Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Gesprek oor die NG Kerk

Ons het onlangs ’n woord van vermaning gerig oor tendense in die NG Kerk wat al hoe sterker word. In die aantoon van die openlike promovering van gay-verbintenisse wat in lyfblaaie van die NG Kerk geduld word, het ons onder meer gewys op bepaalde klanke uit die pen van die moderator, prof. Nelus Niemandt. Intussen is ’n paar vermoedens hieroor by die Woordfees wat onlangs in Stellenbosch plaasgevind het, bevestig.

    

 

Gay-huwelike: Die “voorreg” om betrokke te wees

By die aangehegte skakel kan elkeen wat wil, luister na die openbare gesprek by die Woordfees wat gehandel het oor die volgende tema: “Wie is die NG Kerk? Oor bastions en onsekerheid.” Die gesprek het in besonder ingegaan op die identiteit van die NG Kerk. Vir hierdie gesprek is daar drie persone na die verhoog genooi: Jean Oosthuizen, Nelus Niemandt, en Fourie Rossouw. Laasgenoemde twee persone is spesiaal uitgenooi vir die gesprek. Uit die gesprek het dit duidelik geword dat Niemandt en Rossouw noue bande met mekaar het. Rossouw het sy skripsie onder Niemandt gedoen oor die tema van die NG Kerk as laaste bastion van apartheid. Dit is dan ook insiggewend om die titel hiervan te vergelyk met die tema van die gesprek en dit laat ’n mens wonder oor hoe die tema gekies is vir die gesprek.

Hoe dit ook al sy, die noue verband tussen Niemandt en Rossouw het ook verdere gestaltes. Niemandt is ’n deeltydse leraar in die NG gemeente Weltevreden waar Rossouw die voltydse leraar is. Wat hierdie verband verder insiggewend maak, is dat Rossouw op ’n bepaalde punt, ongeveer by die 23 minute merk, daarvan melding maak dat hulle gemeente, die een dus waarvan hy en Niemandt deel is, in die onlangse verlede, volgens hom, “die voorreg” gehad het om by twee gay-huwelike betrokke te wees. Die gemeente was die afgelope tyd, aldus Rossouw, selfs betrokke by die babatjie van ’n gay paartjie wat gedoop is. Rossouw sien dit as ’n natuurlike uitvloeisel van die kerk wat diversiteit omhels. Niemandt het nie direk hieroor kommentaar gelewer nie, maar sy genoemde bande met Rossouw en die gemeente spreek boekdele. Ernstige vrae oor die kerkregtelike implikasies sou ook gevra kon word, veral met betrekking tot die moderator van ’n kerkverband. By ongeveer die 36 minute merk van die gesprek het Niemandt wel gestel dat die kwessie van homoseksualiteit vir sommige mense in hulle reis nog ’n “vreeslike issue” is. Ander is egter volgens Niemandt op ’n ander reis waar ander dinge belangriker is. Die metafoor van reis is ’n insiggewende beeld wat herhaaldelik in die gesprek gebruik is en duidelik ’n bepaalde diens verrig in die gonswoordeskat van sekere kringe van die NG Kerk.

 

