Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Na aanleiding van die NG Kerk se algemene sinode waar daar besluit is om bepaalde soorte gay verbintenisse te aanvaar, is daar ’n paar implikasies wat in die gesigsveld kom. Een van die mees voor hand liggende is die etiese vraagstuk van spermbanke en surrogaat-moederskap vir homoseksuele pare.

 

Twee meisies besluit om seksueel saam te woon. Hulle “trou” selfs. Hulle besluit om ’n kind te hê, maar dit is nie vir hulle fisies moontlik nie. Daarom betree hulle die weg van die gebruikmaking van die saad van ’n man wat in een van die twee saamwoners geïnsemineer word.

Ons kan nie van ’n lesbiese huwelik praat nie (al laat die wet en selfs sommige kerke dit toe), want God het die huwelik ingestel, maar nêrens toegelaat dat man en man, of vrou en vrou, ’n “huwelik” mag sluit nie. Inteendeel! Daarom praat ons hier eerder van “lesbiese saamwoners”.

Watter etiese gevolge het dit as lesbiese saamwoners ’n kind wil “verwek”?

’n Lesbiese saamwoon-“paartjie” (twee vrouens) besluit om ’n kind te hê. Maar hulle kan in beginsel nie. Dit op sigself bring aan die lig dat hulle “huwelik” nie is wat God bedoel het nie. Dit dompel die biologiese pa, die biologiese ma en die tweede “ma” in oortreding van etiese Skrifbeginsels. Hiermee kom die saak in die sfeer van ’n onetiese praktyk en lewe.

Dit begin by die lesbiese en by die homoseksuele verhoudings wat nie eties ooreenkomstig die Skrif is nie. Al plooi die mens sy sake hóé, solank dit in stryd met die wil van God is, oortree hulle teen Hom. Die etiese is altyd veranker in die verhouding tot God.

 

Vrou-vrou

Nou word ’n tweede onetiese vergryp begaan: Die lesbiese saamwoners kry ’n lys van manne wat hulle saad aan ’n saadbank gee. In die lys kry hulle inligting oor eienskappe van die saadskenker: sy gewig, lengte, voorkoms, kwalifikasies – selfs ’n foto: ’n “pa” op bestelling.

Onskriftuurlike optredes figureer by die saadskenker, by die lesbiese vrou wat bevrug word, by haar lesbiese saamwoner. Saam doen die drie mense ’n onreg aan die kind wat verwek word.

Die man verwek via die saadbank ’n kind by ’n vrou met wie hy nie getroud is nie. Daarmee dompel hulle hulleself in ’n buite-egtelike verwekking van ’n kind.

As die man ’n getroude is, is hy daarin ontrou aan sy vrou. As hy ongetroud is, veroorloof hy hom regte wat hom nie toekom voor sy huwelik met ’n vrou nie. Sou hy betaal word vir sy saad, dryf hy en die lesbiese vrou(e) in beginsel handel met ’n kindjie wat verwek moet word.

Die man tree ook oneties op teenoor sy kind. Hy neem nie verantwoordelikheid vir die versorging van sy kind by die ongetroude vrou nie en ook nie vir die opvoeding en geestelike groei van sy kind nie. Hy is eenvoudig nie dáár vir die kind van wie hy die vader is nie.

Al is die moontlikheid dalk nie groot nie, kan twee van die kinders wat hy só in die lewe help bring het, eendag (onbewus van hulle pa se geskiedenis) met mekaar trou en so bloedskande pleeg. Daardie man en die vrou wat geboorte aan sy kinders gegee het, kan dan die oorsaak van wangeskape kindertjies wees.

Die lesbiese vrou het al oortree deur ’n lesbiese verhouding aan te gaan. Dit help nie om te redeneer dat sy so gebore is en nie kan help dat sy die aangebore aantrekking (geneigdheid) tot ’n vrou het nie. So ’n redenasie hou nie daarmee rekening dat alle sonde deur die sondeval gekom het nie. Kan ’n mens wat byvoorbeeld geneig is om te haat, nou maar haat en almal moet dit net aanvaar – ook die Here, want Hý het haar mos gemaak? Kan iemand met ’n geaardheid van woede-optredes, hom daarop beroep dat hy sy woede mag uitleef, want hy is so gebore? Kan ’n moordenaar daarop aanspraak maak dat hy met ’n wreedaardige geaardheid gebore is – en dan sy moorde vergoelik en verwag almal moet dit goedkeur?

Die argument gaan nie op dat ander mense by woede en moord veronreg word, maar dat dit nie by ’n lesbiese verhouding of by verwekking van ’n baba met die saad van iemand met wie jy nie getroud is nie, gebeur nie.

In laasgenoemde geval dien dit tot nadeel van die lesbiese saamwoners en tot nadeel van die saadskenker – eenvoudig omdat hulle doen wat die Here verbied. Daarby dien hulle optrede tot veronregting van die kind wat verwek word. Die diepste sonde hier is die sonde teen die Here.

Die saamwoners het mekaar lief, sê hulle. Daarom is hulle verbintenis vir die Here mooi. Maar liefde tot God is om sy gebooie te bewaar (1 Joh. 5:3). Ons roeping lê tog daarin om alles wat God verbied, te haat en te ontvlug; dit selfs ten bloede toe beveg.

