Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die koers van die NG Kerk

Die NG Kerk is ’n belangrike  barometer van wat in die geestesklimaat van die Afrikaner aan die gang is. Tans is daar baie tekens wat op gure onweer in die nabye toekoms dui.

    

Wanneer ’n mens praat van ’n ander kerkverband, moet jy versigtig wees. Die balk in eie oog bly altyd iets waaraan ons Here ons herinner (Mt. 7:3). Alles in ag geneem, herinner dr. Johannes Calvyn ons in sy Institusie (Inst. IV.1. 13) daaraan dat ons, hand in eie boesem, ook in kerke met baie onsuiwerhede, steeds met kerke van Christus en met mede-broeders en susters te make het. Tog word ons ook opgeroep om die wat binne is, te beoordeel (1 Kor. 5:9-13). Wat skreiend is, mag nie verswyg word nie, al moet dit altyd in die gesindheid van sagmoedigheid en selfondersoek geskied (1 Kor. 10:12; Gal. 6:1). Bewus van al hierdie uitdagings, kan ernstige vrae en selfs ’n woord van vermaning nie uitbly nie. Hierdie indruk vloei voort uit die Kerkbode wat op 23 Januarie 2015 verskyn het.

Maak jy die blad oop en begin willekeurig op bladsy 12 te lees dat die behoudende ds. Theo Danzfuss darem uiteindelik ook ’n spreukbeurt kry in die Belhar-debat, kry jy aanvanklik moed. Maar, wie van tydmeters gebruik maak, besef ook dat hierdie uiteindelike plasing in ’n sekere sin mosterd na die maal van die Belhar propaganda is. Word dit geplaas omdat dit darem net beter lyk as die stem van die klassieke opvatting ook iewers ’n geleentheid kry? Hier verdien Maroela-media wat die aanvanklike eensydigheid van beriggewing in die Kerkbode uitgeken en aan die kaak gestel het, werklik ’n pluimpie.

 

Veilige ruimtes vir lesbiese verhoudings?

Wat in die genoemde uitgawe van die Kerkbode duidelik is, is dat selfs in hierdie uitgawe ds. Danzfuss se stem naas vele ander weersprekende stemme geplaas word. Die voor die hand liggendste is die artikel van Annalise Wiid wat nie een nie, maar twee bladsye (bl.13 en 14) beslaan. Wiid skryf, met verskeie fotobevestigings oor ’n lesbiese egpaar wat, “lief vir die Here”, net maar op soek was na ’n “veilige ruimte” waar hulle hul geloof kon uitleef. In die NG Gemeente Blouberg het hulle so ’n plek gevind waar hulle nie in “die valsheid van boksies” geplaas is nie en waar “valse aannames en perspesies” teengewerk kon word. Hierdie NG gemeente het hulle nie bloot as banksitters aanvaar nie, maar  omarm, sodanig so, dat ene “ds. Elmarie Dercksen” selfs hulle verbintenis aan mekaar geseën het met ’n spesiale seremonie in die kerk. Hierdie egpaar het ook ’n swart dogtertjie aangeneem en ’n foto is ook geplaas van die doopplegtigheid waar Elmarie Dercksen die aangenome kind van die twee vrouens doop.  Die artikel eindig met die boodskap dat die kerk ’n veilige ruimte behoort  te wees waar mense “onvoorwaardelik genade-kanse” kry.

Dit is duidelik dat hierdie artikel bedoel is om daaraan mee te werk dat sogenaamde stereotipes afgebreek moet word en dat dit in diens staan van besluite wat die NG Kerk in die toekoms moet neem. Dit is ook duidelik dat die redakteur, mnr. Neels Jackson, soos met die propaganda vir die aanvaarding van die Belhar-belydenis, ’n baie definitiewe agenda het. Dat hy oor die plasing van hierdie artikel skynbaar nie erg teenstand gekry het nie, laat tog ernstige vrae ontstaan oor wat in hierdie kerkverband se binnewerkinge aan die gang is. Op 19 Februarie skryf dr. Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, die volgende: “Die goeie nuus van Jesus se lewe, dood en opstanding maak mense vry van haat, rassisme en geweld. Ons respekteer almal – ongeag hulle taal of kultuur of land van afkoms of seksuele oriëntasie – want God se liefde help ons om ander hoër te ag as onsself.” Die probleem wat ons met hierdie stelling het, gaan nie oor respek as sodanig nie, maar oor die konteks van die Kerkbode die afgelope tyd waarbinne hierdie uitspraak gemaak word. Vergelyk byvoorbeeld  die positiewe boekresensie van Karlien Roos se boek, “Ma, ek is gay”, wat op 6 Maart gepubliseer is op die webwerf. Hier word vertel van die aanvaarding van ’n seun wat met ’n lewensmaat trou en uiteindelik selfs tweelingdogtertjies met behulp van ’n surrogaatma in die wêreld bring. Die konsekwensies van hierdie sosiale revolusie word hiermee ook in die gesigsveld gebring van hulle wat twee en twee nie by mekaar bring nie. Spermbanke, kunsmatige bevrugting, en kloning word die nuwe broeikamers van die sogenaamde nuwe era. Dit is die moeite werd om dr. Michael Hanby se ontleding van die konsekwensies van hierdie lewensbenadering onder oë te kry.