Metafoor, o metafoor

So gepraat van metafore, dit wil sê die gebruik van beeldende taal: Hierdie kosbare aspek van ons taal word skynbaar voos en bloots gery in groot dele van die NG Kerk. Die gebruik van metafore is inderdaad ’n kragtige middel om gesprekke op te helder en om beter kommunikasie te bewerkstellig. Dit raak egter ’n probleem wanneer beeldspraak ten koste van ander aspekte van redevoering gebruik word. ’n Mens kry vandag ongelukkig die indruk dat daar meer moeite gemaak word om metafore te verklaar en te eksegetiseer as wat die Bybel self uitgelê word. Dit is juis hier waar ’n probleem ontstaan, want in plaas daarvan dat ’n beeld illustratief gebruik word om die Skrif beter te begryp, kan  die omgekeerde begin gebeur: Die Bybel word bloot ’n instrument om jou eie metafore te verklaar. En so, met kleurvolle beeldspraak en al kan sola scriptura ingeruil word vir sola metaphora. Daar moet ook ’n rooi lig aangaan wanneer die Skrif se bekende en geliefde, en ons wil selfs byvoeg, geïnspireerde metafore, plek moet maak vir al ons nuwe beelde. Hiermee word geensins gestel dat net Skrif-metafore aanvaarbaar is nie. Net maar dat ons moet waak dat die metaforiese stert nie later die Skriftuurlike hond swaai nie. Prof. Niemandt het self in hierdie slaggat getrap toe hy na die prieële in die wynbou as beeld verwys het. Hy het gestel dat belydenisse en dogmas soos die strukture is wat moet help om die druiwe-ranke op te lei, maar nooit die vrug self kan vervang nie. Christus is die druiwetros, Aldus Niemandt, en ons is die lote en dit moet die belangrikste bly. Dit mag wees dat Niemandt bloot, soos dit ook met enige een van ons kan gebeur, in die hitte van die oomblik op die verhoog in sy gedagtes gegly het toe hy druiwetros en wynstok (die Skriftuurlike metafoor van Jn. 15) met mekaar verwar het. Tog moet ons daarop wys dat dit makliker gebeur as ons nie bewustelik strewe om ons verbeeldingryke vorming van metafore deur die Skrif te laat begelei nie.

 

Wysbegerig beskou

Wat metafore betref, het die filosowe ons darem ook daarop gewys dat jou beeldspraak dalk meer oor jou kan sê as wat jy dink: Wys my jou metafore en ek sal jou sê wie jy is. Die rede is dat metafore van bepaalde velde afkomstig is. Dit suggereer ’n bepaalde domein, sê die wysbegerige mense. Die groot metafoor wat Niemandt gebruik om sin te maak van die kerklike situasie, is die van ’n woud of bos. Hiervolgens is daar verskeie dinge aan die gang in ons kerklike ekosisteem wat net eenvoudig nie op eenduidige wyse aan die orde gestel kan word nie: Sommige bome gaan dood, ander word vervang met nuwe plante en ander sê hulle sal staan en aanhou groei tot hulle doodgaan. So is elke kerklike situasie volgens Niemandt ook anders. Niemandt se kollega, Fourie Rossouw, het later hierdie beeld dankbaar uitgebrei om te sê dat fynbos daarvoor bekend is dat dit net kan aangaan as dit aanhou afsterf om sodoende plek te maak vir nuwe lewe.

Wat ons moet raaksien is dat eko-metafore tans oral baie gewild is om diversiteit en inklusiwiteit te propageer. Dit is dus geensins verbasend om dit ook hier aan te tref nie. Dit mag dalk bepaalde opheldering bring, maar dan moet ons ook spitwerk doen en die grense van ons nuutgevonde mode-denke erken. Dit moet byvoorbeeld aangemerk word dat die bekende Leonard Sweet, iemand wat Niemandt graag aanhaal en wat ook dikwels oorgenooi word na Suid-Afrika, juis hierdie eko-metafoor in diepte uitgewerk het in ’n poging om sy begrip van die verband tussen Christus en kultuur, in reaksie op Reinhold Niebuhr se bekende modelle, te verduidelik. Sweet trek bepaalde kwadrante op - die van tuin, park, dal, en weiland - om daarvandaan te stel dat sekere omgewings sekere groei en situasies stimuleer. Sy punt, ook die van sy bemarkers, Niemandt en Rossouw, is dat hierdie diverse groei van die kerk in verskillende omgewings deur bepaalde strukture van die kerk verhinder word. Die kerk is minder soos ’n franchise en meer soos ’n eko-sisteem en strukture wat dit verhinder, moet laat vaar word. Dit klink op die oor af nogal waar, maar laat ons verder ondersoek instel na al die konsekwensies.

