Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Anton van Niekerk se teologie van die dood

    

Die NG Kerk het op sy sinode van 2011 die volgende verstommende besluit geneem:

Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer[i]

Die implikasies van hierdie besluit is verreikend. Is dit hoe daar gehandel word wanneer daar verskille in interpretasie is? Nie net die bestaan van die duiwel nie, maar ook die leer aangaande die erfsonde, die maagdelike geboorte, die fisiese opstanding van Christus en die hemelvaart kan met hierdie tipe logika opsioneel gemaak word. 

Oor bogenoemde besluit was daar wel reaksie.[ii] Skrifbewyse en argumente uit die belydenisskrifte het egter uiteindelik geen effek gehad nie, Dit was deels omdat daar so min stemme was wat op hierdie front nog die stryd gestry het. Agterna gesien was die algemene reaksie teen die besluit eintlik teleurstellend en gekenmerk deur persoonlike (ad hominem) aanvalle op die beswaarmakers.

Waarom was die reaksie so gebrekkig? Een van die redes is die verdoeseling van liberale begrippe deur tradisionele Christelike terme binne die tradisionele Christelike raamwerk. ’n Ander rede is die stigmatisering van sogenaamde “fundamentalisme”. Sommige kerkleiers het selfs hul eie begrippe soos ontluikende kerk (Engels: emergent church) in die raamwerk in gevoeg. Die gevolg is ’n verdagte teologie, wat in sy wese neo-liberaal is en skynbaar onskuldig onder die vaandel van die Christendom opereer. Dit herinner ons aan die woorde van die Amerikaanse teoloog  J. Gresham Machen in sy boek Christianity and Liberalism, amper ‘n eeu gelede:

Die eenvoudige feit is dat die liberalisme, waar of vals, geen blote "kettery" is nie - geen blote afwyking op geïsoleerde punte van die Christelike onderrig nie. Inteendeel, dit gaan van 'n totaal ander wortel uit, en dit rig in sy wese 'n eenvormige sisteem van sy eie op. Dit beteken nie dat alle liberale vashou aan al die dele van die stelsel nie, of dat Christene wat op een punt beïnvloed is deur die liberale onderrig, op al die punte beïnvloed is nie ... [die liberalisme] verskil van die Christendom in sy siening van God, van die mens, van die setel van gesag, en van die weg van verlossing. En dit verskil nie net van die Christendom in die teologie nie, maar in die hele lewe.

 

Een van die nuwe baadjies

Hierdie siening van Machen word bevestig deur die onlangse heruitgawe van Anton van Niekerk se boek, Geloof sonder sekerhede. Hoe kan ek nog glo?[iii] Van Niekerk is ’n professor in etiek in die filosofie departement aan die Universiteit van Stellenbosch en ’n proponent in die NG Kerk. Hy begin deur te vra na die misterie van die mens se bestaan en ontstaan in die grootsheid van die heelal, beide in terme van ruimte en tyd. Van Niekerk stel dat hierdie misterie egter nie in terme van God as die Oorsprong daarvan nie, maar eerder in terme van die oerknalteorie en dus per implikasie in terme van die ewolusionisme verstaan moet word. Hy distansieer homself hierna direk en per implikasie van al die punte van die belydenisskrifte deur die loop van sy boek. Hy sien die belydenisskrifte eintlik as 'n verleentheid:

Die tradisionele belydenisskrifte van die gevestigde kerke bevat myns insiens ’n hele aantal artikels wat nog kwalik ernstig opgeneem kan word deur moderne mense. Dit is nie nodig om hier uitvoerig in te gaan op die voorbeelde wat tans dikwels in openbare gesprekke opduik nie. ’n Mens kan maar net dink aan die Christelike kerk se skeppings-en sondeleer wat vandag ’n yslike verleentheid geword het.[iv]

Van Niekerk motiveer sy liberalisme soos volg:

