Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die gay agenda

    

Of ons dit nou wil weet of nie, die gay-vraagstuk het ’n definiërende saak vir ons tyd geword. Om  jouself in hierdie debat te begeef, is ook om ’n mynveld van misverstand te betree. En tog mag ons nie terugdeins voor hierdie saak wat geweldige gevolge op soveel gebiede het nie. Ons mag dit veral nie doen wanneer kerklike blaaie openlik en skynbaar sonder teenstand ’n gay-agenda promoveer nie.

In die onlangse verlede het ons gewys op die duidelike trajek wat Die Kerkbode onder leiding  van meneer Neels Jackson hieroor inneem. Ons het ook gewys op verdagte woorde en assosiasies van die moderator van die NG Kerk, prof. Nelus Niemandt. Ander begaafde leiersfigure wat tot dusver ook in die verbygaan met bronverwysings as pro-gay benoem is in die NG Kerk, is prof. Piet Naudé en prof. Dirkie Smit. Hierdie persone het via openbare media reeds openlik of deur middel van assosiasie ten gunste van die saak na vore getree. Ons navorsing toon dat baie ander name van leiersfigure hierby gevoeg sou kon word.

Boonop kry ’n mens die indruk dat die NG Kerk se moderator die behoudende besluit van die Sinode van 2007 oor homseksualiteit kommunikatief wil transformeer. Prof. Niemandt skrywe asof ’n horisonverskuiwende besluit ten opsigte van homoseksualiteit in 2007 reeds geneem is. Dit is geensins die geval nie. ’n Belangrike onderskeid wat in die besluit van 2007 nog ingebou is, is die onderskeid tussen iemand wat ’n homoseksuele oriëntasie het en iemand wat dit uitleef. Hierdie onderskeid word deesdae in Die Kerkbode en deur die genoemde persone totaal in die wind geslaan. So onlangs soos 1 Mei word daar in Die Kerkbode positief gewys op die proefskrif van ene dr. Marietjie van Loggerenberg wat ’n studie gedoen het oor die skreiende effek van die selibaatbesluit van 2007 oor homoseksualiteit op gay-predikante. Hierdie proefskrif is nou een van die groot bewysstukke wat later vanjaar by die algemene sinode die NG Kerk moet aanvuur tot nuwe besluite. Daar is ook geweldig baie ander tekens van ’n aggressiewe poging wat  geloods word om by die algemene sinode in Oktober vanjaar heeltemal met die besluit van 2007 weg te doen. En voor in die koor hiermee is nie die lidmate nie, maar liberale leiers in die NG Kerk wat  skynbaar nou totaal die oorhand gekry het.

Die vraag is natuurlik: Maar wat gaan dit ons aan? Soos reeds in die verlede verduidelik, het dit wat in die NG Kerk hieroor gebeur, groot gevolge vir die hele kerklike klimaat in ons land. Ons is met bande van vriendskap, familie, kultuur en geskiedenis ten nouste verbind aan hierdie kerkverband. Indien die NG Kerk ’n nuwe onskriftuurlike besluit oor homoseksualiteit gaan neem, is die gevolge op soveel terreine verreikend.

Daar is eerstens die gevolg van kwynende broederskap. Wanneer die kerklike leiding ’n leefstyl sanksioneer wat vir eeue en eeue op grond van die Woord deur die Christendom as sonde beskou is, kan dit nie anders as dat kerklike bande afgesny moet word nie. Dit hou gevolge op sovele vlakke in, selfs vir die wyse waarop familie sou saamkuier. Die spanning wat gepaard gaan met die term, valse leraars, moet beslis nie uit die oog verloor word nie.

Daar is ook publieke gevolge wat ons reeds in lande oorsee duidelik waarneem. Die staat het reeds hierdie gay-leefstyl met regte tot selfs huweliksluiting gesanksioneer. Dit beteken dat enige openbare uitspraak hierteen die moontlikheid van vervolging oproep. Indien ’n groot kerkverband nou nog verder hierdie leefstyl goedpraat, gooi dit olie op die vuur van die staat om met die vervolging voort te gaan. Dit sluit ook in dat veral beroepe soos dié van spyseniers, bakkers, fotograwe en bloemiste die risiko tot vervolging loop indien hulle weens  gewetensbesware weier om deur hul dienste die viering van gay-huwelike te verheerlik.