 

Eko-standaarde

Die eko-model is stimulerend, maar tog moet ’n paar basiese trekke en aannames in Sweet se poging tot ’n kreatiewe matriks uitgewys word. Op voetspoor van die gereformeerde teoloog, dr. Michael Horton, is dit nodig om daarop te wys dat ekologiese beeldbeskrywings net té onskuldig en té neutraal aandoen. Horton meen dat argitekbeelde, hoewel minder neutraal, getrouer aan die werklikheid is: “Wat as die situasie minder soos verskillende ekologieë is, waar alle soorte noodsaaklik is, ten spyte van persoonlike voorkeure, en meer soos byvoorbeeld argitektoniese omgewings? Hoewel my weergawe oënskynlik nie so neutraal as Sweet s’n is nie, bied dit my die geleentheid om twee mededingende benaderings op die tafel te plaas.”

Dr. Horton se bedoeling is duidelik. Sy beeld is minder inklusief en kan selfs die eko-beeld onder bepaalde omstandighede weerspreek. Dit is hier wat ons dan bepaalde vrae moet begin vra: Watter standaard word gebruik om te bepaal watter metafore voorkeur geniet? Watter metafore verrig die sleutelrolle in jou interpretasie van die werklikheid, en waarom? Sweet en Niemandt en Rossouw se gebruik van metafore uit die ekologiese domein is treffend, maar vertoon ook die tipiese DNA van postmoderne benaderings. Maar waarom sou die ekologie-metafoor nie ook maar met agterdog bejeën kon word nie? Waarom sou dit beter as Horton se argitektoniese metafoor wees? Dit bring ons weer terug by die vraag wat ons telkemale behoort te vra: Wat is die maatstawwe, die motiewe, en die mikpunte? Doen ons dit nie, is ons eenvoudig naïef oor die groter prentjie wat hier op die spel is.

Die vraag na maatstawwe en die groter prentjie is belangrike vrae, want in Niemandt en Rossouw se bos is daar soveel ruimte vir diversiteit dat selfs gay-huwelike nie net verdra word nie, maar skynbaar omhels word. By al die mooi van hulle bosbeeld moet dan gevra word of hierdie persone nie, Bybels gesproke, bietjie bossies begin raak nie. Die rede is dat dit duidelik raak dat hierdie oënskynlike mooi beeld ander maatstawwe in hom omdra as dit waaraan die klassieke Christendom hulself gebonde geag het.

 

Skrifspanning

Hierdie indruk word versterk wanneer Niemandt in die gesprek sy Skrifbeskouing aan die orde stel. Dit stem grootliks ooreen met dr. Gustaf Claassen, moderator van die Noordelike sinode van die NG Kerk se weergawe wat onlangs in die Kerkbode gegee is en waarop ons gereageer het. Ook prof Niemandt werk met die benadering van verskillende tradisies en Godsbeelde in die Bybel. Implisiet in hierdie voorstelling is alreeds die hantering van die Bybel as woorde óór God, eerder as Woord ván God. In hierdie benadering lyk die Pentateug se Godsbeeld dan anders as die van die Psalms. Die gevolgtrekking is skynbaar saam met Claassen dat ons verskillende opinies langs mekaar het en dat jy juis moet waak om net een deel wat jou pas in die mond van almal te plaas. Die feit is egter dat die hele Skrif krities is oor intieme omgang van dieselfde geslag met mekaar en dit was ook nog altyd die oortuiging van die ortodokse Christendom. Daar moet regtig vreemde postmoderne voetwerk gedoen word om hierdie oortuiging in die wind te slaan. Die benadering van woorde óór God met die opvolgende, deftige Godsbeeld-retoriek, bied egter so ’n geleentheid. Nou kan elkeen die metafore kies wat goed is in sy of haar eie oë. Dit kan egter net gebeur indien hierdie hele benadering of naïef of skynheilig rondswem in die filsofiese waters van Immanuel Kant (wat geen Immanuel is nie) waar die mens self sy of haar werklikheid skep.

