. Die wel en weë van hierdie eerste gelowiges is goed gedokumenteer in bronne buite die Bybel.

As moderne Christene moet ons versigtig wees vir die versoeking van die valse profete wat al meer arrogant word met die halfgebakte leuens wat hulle onder hul groot akademiese titels verkwansel. Christus gee egter vir ons hierdie kosbare woorde nadat Hy die Apostel Thomas se twyfel besweer het deur hom toe te laat om sy wonde te sien en te tas na sy opstanding: “Omdat jy  My gesien het, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Joh 20:29)

Die volgende boeke kan na verwys word vir meer inligting rakende antieke bewyse wat die redelikheid van die geloof in Jesus Christus en die Christelike geloof ondersteun:

  • F.F Bruce, Jesus and Christian Origins Outside the New Testament
  • Lee Strobel, The Case for Christ

 

TOP