In die lig van die duidelike trajek in die Kerkbode moet die vraag gevra word of dr. Niemandt se definisie van respek vir seksuele oriëntasie dalk meer impliseer en aansluit by wat in die genoemde artikels vermeld word. Hierdie vermoede is nie uit die lug gegryp nie en ons het ook  reeds in die verlede gewys op die motiewe en die bande wat ander gesiene leiers in die NG kerk wat voorstaanders van die Belhar-belydenis is, met die gay-debat het. Die relevansie van hierdie aangeleentheid kry elke dag nuwe toepassings.

 

Ruimte vir teenstrydige opinies?

Indien iemand wonder hoe twee sulke uiteenlopende artikels soos die van Danzfuss en Wiid in een Kerkbode kan verskyn, bied die rubriek op bladsy 8, “Op die kerkstoep”, ’n insiggewende, dog armoedige verklaring. In hierdie aflewering verduidelik dr. Gustaf Claassen, moderator van die Noordelike sinode, die droom van ’n kerk wat ruimte vir mekaar gee: “Verskil van opinie kan geleenthede word om te leer hoe om mekaar ruimte te gee, te respekteer, mekaar lief te hê, verdraagsaam te wees.” Dr. Claassen meld pertinent dat dit sy gebed is vir 2015 dat ons “ons in die hantering van al die brandende kwessies –Artikel 1, homoseksualiteit, noem maar op – mekaar sal ruimte gee, respekteer.”

Die grootste rede vir hierdie verdraagsaamheid vind dr. Claassen in die Bybel self, want volgens dr. Claassen hanteer die Bybelskrywers verskillende opinies op ’n ander wyse as wat ons dit sou doen. Hy noem as voorbeeld die volgende: “Is dit Dawid wat Goliat by Soko verslaan het (1 Sam 17), of was dit Elganan wat Goliat by Gob verslaan het (2 Sam 21: 18-19)? Of het Elganan eintlik vir Lagmi die broer van Goliat verslaan (1 Kon. 20:5)? Hy brei hierdie voorbeeld van sogenaamd verskillende opinies uit met dit wat hy beskryf as die verskillende opinies van die “Evangelieskrywers op die Jesusgebeure.” “Daar is talle ander voobeelde”, skryf hy. “Nêrens is daar ’n onverdraagsame aanspraak op die alleen waarheid nie.”

Dit is ’n bekende tegniek om twyfel te saai na aanleiding van Skrifgedeeltes wat op die oog af teenstrydig is. Komende van ’n leier-leraar doen dit egter vreemd aan. Met die minste moeite kan ’n mens genadiglik in vandag se internet-era maar bloot die goeie ou E-sword gaan aflaai en nalees hoe kommentators vanmelewe al hierdie ou vrae beantwoord het vanuit ’n eenheidsbeskouing op die Bybel as Woord van God. Dr. Claassen se teksuitleg sê egter meer van homself en sy invloede as van voortreflike eksegese en hermeneutiek. Dit blyk dat die verskuilde aannames oor die Bybel wat eintlik maar net woorde oor God is, ook by hom inslag gevind het. Dit is onder die invloed van die Skrifkritiek se aannames vandag nog steeds gewild om die Bybel net maar te beskou as verskillende tradisies van beskouinge oor God wat naas mekaar staan en meerdere sienings akkommodeer om iets van die misterie van God aan ons weer te gee.

