Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Geweld in die Christendom en die Islam

    

Leopoldt Scholtz het in 'n onlangse kommentaar in die Rapport van 15 Maart vanjaar gestel dat beide die Christendom en die Islam in die verlede wandade gepleeg het en dat die huidige geweld van die Islamitiese fundamentaliste niks nuut is nie. Hy dig die huidige fundamentalistiese geweld toe aan die armoede waaronder die Moslem bevolkings tans verkeer. 

Scholtz maak twee foute. In die eerste plek sien hy geloof, op ’n tipies (post)modernistiese wyse, as ’n privaat-indiwiduele saak wat wesenlik geen invloed op die gemeenskap as geheel het nie. Islamitiese geweld het volgens hom, bloot ekonomiese oorsake.  In die tweede plek stel hy die Christendom en die Islam gelyk in die sin dat albei maar net geloofsisteme is.

Geloof vorm altyd die sentrale fokuspunt van enige samelewing, in die sin dat elke samelewing 'n eie telos, of 'n fokus of finale goed het waarop daardie samelewing as geheel gerig is. Hierdie telos of finale goed bind die samelewing as ’n samelewing saam en is ’n voorwaarde vir enige samelewing om hoegenaamd enigsins 'n samelewing te kan wees.  Hiervoor moet die dominante elemente in die samelewing dit as ’n telos of finale goed aanvaar, wat altyd ’n funksie van geloof is, sodat dit as ’n absolute noodwendigheid in die samelewing as geheel kan funksioneer. Sedert die modernisme van die 17de eeu word die staat die implementeerder van hierdie telos en word hierdie telos al hoe meer op ’n gelykwaardige wyse op alle burgers, ongeag van hulle eie besonderse samelewingstelos, afgedwing.

Ons kan hierdie telos of finale goed en die geloof wat dit vereis as ’n religie beskryf. Ons eie postmoderne samelewing is ’n uitstekende voorbeeld hiervan. Ten spyte van die feit dat die postmodernisme daarop aanspraak maak dat daar geen finale telos of hoogste goed is nie, is daar tog die sentrale strewe, nl. die absolute vryheid van die indiwidu om sy eie telos of hoogste goed self te kan bepaal, wat dan as ’n doelpunt dien.  In die praktyk vertaal hierdie paradoksale idee van dat daar geen einddoel is nie en dat die hoogste goed die absolute vryheid van die indiwidu  is om sy eie telos of hoogste goed te bepaal, in die idee dat die mens ’n blote verbruiker van goedere is en dat daar dus geen hindernis in die verspreiding en verbruik van enigiets moet wees nie. Ons sien hierdie feit duidelik in die sentrale rol wat groot winkelsentrums in ons samelewing speel.  Aan die een kant probeer die (post)modernisme om geloof tot die domein van die indiwidu se private lewe beperk en aan die ander kant funksioneer ons samelewing en staat net so sterk op geloof as enige ander samelewing en staat.

Hierdie telos of hoogste goed deursuur die totale samelewing en verleen aan elke samelewing sy besonderse karakter en vorm.  Ons sien dit in argitektuur, kleredrag, gewoontes en wetgewing van elke samelewing.  Die verskille tussen die verskillende lande in ’n bepaalde kulturele streek en tussen verskillende kulturele streke soos die Weste, Afrika en die Moslemlande, is ooglopend en voor die hand liggend.  Enige emigrasie van enige indiwidu of indiwidue na ’n ander land of kulturele streek gaan veral  vanweë hierdie verskille, altyd met 'n mindere of meerdere mate van vervreemding gepaard.

Die Moslemlande is òf Derdewêrelds òf op die grens van die derde wêreld en die eerste wêreld.  Baie van die mense emigreer na Europese lande om uit hulle eie omstandighede te kom, net om weer hierdie ou omstandighede in hulle nuwe lande te vestig. Die rede is totale vervreemding, vanweë ’n onvermoë om die omstandighede in die nuwe land te verstaan en in die nuwe omgewing behoorlik te kan funksioneer.  Die gevolg is dat hierdie immigrante-groepe hulle eie afgesonderde groepe vorm wat met hulle eie besonderse telos of hoogste goed afgegrens is van die res van die land waarin hulle hulself bevind. Groot dele van Frankryk het reeds, vanweë geweld en misdaad, uit die Franse staat geval as "geen toegang" areas vir die gewone Franse burgers.  Dit is dan ook in hierdie areas waar sharia wette onwettig gevestig word.  Alhoewel geweld en misdaad, vanweë die vervreemding van die groepe en nie vanweë armoede nie, inherent in hierdie tipe groepe is, bied die Koran ’n verdere impuls tot geweld.  Die Koran word in in die konteks van die groepe se eie gesitueerde vervreemding gelees en nie vanuit een of ander hoogdrawende historiese konteks, soos wat Scholtz dit doen nie.

