Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Hoe Christenskap uit die openbare ruimte gedwing word

    

Christenleiers in die Amerikaanse staat Indiana het onlangs die geleentheid gehad om ’n groot stap ter bevestiging van Christene se regte in die VSA te neem. Hulle het egter uiteindelik onder druk geswig en’n vernederende nederlaag vir Christene regoor die wêreld gelei.

Sedert die 1960’s is Christenskap in Christelike Westerse lande stelselmatig uit die openbare na die private ruimte verskuif. Die uitfasering van godsdiens op skole en die openbare tentoonstelling van enige Christelike simbole, die wettiging van aborsies en meer onlangs die wettiging van huwelike tussen persone van dieselfde geslag, was alles deel van ’n proses om Christene se regte om hul geloof binne die openbare sfeer uit te oefen, te beperk.

Europa was meestal die voorloper. Die VSA het egter, ten spyte van sy status as ’n sterk Christelike en meer konserwatiewe land, ook hierdie stappe geneem. Behalwe dat Christene se vermoë ingeperk is om binne ’n gemeenskap waar hul waardes die botoon voer, te leef, is daar oor die afgelope paar jaar ook toenemend teen Christene opgetree wanneer hulle weens hul geloof diskriminerende stappe geneem het.

Hierdie stappe sluit alles in van ’n fotograaf wat weier om foto’s by die troue van twee homoseksuele persone te neem tot ’n gesondheidswerker wat nie aan n aborsieprosedure wil deelneem nie. Selfs skoolkinders met t-hemde wat ’n boodskap van geloof uitdra word huis toe gestuur om ander klere te gaan aantrek.

Indien hierdie soort van diskriminerende optrede in lande soos Saoedi-Arabië en Iran teen Christene gepleeg is, sou ’n mens dit dalk nog kon verstaan. Dit is egter in die hartland van tradisionele Christenskap waar daar daagliks teen Christene gediskrimineer word. Sogenaamde anti-diskriminasie wetgewing is in heelwat Westerse lande ingevoer. Die doel van die wetgewing is om Christene te verbied om op grond van hul geloof enige diskriminerende stappe te neem.

Terug na wat in Indiana gebeur het: Die wetgewer in dié Amerikaanse staat het ’n wesenlike meerderheid van konserwatiewe, Christelike verkose lede. Hierdie politici het daarom onlangs ’n wet aanvaar wat Christene en persone van ander gelowe die reg gee om dienste te weier in gevalle waar dit teen hul Christelike waardes indring. Nog twee state, Arkansas en Louisiana, het ook soortgelyke stappe geneem.

Dit het tot ’n grootskaalse aanslag teen hierdie politici gelui. Die homoseksuele uitvoerende hoof van Apple, Tim Cook, het beweer dat die wetgewing Amerika na ’n soort Middeleeuse tyd terugneem. Die liberale media het ’n veldtog teen die wetgewing en die individuele politici wat dit onderneem het, geloods. Op hulle hakke was groot maatskappye en korporatiewe belangegroepe. Die druk het uiteindelik so groot geraak dat die goewerneur van Indiana besluit het om die wetgewing te laat wysig. Ook die konserwatiewe Christen goewerneur van Arkansas het besluit om nie die voorgestelde wetgewing te teken nie.

Die VSA is steeds vandag die land in die wêreld met die grootste Christenbevolking. Sowat 250 miljoen Amerikaners beskryf hulself as Christene. Dit is meer as 70% van die land se bevolking. Die VSA het ’n ou gevestigde tradisie as ’n Christenland met skeiding tussen kerk en staat, maar nie op so ‘n wyse soos in Wes-Europa dat ’n sekulêre openbare lewe bykans afgedwing word nie.

Dit het egter die afgelope paar jaar begin verander. Veral onder leiding van liberale regters in die howe en met Barack Obama aan die hoof van die federale regering - self nie juis ’n praktiserende Christen nie - is die regte van Christene om oor die rol van geloof in openbare ruimtes te besluit, toenemend ingeperk. Kruise moes van openbare geboue verwyder word, openbare skole word geforseer om geloof op die kantlyn te skuif, en Christene word verplig om dienste tydens homoseksuele huwelike en ander geleenthede wat teen hul geloof indruis te lewer.

Dit is eintlik verstommend dat Christene in ’n land waar hulle in die oorgrote meerderheid is en waar daar ’n lang tradisie van Christelike praktyke in die openbaar is, nie daarin kon slaag om minstens in sommige konserwatiewe state om hul stempel af te druk nie.

Die probleem lê waarskynlik in die suksesvolle propaganda teen die sogenaamde ‘diskriminasie’ van waardes. Christene voel skynbaar sleg dat hul waardes, al glo hulle hoe sterk daarin, diskriminerend is. Dekades se aanslag teen Christelike waardes het dus Christene se vermoë om vir hul waardes op te staan ’n lelike knou gegee.

Dit is belangrik dat ons as Christene moet onderskei tussen ’n Christelike staat, iets waarvoor ons almal moet hoop, en ’n sekere soort teokrasie wat sekere waardes op alle burgers teen wil en dank wil afdwing. Die feit is egter dat ons vandag met ’n soort ateïstiese teokrasie sit. Die waardes van ateïste word op gemeenskappe wat deur Christene gedomineer word afgedwing en Christene uit vrees daarvoor om van diskriminasie beskuldig te word, deins terug en laat geloof tot die private sfeer beperk word. Enkele state in Oos- Europa, die Balkan en selfs Afrika en Suid-Amerika kan egter wel nog as baie nader aan die ideaal van ’n Christenland beskou word. Ons moet met wysheid daarvoor werk en bly hoop dat die vlam van ’n staat met ’n Christelike vertrekpunt lewendig bly en dat die Afrikaner dit ook weer in die toekoms kan ervaar.

 

TOP