Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

    

ʼn Vorige bydrae het gehandel oor oneerlikheid in ons geldstelsel. In hierdie bydrae fokus ons op die wyse waarop oneerlike geld, in tandem met reserwebanke, ʼn onmisbare rol speel om oorloë te finansier, wat weer lei tot die verstaatliking van gemeenskappe se identiteit.

  

Oneerlike geld om oorloë te finansier.

Enige staat het slegs drie maniere om oorlog te finansier:

1. deur belasting te hef;

2. deur skuld aan te gaan; en

3. deur geld te skep/druk (inflasie).

Belasting is die sigbaarste metode; daarna is dit finansiering deur die aangaan van skuld (wat private lenings uit die mark druk, rentekoerse laat styg en lei tot die dubbele las om die hoofsom sowel as rente terug te betaal).[1] Die skep/druk van geld (inflasie) verdoesel die koste van die oorlog vir die gemiddelde burger deurdat dit as stygende pryse manifesteer; die staat kan die aandag baie doeltreffend van sy eie oneerlikheid aflei deur die gebruik van prysregulering[2] en deur “uitbuitende besigheidsmense” as sondebokke te brandmerk.[3]

Hierdie derde metode van oorlogfinansiering (deur inflasie) is egter slegs moontlik indien die staat die monopolie het op geldvoorsiening.[4] As die staat se geld in kompetisie met ander geldeenhede binne sy eie grense verhandel, sal die gemiddelde burger baie vinnig ophou om dit te gebruik wanneer hy/sy agterkom dat die koopkrag daarvan aan die afneem is. Die eerste stap van enige staat is daarom om onder die dekmantel van “kwaliteitbeheer en stabiliteit” vir homself ʼn monopolie op geldvoorsiening te reserveer.

Tradisioneel sou die monarg inflasie toepas deur die goudinhoud van sy/haar land se geldeenheid skelmpies te verlaag. Deur bv. 5% goud uit die munt te haal en lood by te werk, kon die 5% gesteelde goud gebruik word om die oorlog te help finansier.

Tydens die Anglo-Amerikaanse oorlog van 1812 het die Amerikaanse federale regering die totstandkoming van etlike privaatbanke aangemoedig en daarna in 1814 ʼn opskorting van “betaling in eie munt” verklaar – met ander woorde banke was nie verplig om papiergeld vir goud of silwer terug te ruil nie. Onder die direksie van die Amerikaanse Kongres is banke vir twee en ʼn half jaar toegelaat om die hoeveelheid papiergeld in sirkulasie na hartelus te verhoog (ongeag die hoeveelheid goud en silwer in voorraad) om só vir die oorlog te help betaal; die koste daarvan is teen die koopkrag van die geld verhaal. So is die las onopvallend aan die burgery oorgedra. Inflasie het gedurende die oorlogsjare op 35% gestaan.[5]

Sedert ons wegbeweeg het van ʼn geldstelsel wat deur goud gerugsteun is,[6] is daar ook weggedoen met die grootste natuurlike teenwig wat inflasie beperk. State is nou by magte om meer geld te skep as op enige ander tyd in die geskiedenis.

 

Reserwebanke vir maksimale koöptering van die burgery

Reserwebanke is nie ʼn vereiste alvorens oorloë deur inflasie gefinansier kan word nie; al vereiste is die staat se monopolie op geldvoorsiening. Wat ʼn reserwebank doen, is om die privaat bankstelsel (oneerlike praktyke en al) binne ʼn kartel te orden waardeur geld aan die publiek en die staat uitgeleen word.

Die bankstelsel word hiermee ʼn primêre finansieringsagent vir die staat wat, in ruil vir sy dienste, teen insolvensie en finansiële mislukking gewaarborg word aangesien dit deur inflasie bevoordeel word.[7]