Ons is mense van die 21ste eeu. Dit beteken nie dat ons noodwendig beter of slimmer is as die geslagte wat ons voorafgegaan het nie. Maar dit beteken wel dat ons wil glo op ’n manier wat nie lynreg indruis teen die insig van ons gesonde verstand en teen feitlik onbetwisbare getuienis van die wetenskap nie. Van ons kan nie verwag word om ons intellek eenvoudig op te skort wanneer geloofskwessies ter sprake kom nie. Ons kan nie in verskillende kompartemente lewe waarvan elk totaal onversoenbare reëls het vir wat sin maak om te sê of te weet nie. Soos mense in alle tydvakke van die geskiedenis, dring ook ons van die 21ste eeu daarop aan dat ons geloof in God met ons breë intellektuele en kulturele oriëntasie moet resoneer. Ons sien nie meer kans vir geloof as die inhoud en lewenstyl van ’n intellektuele ghetto wat sommige van ons nog probeer reserveer vir die irrasionele skuilhoeke van ons komplekse persoonlikhede nie.[v]

Die woorde, feitlik onbetwisbare getuienis van die wetenskap sluit natuurlik hier die oerknalteorie en ewolusionisme in. Die begrip ontluiking, soms ook uitgedruk as emergensie (Engels: emergence), speel onder meer 'n belangrike rol in beide teorieë. Hierdie begrip is ’n baie wye begrip, maar vir ons doeleindes kan dit verduidelik word as ’n nuwe vlak van werklikheid wat bo-op ’n vorige vlak van werklikheid ontstaan. Die nuwe vlak is hiervolgens ook nie tot die ou vlak reduseerbaar nie. ’n Klassieke voorbeeld is primitiewe eensellige lewe wat kwansuis uit chemiese reaksies in ideale omstandighede sou ontstaan het. Hierdie spesifieke voorbeeld van nie-reduktiewe ontluiking het egter onoorkomelike probleme omdat dit ’n inherente teenstrydigheid behels wat ons nie nou kan bespreek nie. Daar kan wel genoem word dat die enigste manier om hierdie teenstrydigheid te oorbrug deur ’n geloofsdaad kan geskied dat dit wel op een of ander magiese manier oorbrug sal word. Van Niekerk se denkwyse gee egter duidelik te kenne, in pas met sy liberale humanistiese denke, dat God uitgesluit word as die finale grens van alles:

Daarby loer en wag die dood vir ons almal; daarom is die vraag hoe ons moet klaarkom met die feit dat ons almal sal sterf, myns insiens die mees praktiese en moontlik belangrikste vraag wat daar is.[vi]

Die vraag onstaan egter nou: As die finale vraag nie God is nie, wat beteken God dan vir Anton Van Niekerk? Godsdiens is vir Van Niekerk die lewenstoewyding wat ontstaan vanuit die belewenis wat volg met die ontmoeting tussen die mens in sy grondige wese en die misterie van sy bestaan. Gestel in die taal wat ons hierbo gebruik, ontluik ’n Godsbeskouing dan in hierdie ontmoeting as 'n bepaalde tradisie. Hierdie tradisie vind dan neerslag in bepaalde geskrifte soos die Bybel en die Koran.[vii]   

Vir Van Niekerk is die misterie van bestaan in wese een van hoe ’n dooie heelal aanleiding kan gee tot lewe en die menslike gees. Prof. Danie Goosen skryf egter breedvoerig aangaande hierdie tipies modernistiese probleem in sy boek, Die Nihilisme. Notas oor ons tyd.[viii] Dit werp ook meer lig opVan Niekerk se opmerking dat die dood die finale horison van ons bestaan is. Hierdie siening van Van Niekerk het geweldige implikasies op die sin van die lewe. Dit beteken eenvoudig dat alles wat belangrik in die lewe - die goeie, die skone, die ware, en die liefde - een van twee moontlikhede van bestaan het. Dit kan enersyds blote epifenomene wees (letterlik beelde wat bo-op verskyn) wat in die subjektiewe gees ontluik (laasgenoemde het op sy beurt weer vanuit lewelose stof ontluik). Andersyds kan hulle blote skynbeelde wees in ’n gees wat op sy beurt ook ’n blote skynbeeld is - gebou op ’n ingewikkelde interaktiewe patroon van stofdeeltjies, soos wat die wetenskaplikes van kunsmatige intelligensie beweer.

