Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

 Ds. Kevin DeYoung   

Nou wat daarvan as Levítikus sê dat homoseksuele praktyke verkeerd is? Levítikus sê nogal baie vreemde dinge. Wat van die heffing van rente op 'n lening? Wat van die dra van klere met twee soorte materiaal? Wat van die eet van spek? Wat daarvan dat jy nie seks met jou vrou tydens haar maandstonde mag hê nie? Is ons nie daaraan skuldig dat ons kus en keur watter bevele nog saak maak nie? Hoe kan twee klein verse, in 'n boek vol opdragte wat ons voortdurend ignoreer, enige blywende relevansie vir die kerk vandag hê? Laat my toe om ses redes aan te dui waarom ons nie Levítikus 18: 22 en 20: 13 eenkant toe kan skuif nie, maar hierdie verbod moet sien as 'n uitdrukking van God se onveranderlike morele wil.

(1) Geen dissipel van Jesus Christus behoort te begin met die vermoede dat die opdragte aan Moses nie van toepassing vir vandag is nie. Die Here Jesus het self daarop aangedring dat Hy nie gekom het om die kleinste tittel uit die wet te ontbind nie (Mt. 5: 17- 18). Ons Here het gepraat van die vervulling van die Ou Testamentiese Skrifte, maar nooit om doodluiters daarmee weg te doen nie. Natuurlik is dissipelskap onder die nuwe verbond anders as lewe onder die ou verbond. Alle voedsel is rein verklaar (Mk. 7: 19; Hand. 10: 8- 11: 18); heilige dae het opsioneel geword (Rom. 14: 5- 6); die hele offerstelsel van tempel, priester, en offer is vervang (Hebr. 7: 1-10: 18). Jesus Christus bring die Skrif tot vervulling, tot sy hoogtepunt, tot die beoogde doel. Dit is egter heeltemal iets anders as om aan te neem dat die onbekende afdelings in Levítikus outomaties ter syde gestel moet word. In die eintlike sin van die woord, behoort niks in die Ou Testament ter syde gestel te word nie. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig vir die Christen (2 Tim. 3: 16-17). Selfs die uitgediende offerstelsel leer ons nog steeds oor die aard van geestelike aanbidding en ware dissipelskap (Rom. 12: 1- 2). Elke wet in die Ou Testament openbaar iets oor God se wese en oor die aard van ons gehoorsaamheid. As die onderliggende beginsel van Levitikus 18: 22 en 20: 13 iets anders is as dat God nie homoseksuele gedrag goedkeur nie, moet dit uit die Skrif bewys word, nie net beweer word as gevolg van ’n gemaklike afwysing van Ou Testamentiese onderrig nie.

(2) Daar is geen aanduiding in die Nuwe Testament dat Levitikus behandel moet word as besonder onduidelik of onbelangrik nie. Inteendeel. Die Here Jesus verwys na Levitikus 19:18 (om jou naaste lief te hê soos jouself) meer as na enige ander vers in die Ou Testament, en die hele Nuwe Testament verwys tien keer daarna. Net so, haal beide Petrus en Paulus Levítikus aan as deel van hul oproep tot heiligheid (2 Kor. 6: 16, met vermelding Lev. 26:12; 1 Petr. 1: 16, met vermelding Lev. 11: 44.). Die skrywers van die Nuwe Testament het nie gehuiwer om hul te wend tot Levitikus, die vernaamste boek oor heiligmaking in hulle Bybels, om instruksie en vermaning vir die godvresende lewe te vind nie. In 1 Kor. 5 beroep Paulus hom direk op die wet van Moses - Levítikus 18: 8; Deut. 22:30; 27:20- om die sondigheid van bloedskande ('n werkswyse waarvan hy weer gebruik maak in 1 Kor. 6 met betrekking tot homoseksualiteit) te bevestig. Paulus het in Levitikus morele verpligtinge gevind wat steeds bindend op die Christen is. Die seksuele etiek van die Ou Testament is nie soos die offerstelsel opgehef nie, maar in die vroeë kerk ingedra. Die wet is goed as iemand dit wettiglik gebruik (1 Tim. 1: 8).

