Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Afrikaans en die universiteitswese

    

Die Raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) is tans besig om die toekomstige bedryfstruktuur van die universiteit te heroorweeg met duidelike seine wat deur die nuwe Visie-kanselier en die Voorsitter van die Raad gestuur word dat hulle transformasie as ‘n voldwonge feit beskou.

Daar word beplan om weg te doen met die universiteit se bestuursmodel wat aan elke kampus bestuursbevoegdhede en ’n unieke karakter gegun het terwyl toeganklikheid deur ‘n innoverende tolkdiens gewaarborg is. Dit moet nou vervang word met ’n vervelige unitêre bestuursmodel waar alle bevoegdhede by die sentrale bestuur gaan berus.

Hierdie ingrypende verandering is nie die gevolg van enige akademiese-, bestuurs- of finansiële mislukkings by die universiteit nie, maar eerder ’n poging om dit wat werk ‘reg te maak’. Dit laat die vraag oop of die werklike dryfveer agter die verandering nie lê in die ANC-regering se hekel aan die verskeidenheid wat deur die universiteit se bestuursmodel gekoester word nie.

Die verskoning wat die nuwe universiteitsbestuur soos ’n vyeblaar aanwend om hul sosiale ingenieurswese te verbloem is dat die NWU meer toeganklik moet word. Deur hierdie veranderinge sal hulle dan beter vaar in die internasionale (lees eintlik Engelse) ranglyste van universiteite.

Die mense wat met die hand gekies is om hierdie transformasieproses te verwesenlik voer aan dat uitnemende tersiêre onderrig die universiteit se vernaamste doelwit is, met dien verstande dat dit nie die universiteit se verantwoordelikheid is om Afrikaans in beskerming te neem nie. Hierdie argument skep egter ‘n valse teenstelling wat op foutiewe aannames berus.

Tussen die lyne van hierdie argument kan daar ‘n insinuasie gelees word dat die koestering van Afrikaans moontlik ’n negatiewe invloed op akademiese uitnemendheid kan hê. Die prestasies van Afrikaanse akademici in die bevordering van hul vakgebiede asook die prestasies van  hul voormalige studente in die wêreldekonomie spreek mos vanself oor die akademiese waarde van Afrikaans en hoef eintlik nie gedebatteer te word nie.

Eweneens is dit ‘n drogargument om aan te voer dat dit die NWU is wat vir Afrikaans ’n guns doen deur ‘n ruimte te bied waar Afrikaanse studente tuis voel. Die geskiedenis van die universiteit wys daarteenoor duidelik dat dit juis sy bestaan te danke het aan die steun wat dit ontvang het vanuit die Afrikaanse gemeenskap. Die universiteit is gefinansier met die klasgelde, skenkings, bemakings en belastingbydraes van die Afrikaanse gemeenskap. Daarmee saam is dit die diensbare toewyding van die akademici en bestuurslui wat die Afrikaanse gemeenskap opgelewer het dit wat die universiteit gebring het tot waar dit vandag is. Dit is verder grootliks die verengelsingsbeleid van ander voormalige Afrikaanse universiteite wat die perdekrag was agter die ongekende groei wat die NWU se Potchefstroom-kampus die afgelope anderhalf dekade ervaar het.

Indien die NWU die status van Afrikaans op sy Potchefstroom-kampus afwater, sal hy vinnig agterkom dat hy daarmee die aansporing wegneem vir Afrikaanse ouers om die ekstra onkostes aan te gaan om hul kinders by ander universiteite te laat verbyry om by die NWU in te skryf. Daar is eenvoudig baie meer aantreklike, bekostigbare en toeganklike Engelse universiteite in die wêreld as die Tlokwe-kampus van die NWU.

Dit is verstommend dat die sake- en beleggersgemeenskap van Potchefstroom, wat soveel inkomste genereer uit die besteding van inwonende studente, hierdie voorgestelde veranderinge so gelate aanvaar, want hulle staan waarskynlik voor in die ry om eerste daaruit te verloor.

Wanneer die bydraes wat ’n tradisionele voedingsgemeenskap aan ’n duur en komplekse instelling soos ’n universiteit maak afgesny word, kan dit nie anders nie as om ’n negatiewe impak te hê op die akademiese prestasie van daardie universiteit. Hierdie eenvoudige beginsel geld ongeag taal.

Dit is ook duidelik dat die argument dat Afrikaans mense uitsluit nie water dra nie. Waarom is die regering dan nie eweneens bekommerd oor die uitsluitende effek wat sy Engelse beleid het op die miljoene Zulu, Xhosa, Sotho, Pedi en ander taalgebruikers wat die meerderheid van die land vorm nie?

Sou ons die groter prentjie in oënskou neem van die ANC-regering wat alles in hul mag doen om Afrikaans en die ander inheemse tale te onderdruk ten behoewe van ’n imperialistiese verengelsingsbeleid, is dit duidelik dat hulle nie uit die lesse van die res van die wêreld leer nie. Langtermyn stabiliteit en die volle ontsluiting van menslike potensiaal in ’n multikulturele land vereis dat die onderlinge verskille tussen mense en gemeenskappe gerespekteer moet word om samewerking ten gunste van die groter geheel te bevorder.

Afrikaners is nie afhanklik van die regering om ons geestelike bates te beskerm nie. Ons het voorheen reeds, sonder hulp van buite, Afrikaans uit die kombuis uit gelei en ons beskik vandag oor groter getalle, ervaring, vermoëns, middele en internasionale netwerke wat ons in ’n sterker posisie as ooit plaas om na ons eie om te sien.

Die stemme ten gunste van ’n volskaalse private Afrikaanse universiteit begin soos ’n koor saamsing en dit is duidelik uit internasionale ervaring dat slegs private instellings oor die akademiese vryheid beskik om uitnemendheid oor die langtermyn volhoubaar te maak. Daardie internasionale ranglyste waaroor die NWU se raad so opgewonde raak, word gedomineer deur private instellings terwyl publieke instellings sukkel om hond-haaraf te maak. Dit is eenvoudig omdat private instellings nie soveel hulpbronne op die nuttelose brandstapel hoef te plaas om hul politieke meesters se dikwels onbeholpe giere te vermaak nie.

Tog is dit Suid-Afrika se armstes wat oor die korttermyn gaan boet vir die ANC se misplaaste aanvalle op Afrikaanse instellings. Hoe meer energie die Afrikaanse gemeenskap moet aanwend om ons bestaande instellings wat deur die ANC geannekseer word te vervang, hoe minder tyd en hulpbronne het ons beskikbaar om die land se armes op te hef, al wil ons ook hoe graag.

Daar is egter altyd ‘n reënboog aan die einde van ’n storm. Wanneer onafhanklike Afrikaanse instellings goed op dreef kom sal hul uitsette nie alleen tot voordeel van die Afrikaanse gemeenskap strek nie. Dit sal tot voordeel wees van ieder en elk wat met ’n gesonde en veerkragtige Afrikaanse gemeenskap in aanraking kom.

 

TOP