Die liberale Weste kan hierdie probleem nie vanuit hulle eie postmodernisme verklaar nie. Die enigste verklaring wat gebied kan word is dat die hoogste doel van ’n samelewing absolute indiwiduele vryheid is, en dat die betrokke Westerse samelewing nog nie "oop" genoeg of "getransformeerd" genoeg is om aan vreemdelinge met hul eie vryhede plek te gee nie.  Die antwoord is dan om elke moontlike aspek van ’n voorskrif wat as "struikelblok" kan dien, verder te relativeer en om op die oppervlakte onbevooroordeeld teenoor enige vreemde telos, soos die Islam en die sharia wette wat daarmee gepaard gaan, te staan.  Die gevolg is dat die Weste sy eie eenheid as ’n samelewing en sy eie morele basis verder ondermyn.  Die verdere gevolg is ’n bose kringloop wat verdere impetus aan die doeleindes van enige vreemdeling gemeenskap verskaf. Dit vergroot uiteindelik net nog verder die kloof tussen die betrokke land en die vreemdeling-groepe. Hierdie situasie is die ideale voorbereiding vir enige Islamitiese fundamentalisme.

Volgens die skrywer Raymond Ibrahim se boek, Crucified Again, is die Islam 'n geloof waar mag die belangrikste waarde is.  Die Weste se verlies aan mag in die vorige Moslem-kolonies en die selfondermyning van die Weste vuur Islam-fundamentalisme aan. Die jihad was geen probleem tydens die koloniale tyd nie met Westerse oorheersing van die Moslem wêreld nie. Hierdie probleem het eers in die sewentiger jare begin toe die swakheid van die Weste sigbaar begin word het.

Scholtz maak ’n verdere groot fout deur die Christendom en die Islam op dieselfde vlak te plaas deur beide op dieselfde wyse aandadig te maak vir geweld.  Daar is ’n geweldige verskil geleë tussen die verhouding tussen die Kerk en die staat van die Christendom aan die een kant, en die verhouding tussen die moskee en die kalifaat van die Islam aan die ander kant. In geval van die Christendom was die Kerk en die staat nog altyd, hoewel met variasies, op ’n bepaalde wyse geskei. Vergelyk veral die wyse waarop Augustinus die ryk van God en die ryk van die wêreld onderskei het. Hierdie onderskeiding word op uiteenlopende wyses gehandhaaf, al is die betrokke staat en die regering ook hoe Christelik. Die staat is en was altyd nie voluit te vereenselwig met die kerk nie. 

Hierdie punt geld selfs t.o.v. die Kruistogte, toe die Kerk die staat se hulp gevra het om pelgrims en heiligdomme in die Heilige Land te help beskerm deur invalle in die betrokke gebiede wat deur die Islam oorwin is. Daar was natuurlik deur die eeue heen pogings waar beide die Kerk en die staat op mekaar se terreine oortree het, of waar die onderskeid nie altyd so duidelik was nie. Die punt is dat die gevalle van sogenaamde Christelike geweld wat Scholtz noem, nie aan die deur van die Kerk gelê kan word nie, maar wel aan die deur van die staat. Daar is, inteendeel, baie gevalle waar die Kerk vreemdelinge en slagoffers onder sy vlerk geneem het gedurende verkeerde optredes van die staat.  'n Goeie voorbeeld is die sogenaamde “kruistog” teen die Jode in Europa in die 11de eeu.  Die meeste van die kerke het aan die plaaslike Jode beskerming verleen, wat in baie gevalle die gevolg gehad het dat die betrokke kerke ook aangeval was. Dieselfde was ook die geval in die Tweede Wêreldoorlog toe die Jode weereens vervolg was.

Daar is in wese geen onderskeid tussen die moskee en die kalifaat nie. Oproepe tot geweldadige jihads was altyd vanuit die moskee geïnisieer. Mohammed was immers 'n struikrower, profeet, politikus en militêre leier, alles in een persoon.

Dit bring ons by ‘n belangrike verskil tussen die Christendom en Islam. In die Islam het evangelisasie tradisioneel deur die mag van die swaard plaas gevind.  In die Christendom vind evangelisasie plaas deur die Woord aan mense te bring wie se harte deur die Woord self oopgemaak word. In die eerste geval is die bloed van slagoffers die saad van die moskee.  In die tweede geval is die bloed van martelare die saad van die Kerk.  Hierdie onderskeid loop soos ’n goue draad dwarsdeur die geskiedenis.

 

TOP