In die lig hiervan, verbaas dit daarom ook nie dat ons in die gesprek hoor dat Fourie Rossouw ’n bepaalde spanning beleef as hy hoor dat mense die woord Skrifgesag gebruik nie. Rossouw is van mening dat Skrifgesag getemper moet word met twee ander konsepte: Skrifgerig en Skrifgenooi. Die rede is dat Rossouw reken dat ons andersins maklik sit met ’n situasie waar ’n antieke teks van twee- en drieduisend jaar gelede bloot vir vandag se konteks “gecopy and paste” word. Hierin mis hy die werking van die Gees in die liggaam van Christus in die hede. Hy pleit daarom dat ons dit eerder so moet sien dat die verhoogde Christus in ons midde is en deur sy Gees aan die liggaam van Christus koördinate verskaf van hoe om hierdie biblioteek van die Woord op so ’n wyse te gebruik dat ons dinamies in ons omstandighede kan optree. Hiermee bring hy egter saam met Niemandt, wat hierdie punt beaam het, ’n valse teenstelling tussen Woord en Heilige Gees aan wat uiters gevaarlik is. Dit is sekerlik een van die grootste geskilpunte tussen liberales met diegene wat in die konserwatiewe tradisie staan.

Natuurlik moet ons ruimte gee vir die Gees wat ook in die hede werksaam is. Maar waarom sou die Gees nou direk teenoorgestelde dinge aan ons sê as wat die Heilige Gees by monde van die Bybelskrywers alreeds gesê het? Lei die Gees ons nie juis so, dat ons nooit die anker-gehalte van die Bybel wil prysgee nie? Die werking van die Gees kan in Rossouw se voorgestelde benadering baie maklik subtiel en selfs onbewus ingeruil word vir die werking van die gees van die tyd wat die eintlike toon aangee wanneer die Skrif op losse skroewe gestel word. Met hulle benadering toon Niemandt en Rossouw maar net dat hulle uitblink as leerlinge in die Skrifkritiese tradisie van teoloë soos Barth en Moltmann. In die teologie van Moltmann, byvoorbeeld, word die werk van die Gees op so ’n wyse verhef dat die bande met die werk van die Gees in die Skeppingordeninge totaal agtergelaat word. Erger nog, volgens Moltmann, moet die natuurlike ordes “in die krag van die Gees” bestry en oorwin word sodat ons oop kan wees vir die “nuwe” dinge wat God vandag doen. Nie net word dus van gelowiges verwag om saam die knieg voor die Skrifkritiek te buig nie, ook word geëis om God se natuurwet te verontagsaam, en om die reformatoriese insig in die verband tussen skepping en herskepping los te laat. In die reformatoriese benadering behoort alle “nuwe” tog Skriftuurlik in verhouding te staan met die alreeds gegewe. Trouens, die alreeds gegewe is maatstaf vir aanvaarbaarheid van die “nuwe”.

 

Tyd vir nugterheid en stuitbaarheid

Vir diegene onder ons wat nie al hierdie beredenerings wil volg nie, hoef ons egter net te sê: Kyk na die vrug van Niemandt en Rossouw se beskouinge. Die gay-debat is dié definiërende saak van ons tyd. Diegene wat daaroor twyfel, kan vir ’n begin net maar gaan kyk na hoe dr. Michael Hanby die konsekwensies uitspel, sou hierdie nuwe lewensbeskouing inslag kry onder mense. Diegene wat in langer trajekte belangstel en wonder hoe ons by hierdie punt gekom het, kan gerus die werk van  Robert Reilly aanskaf met die titel, Making Gay Okay: How Rationalizing Homosexual Behavior is Changing Everything. Ons beoog om in die nabye toekoms indringender op hierdie saak in te gaan. Ons doen ook weereens ’n beroep op almal wat begin twyfel, om net weer ernstig te besin oor die vyf vrae wat Kevin DeYoung hieroor stel. Die spoed waarteen die implikasies op ons kerke afkom het duidelik nie meer remme nie. Dit raak ook al hoe duideliker dat daar ’n baie sterk verband is tussen die aanvaarding van die belydenis van Belhar en die aanvaarding van gay-huwelike. Daar is ’n rede daarvoor, maar niemand is so doof as hy of sy wat nie wil hoor nie.