Indien dr. Claassen hierdie aannames gesluk het, kan sy eksegese begryp word. Of dit verskoon kan word, is ’n ander vraag. Om hierdie Skrifbeskouing te hanteer, sal verg dat ons moet teruggaan na die metafisiese beskouing wat hierdie gefragmenteerde sig op die werkliheid  borg en daarby kan ons nie nou stilstaan nie. Gewone gelowiges kan egter die gevolge van hierdie benadering duidelik waarneem in die genoemde uitgawe van die Kerkbode. Die mees uiteenlopende opinies word eenvoudig naas mekaar gehandhaaf met  die postmoderne deug van “jy is ook reg.” ’n Mens kan maar net raai wat hierdie benadering sal maak met verskillende opinies oor die opstanding van Jesus Christus.

 

Ingrypende besluite gaan voort

Dit is werklik insiggewend om te sien hoe soveel tendense in die NG Kerk in een uitgawe in ’n knoop vasgebind word. In dieselfde uitgawe, net langs die artikel van dr. Claassen, verskyn ’n kort besinning van ds. Danie Mouton, bekende preekstudie-begeleier, van Port Elizabeth. Onder die opskrif, “Op ’n missie”, beskryf ds. Mouton die missie van die NG Kerk. Hy merk positief op dat die Kerk gekenmerk is deur “ingrypende besluite” sedert die 1980’s en 1990’s.  Dit is volgens hom gebore uit intense nadenke oor die wyse waarop ons verstaan en verantwoordelike uitleg van die Bybel werk. Ds. Mouton is van mening dat ons ’n oplewing van kundige interpretasie (hermeneutiek) nodig het, nie net van die Bybel nie, maar ook van die sosiale konteks: “Ons moet die tye, die ander, groepvorming, ons sosiale vrese, sosiale blamering, sosiale kapitaal en soveel ander dinge beter verstaan.”

Oor een ding is ons dit met ds. Mouton hartlik eens: “Ons moet “Skrif en konteks diep, diep met mekaar in gesprek bring.” Dit is egter duidelik dat ons oor die hoe daarvan, wêrelde van mekaar verskil. Die wêreld van die NG Kerk, gee die indruk dat dit deurdrenk is van die neo-liberalisme. Hierin speel die rol van ’n teologie wat skepping en herskepping nie volgens die Skrif saam kan bedink nie, ’n beduidende rol. Dit maak eintlik die genoemde besluite sedert die 1980’s waarvan ds. Mouton melding maak, baie, baie voorspelbaar. Is dit enigsins moontlik om in sulke waters met iets anders vorendag te kom as polities korrekte interpretasies? Dr. Mark Kreitzer het by die draai van die eeu reeds voorspel wat die gevolge is van ’n teologie wat die Skriftuurlike verbande tussen skepping en herskepping loslaat. Tot dusver, as jy na die besluite van die NG kerk in die afgelope dekades kyk, was hy volledig in die kol.

Die NG Kerk is by ’n oomblik van waarheid soos nog nooit vantevore nie. Dit is nou indien die Kerkbode enigsins as barometer gebruik kan word van wat in die siel van die NG Kerk aan die gang is. Laat niemand egter sê dat mnr. Neels Jackson en sy span bloot met joernalistieke eerlikheid beskrywend aan die orde bring wat uiteenlopend in die NG Kerk aan die gang is nie. Daarvoor is daar net te veel voetwerk en voetspore wat in dieselfde rigting wys. Die oogpunt is duidelik nie net informasie nie, maar ook konformasie. Vir diegene wat in hul eerliker oomblikke erken dat hulle reeds begin konformeer het of dalk tog begin wonder, wil ons ons graag aanbeveel om die volgende vyf vrae van Kevin DeYoung deeglik te oorweeg.

Aan diegene in die NG Kerk wat die oomblik van waarheid insien, wil ons vra: Gaan u dit rustig toelaat dat hierdie toenemend blatante artikels in organe soos die Kerkbode, die toon aangee? Gaan die voetvolk in die NG Kerk dit toelaat dat hul leiers hul intelligensie onderskat en met allerhande voetwerk laat verdrink in ’n lewensbenadering wat baie meer met die neo-liberalisme as met die Bybel en die klassieke Christendom te make het? Die antwoord is tans ongelukkig onduidelik. Wat wel duidelik is, is dat passiewe optrede ’n voorspelbare uitkoms sal hê.

 

  

TOP