Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die herstel van die Kerk

    

Op 21 Desember 1968 het die Amerikaanse Ruimteagentskap sy Apollo-8-sending die ruimte ingestuur.

Die bemanning, Frank Borman, James Lovell en William Anders, het om die ‘donker kant’ van die maan (die deel die verste van die aarde) gewentel en het hul blik tydelik op die aarde verloor.

’n Mens kan jou hul sprakelose bewondering van God se skepping indink toe hul op Oukersdag die aarde weer sien herrys op die horison van die maan.

Op daardie grootste van oomblikke het hul ‘n baie spesiale boodskap uitgesaai na die mensdom: die skeppingsverhaal in Genesis 1. Hul boodskap word afgesluit met die seënwens “good night, good luck, a Merry Christmas, and God bless all of you, all of you on the good Earth.” Vandag maak die internet hierdie boodskap vir ons toeganklik.

Wanneer ons na hierdie gebeure terugkyk, blyk dit dat 1968 ‘n hoogtepunt verteenwoordig in die status wat die Christelike waarheid in die Westerse beskawing beklee het. Dit is duidelik dat die mensdom sy grootste wetenskaplike deurbraak gemaak het in die besef en waarderende erkentlikheid van sy afhanklikheid van God. Vandag lyk die gaping tussen Kerk en Wetenskap egter , aldus die openbare beeld, onoorbrugbaar groot. Hoe het dit gebeur?

In dieselfde dekade as die maanlading het die “New Left” as Marxisties-politieke beweging sterk na vore begin tree wat wydlopende verandering aan die sosio-politieke bestel sou bring, insluitend oor sake soos gay-regte, aborsie, geslagsrolle en dwelmgebruik. Teen hierdie aanslag sou die Christelike Kerk baie van sy aansien verloor – tot so ‘n mate dat sy selfs in die onfeilbaarheid van die Heilige Skrif sou begin twyfel.

Die “New Left” is gebore na die Hongaarse Revolusie van 1956 (‘n populêre verset teen hul Kommunistiese heersers wat deur studente in Hongarye begin is en wat tot die val van die regering gelei het, net om bloedig deur Rusland onderdruk te word). Hierdie gebeure het dit vir Westerse bevolkings duidelik gemaak dat Kommunisme in werklikheid nie die veelbeloofde aardse hemel bied nie. Vervolgens is Westerse linkse intellektuele gedwing om die fluweelhandskoen aan te trek om hulself van irrelevansie te red. Hulle sou voortaan al meer op sagte ‘sosiale ongelykhede’ fokus, eerder as op die harde klasse-ongelykhede van tradisionele Marxisme om hul ideologie te bevorder. Die ‘vader’ van hierdie beweging was die Duitse akademikus Herbert Marcuse en sy boek ‘Eros and Civilisation’ sou aan hulle die nodige intellektuele begronding bied.

Die “New Left” se strategie het behels om ‘n rewolusionêre voorhoede te vorm uit die polities-progressiewe elemente van die opkomende middelklas (meestal onderwysers en dosente) en deur hulle instellings te skep wat onverbiddelik en onverpoosd sou agiteer vir verandering.

Dit blyk dat die Christelike geloof vroeg reeds deur die “New Left” geteiken is vir ondermyning, wat hoofsaaklik gedryf is deur akademiese relativering in universiteite en skole. Meegaande tekenprent uit die vroeë 20ste eeu dui die roete van akademiese verleiding wat teen Christene ingespan sou word.

Vandag is die “New Left” millimeters vanaf die voltrekking van hul oorwinning en hang die Christendom se status in die Westerse wêreld aan ‘n baie dun draadjie. Sodanig dat opponente van die sosiale agenda van die “New Left”  dit dikwels moeilik vind om vanuit ‘n Christelike geloofsperspektief te argumenteer vir tradisionele huwelike, seksuele kuisheid, die reg op lewe van ongebore babas en die menswaardigheid van siekes en oues.

Gevestigde norme wat vir eeue aanvaar is as moreel korrek -  soos dat die huwelik die band tussen een man en een vrou verteenwoordig wat tot mekaar verbind is om ‘n veilige omgewing te skep waarbinne hulle kinders kan verwek, versorg en opvoed om produktiewe lede van die samelewing te word – word nou skielik beskou as dwepery, met die “New Left” se kwetterklas wat so sigbaar in die media die rolle van die aanklaer, regter en laksman vul.