Lesbiese saamwoners se dade het nog verdere gevolge: Een van die twee (of albei) word bevrug met die saad van ’n man met wie sy nie getroud is nie. Sy ontsê haar kind die reg op ’n eervolle biologiese vader. Daar is geen sprake van liefde tussen die biologiese pa en ma nie. Die kind is nie verwek binne ’n eervolle en liefdevolle verbintenis van die biologiese pa en ma nie.

Nou moet die kind met leuens en wanvoorstellings grootgemaak word. Die waarheid word nie vertel nie, naamlik “Ons twee vrouens het teen die Here gesondig”. Nee, die kind word geleer: Party kinders het net ’n pa, party het net ’n ma – jy is bevoorreg om twee ma’s te hê! Die arme kind. Asof die tweede “ma” die plek van die pa kan inneem. Wat word die kind nie ontsê nie! In moderne politieke terme: Die kind word ’n diep mensereg ontneem (al praat die wet hóé). Vir wie dink die twee ma’s bluf hulle? Waar ’n kind net een ma het, is dit óf die gevolg van ’n buite-egtelike verhouding, óf die dood, óf van ’n egskeiding. Al drie is sake wat baie hartseer insluit, maar by hierdie twee ma’s is daar geen hartseer oor hulle sonde nie.

Die kind word by wyse van voorbeeld geleer om die Bybel te verdraai om by jou keuses te pas. Die Here verbied lesbiese en gay verhoudings – maar jy maak soos jy wil. Pak selfs by implikasie die skuld op God: Hý het my so gemaak. Die kind word groot met die idee dat die Bybel nie die Woord van God is nie; daarom kan ons net daardie gedeeltes wat vir óns aanvaarbaar is glo.

Die kind word veronreg deurdat ’n skeefgetrekte “liefde” van die Here Jesus voorgehou word. In daardie “liefdevolle Jesus” word die goedpraat van sonde “gevind”. Intussen leer Hy uitdruklik dat 1) die liefde vir God bo alles en almal moet wees; 2) dat die liefde vir God gepaard gaan met ’n passie om sý wil te handhaaf; 3) dat die liefde die naaste geen kwaad doen nie.

Etiese optredes tussen mense moet verankerd wees in die liefde tot God. Dit wat in stryd daarmee is, kan nie aanvaar word nie. Wanneer mense aandring op gehoorsaamheid aan die Here, word hulle dikwels van liefdeloosheid en hoogheiligheid verwyt. Was die Here Jesus egter liefdeloos toe Hy gesê het: “Wee julle, witgepleisterde grafte!”? Ons is almal gebroke deur die sondeval. Maar dit neem nie weg dat ons voor die Here en sy wil moet buig nie. As daar bekering by die aangesprokenes gekom het, sou hulle juis Christus se liefde in sy “Wee julle” raaksien. Vermaning het die heil van die sondaar in die oog.

 

Man-man

Gay saamwoners voer die sonde op die omgekeerde wyse: Man en man kan mekaar nie bevrug nie; nou huur hulle ’n ma. Indien een van die twee mans se saad gebruik is en die leenma geïnsemineer is, geld die meeste argumente wat teen lesbiese verhoudings gestel is, in sy spieëlbeeld ook hier vir die drie partye. Indien ’n ander uitverkore en begaafde man se saad vanaf die spermbank gebruik is, is nie een van die twee mans die biologiese vader van die kind nie.

Hoe verskriklik die etiese oortreding nie ook hier nie. Die kind word moederloos groot. Waar is my eie-eie moeder! Al die substituut-moeders (“oumas” en “oupas”, ooms en tannies) kan haar nie vervang nie. Die “pa’s” stel die kind bloot aan moontlike spot en veragting en isolasie van maats by die skool. Moet ’n mens verbaas wees as die kind ontvlugting in dwelmmiddels soek? Moet die wet hierdie “gesinne” voorthelp op hulle sondepad deur mense wat volgens die Skrif glo en wil lewe te dreig as hulle onbeskaamd ’n ander lewenswyse propageer? Wat ’n treurige dag wanneer gehoorsaamheid aan God bevraagteken en ondergeskik gestel word aan menseregte.

Hoe die Bybel ook al verdraai word, eendag ontdek die kind dalk op watter sondeweg sy “twee pa’s” hom meegesleur het. Die moontlikheid is egter daar dat hy gebreinspoel word om die Skrif net soos sy “ouers” nie te lees na die bedoeling van die Heilige Gees nie; of om selfs die Bybel te verwerp omdat dit Hom voor God stel.

As ’n ouer verneem dat sy (haar) kind lesbiese of gay gevoelens het, is dit nie Skriftuurlik-getroue liefde om die uitlewing daarvan goed te praat nie (omdat dit teen die wil van God is). Liefde sal wees om te sê: “My dierbare kind, ek het jou so lief. Ek gaan saam met jou bid en saam met jou soek hoe ons die wil van die Here sal doen. Jy sal nie alleen in jou stryd wees nie, want ons, Pa en Ma, gaan jou help. Maar meer nog: God is almagtig – Hy kan en sal jou die uitkoms en oorwinning gee. O, my kind, laat ons alles doen om die Here te behaag. Op hierdie pad sal ons smaak en sien dat die Here goed is en sy guns proefondervindelik geniet.”

As jou oog jou laat struikel, ruk hom uit! As jou hand jou laat struikel, kap hom af! In hierdie geval kom dit hierop neer: Moenie toelaat dat jy of jou kind in die atmosfeer van die glibberige denke en gevoelens van lesbiese en gay-agendas kom nie.

 

span style=
TOP