Die staatskas is nou by magte om staatskuld – in die vorm van staatseffekte – aan sy eie sentrale bank te verkoop in ruil vir nuutgeskepte geld. Aangesien dit nuwe geld is en die mark nog nie deur prysaanpassing voorsiening kon maak vir die addisionele geld in omloop nie, word die instansies wat die nuwe geld eerste ontvang (soos die staatskas en gewone kommersiële banke) bevoordeel, terwyl die burgery die las hiervan dra wanneer lewenskoste later verhoog.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog het die Amerikaanse Federale Reserwebank byvoorbeeld Liberty bonds (Amerikaanse staatseffekte wat spesifiek vir die befondsing van die oorlog bedoel was) oorwaardeer om geld vinniger as normaalweg beskikbaar te stel. Hiermee saam is ʼn spesiale goedkoper rentekoers van 3% (1% minder as die normale afslagkoers) gehef op lenings wat Liberty bonds as sekuriteit het. Die private sektor kon as’t ware nou staatseffekte koop en dit weer as sekuriteit aanbied om lenings teen ʼn buitengewoon lae rentekoers te bekom. Só is die koop van Liberty bonds, en daarmee saam befondsing van die oorlog, kunsmatig deur die Federale Reserwebank gestimuleer. Hierdie hele oefening het beteken dat die dollar tussen 1914 en 1920 die helfte van sy koopkrag verloor het.[8]

Soortgelyke verhale kan vertel word oor die Staatsbank van die Russiese Ryk en die Duitse sentrale bank se rol in die finansiering van hierdie twee lande gedurende die Eerste Wêreldoorlog.[9] Dit is daarom glad nie toevallig dat die eeu van reserwebanke ook met die eeu van “totale oorlog” saamval nie.

 

Oorlog en verstaatliking              

Verskeie historici het al vermeld dat dit juis in tye van oorlog is dat heelwat hervormings wat oorspronklik deur sosialiste gepropageer is, by kapitalistiese state inslag kry en deel van die gemeenskapstrukture gemaak word. Herverdeling van rykdom, progressiewe belasting, nasionalisering van industrieë asook die uitbreiding van die stemreg is byvoorbeeld óf voltrek óf bevorder onder oorlogstoestande.[10]

Met oorlogstoestande kry die staat ook die burgery se instemming om ʼn buitengewone hoeveelheid hulpbronne na die staatskas te kanaliseer om hulle te beskerm en die oorlog te wen. Wat die burgery egter meen slegs ʼn tydelike noodmaatreël is, is geneig om permanent te word. Dink in hierdie verband byvoorbeeld aan Suid-Afrika se inkomstebelasting wat aanvanklik in 1914 in werking gestel is om ook ons poging tot die Eerste Wêreldoorlog te help finansier en wat vandag steeds met ons is.[11]

Robert Nisbet argumenteer in sy belangrike werk, The Quest for Community, dat die mens inherent  ʼn gemeenskapswese is en sin vir sy bestaan binne die gemeenskap verwerklik. Hy meen verder dat dit juis te wyte is aan die individu se vervreemding van stabiele kragte en ankers soos gemeenskap, kultuur, geloof en tradisie, dat die vryswewende individu altyd hunker na ʼn tuiste waarbinne hy sekuriteit en sin vir sy bestaan kan kry. Dit is dan ironies genoeg juis in tye van oorlog, met die streng dissipline van die weermag en selfopoffering in diens van ʼn groter doel as die self, wat die vervreemde, vryswewende individu weer sin vir sy bestaan kry.

Duidelik waarneembare simptome hiervan is die toename in oorlogsimboliek, die vervaging van die lyn tussen burgerlike en militêre administrasie en die bekleding van algemene staatsaksies in militêre terme met sy toebehore.

Dit is aan die hand van hierdie soeke na plek en sin dat die staat die rol begin inneem wat tradisioneel deur die gemeenskap en gemeenskapsinstellings gespeel is. Die gevolg is dat die staat homself posisioneer as die uitsluitlike tuiste wat sin gee aan die vervreemde individu se bestaan. Terselfdertyd ondermyn die staat die tradisionele ankers van die individu se wêreldbeskouing (soos kerk, gesin, volk, kultuur en tradisie) en val dit aktief aan.[12]

 

 Gemeenskapsinstellings eerder as staatsinstellings

Terwyl van ons voorste Afrikaner-filosowe tans kreatief besin oor die Derde Afrikaner[13] se verhouding tot die staat en ʼn alternatiewe weg voorstel wat eerder van die gemeenskap (as die territoriale staat) uitgaan, is dit van kardinale belang dat ons onsself vergewis van die verskillende instrumente wat die staat tans inspan om homself te laat geld ten koste van die individu en die gemeenskap.[14]