Die saak van remme bring ons ook ten slotte by die saak van sogenaamde onstuitbaarheid. Diegene wat op die glybaan van die liberale progressiewes beland het, het die gewoonte om altyd vir almal te wil wysmaak dat dinge “onomkeerbaar” in ’n bepaalde rigting op pad is. Ons eerste vraag hierop is: waarnatoe? Dit wil ons ook graag vra aan diegene in die kerk wat deesdae so maklik die metafoor van reis gebruik om oor beskouinge te praat. Dit is tog afskuwelik as die sogenaamd onomkeerbare pad of reis op ’n afgrond afstuur. Die geskiedenis is ook vol van bewyse hoe sogenaamde onomkeerbaarheid deur God in sy genade omgekeer is. Prof. Niemandt maak gereeld van hierdie denkstyl van onomkeerbaarheid met betrekking tot Belhar gebruik. Aan die einde van die genoemde gesprek stel hy dat ’n bepaalde streeksinode wat met twee-derdes teen die belydenis van Belhar gekies het, moet verstaan dat dit nog glad nie beteken dat dit van die baan is nie. Belydenisvorming kan volgens hom, soos met die belydenis van Dordt, geslagte neem (’n uiters aanvegbare vergelyking). Prof. Niemandt is duidelik van mening dat ons in die belydenis van Belhar met so ’n onstuitbare dokument te make het. Hy is ook opgewonde dat die derde van ’n bepaalde sinode wat daarvoor is, passievol daarvoor is en hy spreek selfs sy verbasing daaroor uit. Hieroor het mnr. Carel Boshoff, hoof van die Orania-beweging, onlangs gereageer en gestel dat “Niemandt nogeens probeer om die werklikheid kommunikatief te transformeer; ’n mens kan dit ook propaganda noem.” Boshoff is van mening dat lidmate, gemeentes en sinodes se oordeel oor die voorgestelde wysiging ’n werklikheid is wat nie weggekommunikeer kan word nie. Die werklikheid het ’n manier om terug te skop, al maak jy ook die onstuitbaarheidspap hoe dink aan. Jy kan selfs die teendeel bewerk.

 

Die pad vorentoe

Dit is by hierdie punt wat ’n mens wonder of ons die saak nie net heeltemal moet laat vaar nie, aangesien heelwat leiers wat aanhangers is van die Belhar-dokument, so ywerig te werk gaan om die teendeel by lidmate te bewerk. Aan die ander kant sou dit liefdeloos wees om nie alarm te maak as die gevaar gesien word nie. Na sy teleurstelling oor die besluit by die Vrystaat-sindode het Niemandt dan ook alternatiewe weë gesuggereer. Dit is duidelik dat hy en sy medestanders nie hierdie saak gaan los nie. By die Woordfees het hy dan ook verklaar dat hy die saak vir die belydenis van Belhar met sy hele wese ondersteun. Hierdie ruimte kan dus maar dopgehou word, selfs al is die saak tydelik van die baan. Die bekommernis bestaan egter dat daar gepoog sal word om die geskiedenis te herhaal, ’n beskrywing waarvan Moltmanne (Moltmaniakke?) en Post-Barthiane natuurlik nie baie hou nie. Die gevaar is dat die NG Kerk degradeer tot ’n demokratiese kultuurorganisasie, indien dit nie reeds so is nie, waar groepe naas mekaar wil bestaan, met strydige opvattings, onder die banier van eenheid, asof dit geen konsekwensie by die Koning van die Kerk inhou nie. In hierdie geval beteken dit dan Belhar-belydendes, met al die konsekwensies daaraan verbonde, in eie groepe saam en tog teenoor Belhar nie-belydendes staan. So ’n weg het natuurlik, behalwe vir die vroom retoriek oor eenheid, ook die voordeel van finansies. Die het ook die voortslepende gevolg van die suurdeeg-effek. Dit is daarom belangrik om weereens kennis te neem van Dr. Gary North se werk, Crossed Fingers: How the Liberals Captured the Presbyterian Church. Dit is ook belangrik om te gaan kers opsteek oor hoe die Southern Baptists in die VSA, asook die Gereformeerde Bondsgemeentes in Nederland, hierdie proses by hulle omgekeer het. Die vraag is of daar genoeg energie en bekwaamheid in die NG Kerk is om hierdie stryd effektief te voer. Dit lyk wel tans of die meerderheid lidmate in die NG Kerk nog Skriftuurlik wil dink en dit is belangrik om hierdie lidmate te ondersteun en selfs te help beskerm teen die pienk agenda wat al hoe hoër opskuif op die sakelys van die NG-Kerk se makro-strukture en haar lyfblad. Twee dinge moet egter vir Skrifgelowiges, binne en buite die NG Kerk, duidelik uitstaan.