(3) Paulus se term vir mans wat homoseksualiteit beoefen (1 Kor 6: 9; 1 Tim. 1:. 10) is afgelei van twee woorde - arsēn (man) en koitē (bed) – wat gevind word in die Griekse vertaling van die Ou Testament (Septuaginta) in Lev 18: 22 en 20: 13. Daar is geen gevalle van die woord (arsenokoitai) voor Paulus se gebruik daarvan nie. Selfs baie revisionistiese geleerdes stem saam dat Paulus die term vanweë Levitikus gebruik het. Daar bestaan ook ’n moontlikheid dat daar ’n sinspeling op Lev. 20:13 is (“het hulle altwee iets gruweliks gedoen") in Romeine 1:24 (“het God hulle ook ... oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer ..."). Dit kan ook 'n verwysing na die uitspraak van Levitikus 20 wees.

(4) Levítikus gebruik sterk taal om homoseksuele gedrag af te keur en noem dit "'n gruwel." Buite Levitikus, word die Hebreeuse woord to'ebah 43 keer in Eségiël en 68 keer in die res van die Ou Testament gebruik, gewoonlik met betrekking tot besondere swaar sondes.[1] Ons kan nie to'ebah afmaak as 'n blote sosiale taboe of rituele onreinheid nie. Die woord beteken normaalweg iets wat die Here verag. Daar is ses dinge wat die HERE haat, verklaar die boek Spreuke, "en sewe is vir sy siel ’n gruwel.” (Spr. 6:16; vgl. Deut. 12:31.). Revisionistiese skrywers is  vinnig om daarop te wys dat al die seksuele sondes in Levitikus 18 saam oor een kam geskeer word met die term "gruwels" (v. 26-27, 29-30), maar die feit is dat slegs man-met-man seks by die naam uitgesonder word as 'n gruwel. Trouens, dit is die enigste verbode daad wat hierdie etiket in die hele Heiligheidskodeks van Levitikus kry. Die doodstraf, vir beide partye, wys ook op die erns van die oortreding in God se oë.

(5) Die verwysing na ’n vrou se menstruele periode (18:19; 20:18) behoort nie twyfel te wek oor die res van die seksuele etiek wat in Levítikus 18 en 20 beskrywe word nie. Om mee te begin, is daar 'n duidelike progressie, in beide hoofstukke, van seksuele sonde wat in toenemende mate afwyk van die ontwerp van monogamie tussen man en vrou. In Levítikus 18:19- 23, beweeg die oortredings vanaf seks met 'n menstruerende vrou tot seks te hê met jou naaste se vrou, tot seks met 'n ander man, tot seks met 'n dier. Elke nuwe oortreding beweeg nog 'n stap weg van God se ontwerp. Net so, in Levítikus 20: 10 16, beweeg die oortredings vanaf seks met jou naaste se vrou, tot seks met 'n familielid, tot seks met 'n familielid van 'n jonger geslag, tot seks met 'n ander man, tot seks met meer as een persoon, tot seks met 'n dier, tot 'n vrou wat die rol van 'n man inneem in die benadering van ’n dier om daarmee seks te hê. Om gemeenskap tydens ’n vrou se menstruele onreinheid te hê, is die laagste sport op die leer in hoofstuk 18 en geensins deel van die voortgang in hoofstuk 20 nie. Meer nog, ons moet verstaan wat die Ou Testament bedoel met "onreinheid." Levítikus 18:19 verbied 'n man om omgang met sy vrou te hê gedurende die tyd wanneer daar bloed gestort word, aangesien dit hom onrein sou maak vanweë haar onreinheid. Die vraag is dan of menstruasie steeds 'n vrou onrein maak. Menstruasie was nie 'n sonde nie (geen offer was nodig om versoening daarvoor te bewerk nie). Dit was 'n kwessie van rituele onreinheid. Maar met die koms van Christus - en die afskaffing van die offerstelsel, die tempel, en die Levítiese priesterorde – is die hele stelsel wat rituele reinheid vereis, verwyder. In die Ou Testament was nie alle onreinheid sonde nie, maar alle sonde het jou wel onrein gemaak. Soos wat Jonathan Klawans in die Joodse Studiebybel opmerk, rituele onreinheid en morele onreinheid is twee analoë dog onderskeibare kategorieë.[2] Reinheid maak steeds saak in die Nuwe Testament, maar dit word 'n uitsluitlik morele kategorie in plaas van 'n rituele een. Reinheid verwys na daardie dade wat moreel suiwer is in God se oë is. Dit is die rede waarom die geloof van die vrou met bloedvloeiing in Lukas 8 belangriker is as haar twaalf jaar van bloeding (v. 43- 48). Die les uit Levítikus 18: 19 is nie "gooi die hele hoofstuk uit"  nie. Dit is eerder: “Weerhou jou van enige seksuele aktiwiteit wat jou onrein maak.”

