Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Christenwees in 'n post-christelike Weste

    

Radikale opsies vir Christene in post-Christelike lande

 

Die Verenigde State van Amerika het onlangs ʼn kulturele aardbewing beleef. Dié land se hooggeregshof het ʼn aantal beslissings gemaak wat finaal bevestig wat lankal deur van die voorste konserwatiewe kenners in die VSA vermoed is: Amerika is nie meer ʼn Christelike land nie.

 

Die hof het onder  meer beslis dat homoseksuele persone in al 50 state die reg het om te “trou”. Voor die beslissing was sulke huwelike reeds in 36 state wettig, maar die konserwatiewe, Christelike meerderhede in 14 state in die suide en sentrale dele kon nog verseker dat hul geloofsoortuigings steeds in die wetgewing en dus die openbare lewe kon geld.

 

Die VSA was vir lank ʼn land met ʼn sterk Christelike openbare wese. Christelike waardes was die aanvaarde waardes van die land en hoewel nie-Christene hulself gemaklik kon uitleef moes hulle aanvaar dat Christene se waardes in die openbare domein dominant was.

 

Dit het egter alles die afgelope paar jaar verander. Die goed georkestreerde aktivisme van ateïste, ondersteun deur linkse Christene wat die geloof tot die private wil beperk, het die afgelope paar jaar veroorsaak dat Christenskap voortdurend uit die openbare lewe gedruk is. Talle onlangse uitsprake deur die Hooggeregshof in Amerika het bevestig dat die Amerikaanse grondwet ook toenemend binne so ʼn verwysingsraamwerk geïnterpreteer word.

 

Die uitspraak oor gay-huwelike is ook ʼn teken van die verlies aan federalisme in die VSA. Soos wat veral die Noord-Ooste, die Weskus en groot stedelike gebiede in die VSA die afgelope tyd meer en meer liberaal geraak het, kon konserwatiewe state weens die federale aard van Amerika steeds konserwatiewe wette verseker. Gay-huwelike kon dus in een staat wettig wees en in ʼn aangrensende meer konserwatiewe staat onwettig. Op dieselfde wyse kon die rol van Christenskap in skole en ander openbare ruimtes volgens die aard van die staat bepaal word.

 

Die Hooggeregshof se bykans aktivistiese sentralisme het egter die afgelope tyd ʼn einde aan die voordele van federalisme vir Christene gebring. Christenskap word nou op ʼn nasionale vlak in die VSA deur polities-aangestelde regters uit die openbare lewe beslis.Die gerespekteerde konserwatiewe skrywer, Rod Dreher, skryf onlangs in die Time-tydskrif dat Amerikaners nou in ʼn kultureel post-Christelike land leef. Die Amerikaanse kultuur dus het nie meer ʼn Christelike fondament nie.

 

Die gay-saak is deur vyf regters teen vier beslis. Die hoofregter, John Roberts, en konserwatiewe regter, Samuel Alito, waarsku in hul minderheidsopinie dat tradisionaliste nou weerloos gelaat word. Die jagseisoen is oop op Christene wat enigsins hul waardes in die openbaar wil laat geld. Kerke wat weier om gays te trou en selfs die bloemiste wat weier om vir sulke troues die blomme te doen, kan nou vervolg word.

 

Volgens die twee regters sal enigiemand wat weier om aan die nuwe ortodoksie gehoor te gee in die openbaar aangevat, voor die hof gesleep en verneder word. Hulle gaan sover om te sê dat ʼn tyd van onderdrukking vir Christene in die VSA voorlê. Dreher waarsku dat die reg vir geloofsinstellings soos kerke om van belasting vrygestel te word, nou die volgende teiken van linkse aktiviste in die VSA sal wees. Die verwydering van enige geloofsimbole in die openbaar sal vinnig volg. Amerika is nou ʼn land waar Christenskap finaal tot die woonhuis en kerk teruggedryf is.

 

Volgens Dreher sal hierdie tendens, wat homself reeds die afgelope paar jaar ook in ander Westerse lande voltrek het, nie teengewerk word deur vir konserwatiewe politici te stem of om openbare protes aan te teken nie. Hy stel ʼn totaal nuwe aanslag vir Christene voor. Dreher identifiseer die moderne kultuur van individualisme as die kern van die probleem in Amerika. Die verval van die tradisionele huwelik is slegs een gevolg van die totale verval van die gemeenskap as die draer van tradisionele waardes.

 

Die nuwe aanslag wat Dreher voorstel, noem hy die Benedictus-opsie. Die filosoof, Alasdair MacIntyre het in 1982 in sy boek, After Virtue, vandag se kulturele verval met die kulturele verval van Antieke Rome vergelyk. Benedictus van Nursia, ʼn jong Christen het uit Rome getrek om in afsondering in ʼn woud oor die verknorsing van sy volk te gaan bid. ʼn Gemeenskap van tradisionele Christene het rondom hom ontstaan en regdeur die vroeë Middeleeue het sogenaamde Benediktus- gemeenskappe tot stand gekom wat die beskawing en Christelike waardes, in ʼn kultureel donker tyd lewendig gehou het.

 

MacIntyre het reeds in 1982 voorgestel dat mense wat volgens tradisionele waardes wil leef weer hierdie Benediksie opsie sal moet volg. Ons moet gemeenskappe skep waar tradisioneelgesinde Christene die meerderheid vorm en waar ons weer vanuit ons selfonderhoudende instellings beheer oor die openbare sfere om ons kan kry.

 

Dreher stel op grond hiervan voor dat Christene vir eers moet retireer en herorganiseer. Laat vir eers die huidige defensiewe pogings agterweë en werk daadwerklik aan die skep van nuwe Christengemeenskappe. Hoewel dit ʼn harde boodskap vir Amerikaners is - ʼn land wat steeds die grootste Christenbevolking in die wêreld het - kan hierdie voorstel vandag ook vir Afrikaners geld. Suid-Afrika is net soos Amerika nie meer ʼn Christelike land nie en dit sal vir Christene onhoudbaar raak om hul tradisionele waardes in Suid-Afrika te bly handhaaf.

 

Die opsies is min. Ons kan aanpas by die meerderheid of eerder Dreher en MacIntyre se raad volg en nuwe Christengemeenskappe begin skep waar ons weer die karakter van openbare ruimtes om ons, self kan bepaal. Die Kerk kan ʼn belangrike rol hierin speel.

 

 

TOP