 

Neem kennis van die hoofboodskap

Hoofstuk sewe van die boek verteenwoordig waarskynlik Van Niekerk se hoofboodskap. Hy onderskei tussen objektiewe en subjektiewe waarhede. Objektiewe waarhede is dit wat wetenskaplik toetsbaar is en daarom op een of ander stadium deur middel van nuwe inligting net so wel verkeerd bewys kan word (Karl Popper se tese). Dit kan daarom nie as ’n basis vir enige sekerheid gebruik word nie. Subjektiewe waarhede gaan weer net soveel om selfverstaan as om die verstaan van die wêreld en het te doen met die subjek in sy diepste self en identiteit. Dit is gegrond op interaksie en netwerke wat gevorm word met ander en waardeur kennis van die wêreld en die self op hierdie manier ontluik. Dit vind dan altyd neerslag in een of ander vorm van belydenis aangaande wie en wat ek is. Dit is dus in wese ’n geloofskennis. Hierdie soort kennis lei tot ’n oortuiging en nie tot sekerheid nie. Die begrip sekerheid is daarom in Van Niekerk se oë verkeerd omdat dit volgens hom aanleiding gee tot fundamentalisme. Dit wil blyk dat Van Niekerk van mening is dat ons enige sekerheid eerder moet verruil vir verwondering oor die misterie. 

Die probleem is egter dat ons met Van Niekerk se finale misterie die dood direk in die gesig staar. Sy stelling in die laaste hoofstuk dat die dood as die finale vraag van die lewe aan die bestaan van dinge sin kan gee, maak juis nie sin nie. Niks is niks en kan nie iets wees nie, wat nog te sê om aan iets inhoud of betekenis te gee. Op die stadium van die dood sal iemand met hierdie oortuiging van God as ’n ontluikte konstruk, alle lewe, alles wat mooi en goed en waar is, en alle oortuiginge, agterlaat.  En dan kom ons naak, sonder enige sekerheid, teen die verskrikking en angs van die hel te staan. Die leegheid en duisternis van die hel kan nie dinge verlig en sodoende aan dinge sin gee in terme van liefde, skoonheid, goedheid en waarheid nie. Dit is slegs die ewige lig van God wat dit kan doen.  Soos C.S. Lewis dit iewers stel:”Ek glo in die waarhede van Christendom soos ek glo aan die opkomende son; nie omdat ek dit in diepte deurskou nie, maar omdat ek deur middel daarvan alles anders kan sien.”

Die genoemde 2011 sinodebesluit van die NG Kerk is geneem vanuit ’n teologie wat radikaal rondswem in die waters van hierdie tipe oortuiginge van Van Niekerk. Sy boek is maar net ’n enkele een in die liberale wêreldbeskouing wat ’n voorsmakie gee van die idees waarmee mense vandag rondloop. Hierdie idees het meer as 'n eeu se ervaring in Skrifkritiek en dekades-lange dekonstruksie van hoe om die Bybel vir eie doeleindes te laat buikspreek. Ons moet hierdie onderliggende wêreldbeeld in gedagte hou in voortgaande debatte. Dit is hier waar ons die gedagtes en planne sal moet uitdaag. 


[i] Besluiteregister, Sinode van 2011, bls. 2. http://www.ngkerkas.co.za/wp-content/uploads/BESLUITEREGISTER2011.pdf. Afgelaai 18 Augustus 2015

[ii]  Vgl. byvoorbeeld die webwerwe van hierstaanek.com, en glodiebybel.co.za  

[iii] Lux Verbi, 2014.

[iv] Ligging 184 in die Kindle weergawe.

[v] Ligging1 71 – 177 in die Kindle weergawe

[vi] Ligging 1768 in die Kindle weergawe.

[vii] Ligging 904 – 914 in die Kindle weergawe.

[viii] Uitgewery Praag. 2007  

 

TOP