Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Hond se gedagtes oor ondankbaarheid

    

Ons voorblad van Februarie 2014 vra weer eens ons aandag. Die bekende logo van His Master’s Voice was en is nie om dowe neute so treffend nie. Die prent praat met jou hart. Dit fluister iets van die gees van luister, lojaliteit en dankbaarheid. Onlangs het ons webmeester hierdie bewussyn weer sterk in ons afdeling aanhangig gemaak. Hy het ’n baie treffende insetsel wat hy saamgestel het met ons gedeel oor sy gunsteling tydverdryf - honde in ’n hondepark. Aan die einde van hierdie artikel sal u die insetsel vind wat aanleiding gegee het tot die uitbou en (her)plasing van hierdie artikel.   

 

Honde kan baie goeie diens doen vir Afrikaners in die een-en-twintigste eeu – in meer as een opsig. Ons sou die hond-beeld spesifiek kon opstel teenoor die beeld van die jakkals wat die afgelope dekade wêreldwyd gewild gemaak is deur Clem Sunter en Chantelle Illsbury se bekende Mind-of-a-Fox reeks. Jakkals se kind, so is aangevoer,  is mos uitgeslape en baie aanpasbaar. Dit maak nie saak hoe toestande verander nie, hy maak ’n plan, nee tien planne, en is altyd gereed vir nuwe jakkalsdraaie. Is dit nie wat ons in ons land nodig het nie? Selfs kerke het die beeld oorgeneem om mense te inspireer vir ’n lewe as gelowige in Suid-Afrika. En tog, ook hierdie beeld het baie leemtes, soveel so dat oubaas se honne beslis maar ons aandag kan vra.

 

Die jakkalsbeeld het die leemte dat dit maklik kan appelleer op ons selfsug. Ons moet oorleef, uitgeslape wees en aanpas om ons lewe te behou. Nou kan ons toegee dat daar ’n kant van honde is wat sekerlik ook selfsugtig is, maar honde herinner ons baie sterk aan ’n ander eienskap wat minder duidelik uit die verf kom as ons vashaak by jakkalsdanse. Die teoloog Hermann Kohlbrugge het die beeld van ’n hond kragtig in sy verduideliking van die Heidelbergse Kategismus gebruik. Kohlbrugge se eie stel vrae en antwoorde begin so:

 

Vraag: Wat is die dankbaarste skepsel wat God gemaak het?

 

Antwoord: Die hond.

 

Vraag: Waarin sal dan u dankbaarheid bestaan?

 

Antwoord: Daarin, dat ek by die genade bly, soos wat die hond by sy meester bly en my altyd weer

 

opnuut tot hierdie genade begeef ... die hond kruip juis dan die meeste na sy meester toe wanneer hy slae van hom kry.

 

Josef Stalin het blykbaar saamgestem met Kohlbrugge. Sy katkisasie het egter anders geklink. Stalin het gesê dat dankbaarheid ’n siekte is waaraan honde ly. Stalin se probleem was dat hy nie sy eie siekte besef het nie. Dit is ’n siekte tot die dood wat juis daar te vinde is waar dankbaarheid in sy ware gestalte nie teenwoordig is nie. Ons kan die doodsiekte van Stalin, steeds ’n epidemie, met verskillende name noem. Die naam wat vandag oor die wêreld heen daarvoor gebruik word is nihilisme. Dit is ’n terminale siekte wat daarop dui dat die lewe vir jou leeg geword het. Die filosoof Friedrich Nietzsche het reeds rondom die begin van die twintigste eeu gewys op drie maniere waarop mense hierdie gevoel van leegheid verwerk. Hy het onderskei tussen passiewe, aktiewe, en leunstoel nihilisme.