(6) Benewens die vraag oor seks tydens menstruasie, word die seksuele etiek in Levítikus 18 en 20 vierkantig bevestig in die Nuwe Testament. Owerspel is nog steeds 'n sonde (Mt. 5: 27- 30). Bloedskande is nog steeds 'n sonde (1 Kor. 5: 1- 13).[3] Selfs poligamie word duideliker verwerp (1 Kor. 7:2; 1 Tim. 3: 2). Dit sou vreemd wees as die verbod op homoseksuele praktyk ter syde gestel word wanneer dit nie die geval is met die res van die seksuele etiek nie, veral as in ag geneem word hoe die verwerping van gedrag teenoor dieselfde geslag gewortel is in die geskape orde. Die saak teen die blywende betekenis van Levítikus klink aanvanklik oortuigend, maar die argumente kom dikwels neer op niks meer as die uitroep van slagspreuke nie. Enigiemand wat die Bybel bestudeer het as 'n ernstige dissipline, verstaan dat die verhouding tussen die Ou en die Nuwe Testament ’n delikate saak kan wees. Ons neem nie bloot die Mosaïese verbond aan as ons verbond wanneer ons kerk lidmate word nie. Net so min wys ons God se genadige self-openbaring in die Torah af as gevolg van 'n afgesaagde beskuldiging deur Bybelkritici oor die eet van skulpvis.[4] Levítikus was deel van die Bybel wat die Here Jesus gelees het, van die Bybel die Here Jesus geglo het, en van die Bybel wat die Here Jesus nie wou ontbind nie. Ons behoort dit ernstig op te neem hoe die heiligheidskodeks die heilige wese van God openbaar asook hoe  ons veronderstel is om heilige mense te wees.  Selfs aan hierdie kant van die kruis maak die opdragte in Levítikus nog saak. Toe die heidene eeue later deel van die kerk geword het, het hulle nie nodig gehad om Jode te word nie (1 Kor. 7:19), maar in lyn met God se morele wet, moes hulle onsedelikheid agterlaat (5:11; 6:18; 10: 8).

* Hierdie artikel is deur die redaksie vertaal vanuit ds. Kevin DeYoung se onlangse publikasie, What does the Bible Really Teach about HomosexualityDit is op Kindle beskikbaar en word baie sterk aanbeveel.  

 


[1] Kyk Robert A. J. Gagnon, The Bible and Homosexual Practice: Texts and Hermeneutics (Nashville, TN: Abingdon, 2001), 117– 20.

[2] Jonathan Klawans, “Concepts of Purity in the Bible,” in The Jewish Study Bible, red. Adele Berlin en Marc Zri Brettler (Oxford: Oxford University Press, 2004), 2041 –47. Ek is dankbaar teenoor Robert Gagnon wat my na Klawans se werk verwys het.

[3] Dit is belangrik om vanuit hierdie gedeelte kennis te neem dat die Ou Testamentiese strawwe van dood of verbanning vir uitsonderlike seksuele sonde nou in die kerk gedoen word deur ekskommunikasie: "Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.” (1 Kor. 5: 13.). Paulus gebruik dit om te verwys na verbanning en die woorde is geleen vanaf die doodstraf tekste van Deuteronomium (bv. 17: 7; 19: 19).

[4] Kyk byvoorbeeld na die nuttige artikel van Tim Keller, “Making Sense of Scripture’s ‘Inconsistency,’” The Gospel Coalition, 9 Julie, 2012, http://www.thegospelcoalition.org/article/ making-sense-of-scriptures-inconsistency

 

TOP