Ons moet besef: Die remming van die staat se vermoë om sy onbeperkte ambisies te finansier is van groter belang vir die gemeenskap as enige wig en teenwig. Dit het meer waarde as al die grondwette wat nog ooit geformuleer is.[15] Verder moet ons ook besef dat iets nie skielik reg word as jyself in die magsposisie beland nie. Enige poging om rondom die gemeenskap (eerder as die staat) te organiseer, maar wat die gemeenskap met dieselfde uitvoerende instrumente as die staat toerus, loop die risiko om ook (geleidelik) soortgelyke despotiese, onverdraagsame kragte as dié van die territoriale staat (maar onder die kleure van ʼn ander vaandel) los te laat.

ʼn Eerlike geldstelsel, geskoei op gesonde beginsels en ʼn bankstelsel wat glad nie voorsiening maak vir reserwebanke nie, is daarom onmisbaar vir die daarstel van ʼn beginselvaste en veerkragtige gemeenskap wat homself kan handhaaf. Ons lees in die Bybel van vredemakers wat kinders van God genoem sal word en van diegene wat vervolg word ter wille van geregtigheid wat erfgename van die koninkryk van die hemele is.[16] Daarmee gaan Christene geredelik akkoord. Die vraag is nou of ons ook die ondersteuning van ’n eerlike geldstelsel en bankstelsel hiermee in verband kan bring.

 

 


[1] In Boek V van sy Wealth of Nations skryf Adam Smith dat oorloë in die algemeen spoediger tot ʼn einde sal kom en minder a.g.v. moedswilligheid sal ontstaan as dit deur belasting eerder as skuld befonds moet word. Belasting plaas onmiddellike druk op die produserende burgery, wat hulle vinnig vuisvoos laat sodat hulle spoedig druk uitoefen op die staat om die oorlog te beëindig.

[2] Die geskiedenis wys vir ons dat prysregulering meer kwaad as goed doen deurdat dit noodwendig tot tekorte lei. Aangesien die produsent, entrepreneur en/of besigheidsman se winsgrens deur regulering aansienlik verklein word, is daar nie meer vir hom ʼn natuurlike aansporing om daardie produk te produseer of daarin handel te dryf nie.

[3] Inflating War, Thomas DiLorenzo

[5] Op. cit. 3

[6] Die verbintenis tussen geld en goud is finaal geknip met die beëindiging van die Bretton Woods stelsel deur Richard Nixon op 15 Augustus 1971. Sedertdien is alle geldstelsels vryswewend en word dit nie meer deur goud geanker nie.

[7] War and Inflation, Llewellyn H. Rockwell Jr.

[8] Op. cit. 4 en Federal Reserve’s role during WWI, Phil Davies, Federal Reserve Bank of Minneapolis

[9] Op. cit. 7

[10] The quest for community, Robert Nisbet, p. 35

[11] Ons inkomstebelasting het sy ontstaan in die Inkomstebelastingwet, No. 28 van 1914

[12] Nisbet stel dit so: “The tragedy of contemporary war does no lie in its progressive destructive efficiency, its total mobilisation of human beings and ideas, or even in its weakening or brutalization of cultural standards. It lies rather in the fact that the stifling regimentation and bureaucraticcentralization of military organisation is becoming more and more the model of associative and leadership relationships in time of peace and in nonmilitary organizations.”

[14] Op  18 Junie 2015 het die bekende ekonoom, Dawie Roodt, in ’n gesprek op RSG se program Monitor, die basiese opsies van die staat, gegewe die skuldlas, kort en kragtig uiteengesit: 1. Stimuleer die ekonomie deur nie privaat inisiatiewe met wetgewing te inhibeer nie. 2. Verklein die staat se werkerskorps van 1, 3 miljoen mense en verklein ook die buitensporige salarisse. Eers hierna behoort belasting volgens Roodt hoegenaamd oorweeg te word.

[15] Op. cit. 7

[16] Matthéüs 5:9 en 10, 1953 Afrikaanse vertaling

TOP