Daar is ook etiese gevolge. Mense in sogenaamde gay-huwelike neem toenemend met hul ooglopende onvrugbaarheidstoestand die toevlug tot spermbanke en surrogaatmoederskap. Watter gevolge staar die samelewing nie in die gesig met hierdie nuwe definisie van familie en identiteit en tegnologiese owerspel nie. Dit gaan hier om niks anders nie as ’n herdefiniëring van die huwelik en van families en van menswees en van voortplanting.

Omdat dit dus uiteindelik om ’n totale nuwe wêreldorde gaan, kan dit nie anders as om ook politieke konsekwensies te hê nie. Robert Reilly wys daarop dat dit eintlik maar net die liberale lewensfilosofie van Jean-Jacques Rousseau is wat tot sy volle konsekwensies gevoer word. Dr. Peter Jones wys daarop dat dit direk in die New Age se hande speel en ’n beheptheid met eenheid (monisme) in die hand werk wat die skeppingsorde uitdaag. Hy beskou die gay-agenda as ’n beliggaamde dwaling en sakrament van monisme. Douglas Wilson sluit hierby aan en stel dit soos volg: “Hoe gouer ons verstaan dat elke wêreldbeskouing ’n seksuele uitdrukking het, en dat elke seksuele daad ’n gekose en beliggaamde wêreldbeskouing is, hoe nader is ons aan ’n terugkeer tot seksuele soberheid.”

Jones en Wilson kan so praat omdat hulle die gesag van die Bybel (sola scriptura) uitleef. Uiteindelik blyk dit dat die hele debat teruggevoer kan word hiernatoe. In die woorde van dr. Os Guiness: Handhaaf ons kerke die gesag van die Skrif (sola scriptura), of die gesag van die huidige kultuur (sola cultura)? Indien kerke blote termometers van die kultuur geword het, met die gepaardgaande buiging voor die media, wetgewing, films, sitkoms en tydskrifte, is dit te verstane dat hulle sal sag word vir die gay-agenda.

Niemand is so doof as hy of sy wat nie wil hoor nie, maar laat ons nogtans poog om bepaalde misverstande uit die weg te ruim. Ons wil graag duidelik onderskei tussen worstelende individue aan die een kant en die gay-agenda, wetgewing en sanksionering aan die ander kant. Die persoon wat worstel met ’n homoseksuele oriëntasie, maar dit nie wil uitleef nie, behoort groot simpatie en ondersteuning te ontvang. Ons kan egter nie met ons gewete wat gebonde is aan God se Woord, toegee aan die uitlewing of die sanksionering daarvan wat nou veral in die leiding van die NG Kerk dreigend is nie.

Ja, natuurlik is ons geneig tot baie soorte sonde en nie een daarvan behoort uitgesonder of goedgepraat te word nie, maar dit is nou juis die punt. Skielik wil sekere dele van die kerk nou ’n bepaalde sonde goedpraat, en dit is wat dit so gevaarlik maak (vgl. Rom. 1:32; Ps. 36:3). Ons het egter nou nog die geleentheid om saam met baie ander drukgroepe hiervoor ’n stokkie te steek voordat die besluite in Oktober vanjaar geneem gaan word. Doen daarom u deel om hierdie uitgawe te versprei. Wanneer die kerklike leiers in ons land onbeskaamd en toenemend pro-gay raak, het ons baie ver gevorder met iets wat die hele deformasie in ons land na nuwe laagtepunte neem.

Dit is skrikwekkend om daaraan te dink dat Afrikaners, ten spyte van al die ontbering in ons land, God se oordeel verder oor ons oproep, en dit deur middel van sogenaamde geestelike leiers. Dit raak al hoe meer ’n realiteit dat ons binnekort boetes gaan kry en selfs in tronke kan beland vanweë die gay-wetgewing. Hoeveel te meer as selfs kerklike leiers saam teen ons opstaan met die beskuldiging van “haatspraak” en “homofobie” en “fundamentalisme.” Hierdie uitgawe is bedoel om hierdie gif teen te werk met die etikette wat meer korrek is: Godvresend,  waarheidsoekend en verbondsgetrou. Daarom sal ons ferm te werk gaan met liberale kerkleiers wat in die naam van Christus God se toorn oor ons oproep.

 

TOP