Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Islam, Christenvervolging en die Afrikaner

Daar het in die nuwe jaar twee dinge gebeur wat die Weste se houding teenoor Islam ontstellend illustreer.  In die eerste geval het ’n predikant van die Evangeliese Kerk in Duitsland, Ds. Olaf Latzel van die Sint Martini gemeente in Bremen, op 18 Januarie in ’n preek verklaar dat daar net een God is en dat Christene en Islam niks in gemeen het nie. Hy het gesamentlike bidbyeenkomste met die Islam veroordeel en verklaar dat Christene heilig voor God moet bly. Volgens hom kom die gesamentlike bidbyeenkomste met Islam op afgodediens neer. 

Hierdie preek het tot hewige kritiek uit kringe in sy eie kerkverband, maar ook politici en die media gelei en is hy van haatspraak beskuldig.  Sy eie kerkverband in Bremen het hulle van Ds. Latzel gedistansieer en op 4 Februarie het 70 van sy mede-kollegas van die E.K.G. op die trappe van die Sint Martini Kerk ’n demonstrasie teen Latzel gehou.

Ds. Olaf Latzel

(afgelaai 16 Februarie 2015)

Die tweede voorval was waar President Obama gedurende ’n gebedsontbyt op 5 Februarie verklaar het dat die Islamitiese Staat (I.S.) van die Midde-Ooste en die kruisvaarders van die Middeleeue vergelykbaar is in terme van brutaliteit en militantheid.  Onnodig om te sê, dit het ’n storm tussen die liberales en die konserwatiewes ontketen. 

Hierdie is slegs maar twee klein gebeurtenisse teen die agtergrond van 'n erge vervolging van Christene wat op die oomblik in Moslemlande aan die gang is. ’n Voorbeeld is die 21 jong mans wat onlangs in Libië onthoof is. 

Die Weste het die ongelukkige siening dat daar eintlik niks met Islam verkeerd is nie en dat die optrede teen Christene slegs dade van fundamentalistiese randfigure en groepe is, soos die van die Islamitiese Staat en die Moslem broederskap.  Hierdie siening word selfs deur ons eie mense gehuldig, soos blyk uit ‘n onlangse berig in ’n internetkoerant. Hiervolgens is daar “bedenklike organisasies” wat waninligting aangaande die vervolging van Christene in Moslemlande versprei om die Amerikaners se “heilige oorlog” teen hierdie lande te regverdig.  Die betrokke lande het volgens hierdie opinie deur die eeue heen “alle Christene bewaar en Christen artifakte in stand gehou”, totdat die Amerikaners teen hulle begin oorlog voer het.  Volgens die berig word Christene eintlik oral vervolg, ook in ons eie land, soos in die geval van die hofsaak wat gevoer word om godsdiens in skole te verbied.

Terwyl ek heeltemal saamstem dat Christene, ook in ons eie land, oral onder druk is, kom ons situasie, soos hierdie genoemde hofsaak, nog nie naby vervolging soos in geval van die vroeë Kerk en wat tans in die Moslemlande gebeur nie.  Die "bedenklike" organisasie waaroor die berig suspisie saai, is Geopende Deure, wie se lede hulle lewens waag om die Woord in lande soos China en Moslemlande te bring. ’n Mens aanvaar maar in goeie trou dat die berig uit onkunde geskryf is. 

Die feit is dat binne ’n honderd jaar na die dood van Mohammed in 632 n.C.,  het Moslemmagte Palestina, Sirië, Egipte, die hele Noord Afrika, en 'n groot deel van Spanje oorrompel. Europa was onder konstante druk van die Moslems vir die volgende 1000 jaar tot in die laat 17de eeu. Volgens die onlangse boek van Raymond Ibrahim  met die titel, Crucified again: Exposing Islam's New War on Christians, het die Moslems van die begin af, as hulle 'n stad of land oorgeneem het, volgens twee beginsels teen die Christene opgetree. Die eerste beginsel is gevorm deur 'n vers vanuit die Koran, nl. Sura 9: 29:

Fight against such of those to whom the Scriptures were given (d.w.s. die Jode en die Christene) as they believe neither in Allah nor the last day, who do not forbid what Allah and his apostle have forbidden, and do not embrace the true faith, until they pay tribute(bekend as die jizya)out of hand and are utterly subdued.  (Vertaling deur N.J. Dawood. Penguin Books, 1974)

Daar is natuurlik ander tekste in die Koran wat meer gematigd is teenoor "die mense van die Boek".  Dit is egter 'n reël in die eksegese van die Koran dat, indien twee verse mekaar weerspreek, die latere vers die bepalende vers is. In hierdie geval is die betrokke vers net voor Mohammed se dood geskryf.

Die tweede beginsel was ’n uitvloeisel van bogenoemde vers, nl. die "Bepalings van Omar".  Omar bin al-Khattab (634 - 644) was die tweede kalief (d.w.s. ’n opvolger van Mohammed) en het met die Christene in Sirië tot 'n sogenaamde "verstandhouding" gekom wat die verhouding tussen die Christene en die kalifaat (d.w.s. die Moslem regering) bepaal het. Hierdie bepalinge is konstant deur die eeue heen teenoor Christene toegepas en kom kortliks daarop neer dat alle Christene basies drie keuses het: Bekeer tot Islam, òf betaal ekstra belasting (die sg. jizya) vir die reg om 'n Christen te kan wees, òf word tereg gestel, soos die 21 jong mans in Libië. Christene wat die jyzya betaal het was as derderangse burgers, net ’n trappie hoër as slawe gesien. Verder word die Kerk op ’n despotiese wyse aan bande gelê.

Volgens Ibrahim het die kolonisering van die Moslemlande deur die Weste tussen 1850 en 1950 vir die eerste en enigste keer in die geskiedenis godsdiensvryheid in die betrokke lande meegebring sodat die  Christene as gelykwaardige burgers beskou is. Die Moslems het in hierdie tyd, ten spyte van hulle geloof, 'n grenslose bewondering vir die Weste ontwikkel en hulle op alle terreine probeer naboots. Ibrahim skryf hierdie verskynsel toe aan die feit dat mag, gesanksioneer deur Allah, die Moslemgeloof in wese onderlê en dat dit daarom die aandag van die Moslems getrek het. Hierdie bewondering vir die Weste het sedert die sestigerjare, soos wat die Weste verswak het en selfveragting en skuldgevoel aangaande sy koloniale verlede ontwikkel het, tesame met ’n morele inploffing, geleidelik in weersin en later in haat omgeskakel.  Daar is egter in ’n sekere sin ‘n baie groot ooreenkoms tussen die versekulariseerde Weste en Islam: die rol wat mag speel as die hoogste faktor in die werklikheid. Mag maak reg.  Dit is ook moontlik die verklaring waarom Moslems so inskiklik is as hulle in die minderheid is, terwyl hulle Christene so fel in hulle eie land waar hulle die mag het, vervolg.  Die feit is dat Christene hulself en hulle “artefakte” net met die grootste opofferings in hierdie lande deur die eeue kon handhaaf.

Ons eie mense gaan nie die veranderinge wat in die Weste ingetree het, gespaar word nie. Ons as Christen-Afrikaners sal moet begin kennis neem dat ons self op die punt van 'n moontlike groot verdrukking staan, nie omdat ons Blank of Afrikaners is nie, maar omdat ons Christene is. Die punt is dat ons nader aan ons broers en susters in verdrukking in die Moslemlande en elders is as aan ons eie agnostiese of ateïstiese mede-volksgenote. Dit is hoog tyd dat hierdie onderskeid duideliker gemaak moet word. Ons sal ernstig moet begin kyk na ons eie verhouding met God en ons eie lewens in oënskou neem aangesien dieselfde lot vir ons en ons kinders sekerlik ’n moontlikheid is. Ons sal ernstig vir Christene in hierdie gebiede moet bid en hulle fisies begin ondersteun, ook deur hulp aan organisasies soos Geopende Deure. Mense soos Ds. Latzel het ook ons bemoediging en ondersteuning nodig.

 

TOP