Die eerste is dat ons die passie en verbeeldingryke waagmoed van diegene wat op die liberale baan hardloop, moet raaksien en erken. Ons moet ook besef dat blote tradisionalisme nie effektief teen hierdie opponent gaan wees nie. Dit kan hoogstens aan sekere lidmate rus gee wat die status quo waaraan hul gewoond is bo die gees van die Reformasie stel. Daar is bowendien ook die altydteenwoordige gevaar van opportuniste wat hierdie ruimtes kan betree en uitblink in die kuns om konserwatiewes met behoudende woorde te streel. Biddende en verbeeldingryke waagmoed van die regte soort is al wat eintlik effektief sal wees vir hulle wat nie net defensief nie, maar ook offensief die apologetiese swaard opneem. Ons sal eenvoudig moet streef om die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is in vars en gepaste idiome vir ons tyd aan te bied. Hiervoor het jy die Skrif in die regterhand en die verbeeldingstenk van die klassieke Christendom in die linkerhand nodig. Om sommer net een voorbeeld te noem: Charles Spurgeon, ‘n Calvinistiese Baptis, was ’n lopende metafoor-fabriek. Laat ons put uit hierdie verbeelding wat agter die Skrif aan beeldryk gepraat en gepreek het. Laat ons ook die groot begeleiers soos Calvyn en Augustinus nie vergeet nie. En ’n bietjie Chesterton en Flannery O’ Connor sal niemand skade aandoen nie. Inteendeel, dit is meer as die moeite werd om by hierdie behoudende en begaafde mense te gaan kers opsteek oor hoe effektiewe metafore die verbeelding sowel as die rede en die goeie oordeel by mekaar hou en op meerduidige wyse die bewussyn van die lewende God in ons midde wakker hou. Laat ons gerus maar weer diep teue by hierdie bronne gaan drink wat geput het uit die klassieke tradisie.

Suid-Afrika, en die wêreld, het verder nodig om die alternatiewe te sien. Iets kan nie met niks beveg word nie. Gees- en Woordvervulde manne en vroue is nodig – in ons metafore en in ons praktyk. Dit het geen effek om bloot krities te wees teenoor liberales nie. Die evangelie het eenvoudig baie sosiale implikasies en die mantel het op ons generasie geval om die alternatief aan te bied van hoe God se wet en evangelie toegepas word op allerhande publieke sake. Ons sal eenvoudig die ruimtes van politiek en ekonomie voortreflik met ’n egte alternatief moet bewandel. Die gemeenskapsdenke wat vandag wêreldwyd herleef behoort ons baie in hierdie prosesse te help. Geloof en teologie loop eenvoudig altyd by ons hande en voete uit. Daar is inderdaad niks so prakties soos ’n goeie teorie nie, maar daar is ook niks soos die praktyk wat jou teorie openbaar nie. Wie nee sê vir social gospel en kerklik gesanksioneerde homoseks, het eweneens nodig om ’n evangelie-hart en alternatiewe rigtingwysers te hê vir haweloses en diegene wat die natuurlike geslagsdrif ontbeer.

 

TOP