Die wêreld is besig om in ‘n nuwe donkerte te daal waar slawerny aan die sonde klaarblyklik deur die openbare meningvormers verkies word bo vryheid deur Christus. Ook die Gereformeerde Christendom het geskeur en is besig om groot getalle aan die donkerte af te staan. So het die “Presbyterian Church of the USA(PCSUSA)”, die “Uniting Church in Australia”, die Protestantse Kerk in Nederland en die “United Reformed Church” in Engeland  (om enkeles te noem) hulself op die glybaan op weg na agnostisisme geplaas. Vandag beywer ‘n prominente deel van die NG Kerk se leierskap hulle om daardie verband op dieselfde glybaan te plaas.

Tog lees ons in Mattheus 16 dat Christus beloof: “En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.”

Getrou aan hierdie belofte, sien ons groen lote in die Christendom spruit, wat lewenskragtig na bo beur waar die wingerd met soveel mening teruggesnoei is. Gelowiges herontdek die waarheid van die Heilige Skrif en vind mekaar in die Gemeenskap van die Heiliges.

 So sien ons in die Gereformeerde Christendom nuwe kerkverbande na vore tree wat voortbou op die oorspronklike wingerdstok (vergelyk Johannes 15). Hierdie herstelde kerkverbande sluit in die ‘Presbyterian Church of America (PCA – gestig 1973)’, die ‘Presbyterian Church of Australia (1977)’ die Hersteld Hervormde Kerk in Nederland (2004) en die ‘Evangelical Presbyterian Church in England and Wales (1987)’. Lidmate van die AP Kerk sal hulself baie gemaklik vind met die geloofsgrondslag en lering van hierdie kerkverbande.

Ons sien ook Christene van verskillende kerkverbande saamwerk om ‘n terugkeer na die Evangelie te lei. Moderne behoudende teoloë soos Timothy Keller, Don Carson, Kevin DeYoung en RC Sproul tree vandag al sterker na vore. Hulle en andere breek nuwe grond in die aanwending van moderne tegnologie om die klassieke Christelike leer oor te dra aan gelowiges wat daarna smag om te ontsnap aan die wurggreep wat die “New Left” op tradisionele kerke uitoefen deur universiteite en kweekskole waar hulle ideologie die botoon voer. Webwerwe wat gerus besoek kan word sluit onder meer in “The Gospel Coalition” en Ligonier Ministries. Soveel ander bewegings uit verskillende kerke en denominasies sou genoem kon word wat ’n mens verras en aanspoor deur die wyse waarop hulle die voortou neem in die stryd om die behoud van dit wat vir ons kosbaar is: Die tradisionele huwelik, die bevegting van aborsie op aanvraag, en die beskerming van siekes en oues teen die vergrype wat onder ‘genadedood’ teen hulle gepleeg word.

Dit is so maklik om die herstel in die wêreldwye Christelike Kerk te mis wanneer die hoofstroommedia die nuus wat ons ontvang, filtreer. Ons kan maklik voel dat ons alleen staan teen die res van die wêreld, en dat ons isolasie dalk kan aandui dat ons verkeerd is, maar dit is duidelik nie die geval nie.

Ons moet egter nie ons teenstaanders onderskat nie. Hul sukses tot hede spreek vanself. Ons hoef ook net een van hul meer militante groepe, FEMEN, se optrede te aanskou om te besef dat ons teen die slagordes van die bose te staan gekom het. Een val hul aktiviste het die 2013-Kersdagdiens in die katedraal van Keulen onderbreek deur op die kansel te spring en haar bolyf te ontbloot met die woorde ‘I AM GOD’ op haar geverf. In ‘n soortgelyke geval het vier halfnaakte FEMEN aktiviste water oor die kop van die aartsbiskop van België gestort terwyl hy aan ‘n publieke debat deelgeneem het. Hulle het kapsie gemaak teen sy standpunte ten gunste van tradisionele huwelike en die beskerming van ongebore babas se reg op lewe.

Die herstel van die Christelike Kerk bied vir ons hoop en hef-aan lê voor. Die hofsaak wat tans in Suid-Afrika gevoer word om geloofsbeoefening by publieke skole te belet, dui aan hoe hierdie stryd tot in ons eie agterplase gevorder het en dat niemand daardeur onaangeraak gelaat sal word nie. Die stryd is vir die behoud van ons geloof en ook vir die behoud van ons kinders se reg om sonder diskriminasie kinders van God te wees.

 

TOP