 

Passiewe nihilisme is die Boeddhistiese soort. Die oplossing vir die leegheid is om dit te bevestig met innerlike aksies van leegheid soos joga en kontemplasie. Aktiewe nihilisme is die wilde tipe en word soms selfs “kreatiewe” terrorisme genoem. Hier is die oplossing vir die leegheid om alle denkbare tradisionele strukture te vernietig deur middel van “estetiese” politieke dade. Eintlik gaan dit maar oor die dade van enige rebel – van hoërskooltieners tot selfmoordbommers. Hulle het ’n diep beswaar teen die lewe soos dit is, reken dat dit die rede vir die leegheid is, en is bereid om dit te doen wat rebelle en revolusionêres nog altyd gedoen het: skoktaktiek wat daarop gemik is om die status quo tot in sy fondamente te skud. Jy kry hulle onder beide linkses en regses en onthou gerus dat daar selfs onder die Here Jesus se dissipels so iemand was – Simon die Yweraar, die Seloot. Hierdie Simon het egter by Christus uitgekom en rus vir sy siel gevind. Dan is daar ook leunstoel nihilisme. Dit is die kulturele nihilisme van moegheid, uitputting, lamheid. Die oplossing vir die leegheid is apatie; om selfs nie eens die krag te hê, soos Nietzsche dit gestel het, om ’n stoelgang te hê nie. Dit is die houding van dis-nou-maar-eenmaal-hoe-dit-is.

 

Die hele wêreld voel aan dat ons uit hierdie gevoel van leegheid moet kom. Die mens in sonde en besig met afgode het mos nog altyd aangevoel dat iets verkeerd is en dit met bepaalde meganismes probeer regstel. Dit is goed dat Afrikaners ook weer konkreet sal kyk na die siektes en simptome van ons dag en na die hanteringsmeganismes wat aangewend word. Ons moet raaksien dat ons baie maklik self in die nihilisme ingesuig word en dikwels net spieëlbeelde van die wêreld om ons is. Ons het maklik net ons eie weergawes van (1) die toevlug neem tot innerlike ervarings, of (2) revolusies of (3) apatie. Wat ons nodig het, is Christene wat uit hierdie bose kringloop kom omdat hulle die krygsmusiek van roeping, soos Totius dit gestel het, weer duidelik gehoor het.

 

Ons is vanjaar reeds een-en-twintig jaar in ’n nuwe bedeling in ons land. Oral is daar stemme wat opgaan dat Afrikaners beter gerat is vir allerhande nuwe inisiatiewe. Maar dan moet ons deeglik ondersoek instel of ons werklik iets anderkant Nietzsche se tiperings in ons arsenaal het. Dit is belangrik dat ons sal let op daardie vreugde-olie waarsonder geen nuwe inisiatief vir lank sal brand nie. As jy dankbaarheid ontleed, so sê sielkundige geeste, ontdek jy dat dit ’n diep emosie is wat intenser word namate jy (1) besef dat jy een of ander geskenk ontvang het, (2) daaroor nadink en (3) dit beoordeel. Soos wat jy dit doen, kan dit jou selfs by verwondering, ekstase en vreugde uitbring. Daarom is dankbaarheid die opperste teenstrategie teen nihilisme. En tog is dankbaarheid vir Christene wat weekliks die grootste Gawe van God vier - oorwinning in Jesus Christus - baie meer as ’n strategie. Dit is ons asemhaling.

Daar lê baie stryde vir die kerk voor, ook in Suid-Afrika. Een van die boesemsondes van konserwatiewe Christene en kerke is dat ons so maklik ’n skril ondertoon uitstraal. Dit gebeur wanneer ons nie meer uit dankbaarheid die goeie stryd stry nie, maar vanuit angsvalligheid en vrees. Ons moet eenvoudig leer om telkens, te midde van watter omstandighede ook al, by die waters van dankbaarheid en rus stil te word. Ons het dit broodnodig om gelawe te word met vrede en vreugde as ons die stryd effektief wil stry. Daarvoor is dankwerk saam met ons dinkwerk en doenwerk nodig. Die Martha-kant van ons lewens moet verseker nie agterbly nie, maar laat die Maria-kant ook beslis nie ontbreek nie. Gaan lees gerus weer Filippense 4:4-8. En as u nog nie die insetsel hier onder deurgekyk het nie, doen dit gerus. Stel dit op hoë definisie in die regterkantste onderste hoek indien moontlik. Waardeer dit ook dat hierdie video verfilm is in twee hondeparke naby ons kantore. Sou jy dit kon raai as die konteks nie vir jou aangedui is nie? Dit laat ’n mens sommer weer besef hoeveel skoonheid in eenvoud ons nog hier in Suid-Afrika onder ons neuse het. Sien dit raak, dink daaroor na, beoordeel dit. En kyk met nuwe oë na jou hond; kyk na sy weë en word wys.

TOP