Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Oorleef en floreer

    

Dit lyk of 2015 hom gereedmaak om die verhoog te bied waarop die veldtog teen plaasaanvalle op die spits gedryf gaan word.

Die landbou-organisasies, ondersteun deur die Vryheidsfront, voer lank reeds  ʼn vergeefse stryd om plaasboere te beskerm. Daar is begin deur te pleit vir die behoud van die kommandostelsel vir die beveiliging van die platteland, of alternatiewelik, vir die spoedige instelling van die Polisiediens se sektorpolisiëringsplan wat as plaasvervanger moes dien. Samespreking op samespreking is met regeringsverteenwoordigers gehou en  ʼn sterk saak vir die beskerming van voedselsekerheid is ter tafel gelê. Tog het die besef begin deurskemer dat die regering nie oor die politieke wil beskik om die landbouers in beskerming te neem nie en ʼn hofsaak moes gevoer word om die sing van die lied “kill the Boer” tot haatspraak te verklaar.

Ook gewone mense het die stryd opgeneem, met die mees prominente aksie die oprig van die Witkruis-monument naby Mokopane (verskoon my maar dat ek die verowering van Potgietersrus deur Mokopane se nageslag erken vir die werklikheid wat dit is) langs die N1-snelweg in Limpopo.

Teen hierdie agtergrond het AfriForum sy #stopdiemoorde veldtog begin. AfriForum is  ʼn welkome bondgenoot in die stryd; wat in die bresse tree vir die beskerming van die familie en vriende van die meer as 1,700 slagoffers wat tydens hierdie aanvalle sedert 1990 vermoor is.

Die fokus van die stryd het verskuif vanaf  ʼn poging om die ANC tot rede te bring deur gesprekvoering, na een om die ANC tot optrede te dwing deur druk vanaf die publiek, grondwetlike instellings en selfs die internasionale gemeenskap.

Enkele aksies sluit in die publikasie van die boek Treurgrond en die vervaardiging van  ʼn gelyknamige film wat binnekort in teaters gaan verskyn. Daar was ook die aflewering van 100 briewe van slagoffers aan die Minister van Polisie, en na sy snedige ontvangs daarvan, die indien daarvan saam met  ʼn klag by die Menseregtekommissie, wat einde 2014  ʼn publieke verhoor oor die saak gehou het wat breedvoerig deur die media gedek is.

AfriForum het ook verskeie kort-films vervaardig wat deur die sosiale netwerke op die Internet versprei is. Die saak is verder na die Verenigde Nasies geneem met  ʼn verslag wat in November 2013 by die Verenigde Nasies se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland ingedien is.  ʼn Jaar later is AfriForum deur die VN die geleentheid gegun om hierdie forum oor die saak toe te spreek. Die ANC-regering is ook die geleentheid gegun om repliek te lewer en, soos verwag kon word, het hulle erg te velde getrek teen AfriForum, wat hulle beskuldig het as randfigure uit Suid-Afrika se Apartheidsverlede.

Die stand van sake is nou as volg:

  • Op 15 Januarie2015 stel AfriForum en TLU-SA statistiek bekend wat aandui dat plaasaanvalle steeds toeneem.
  • Rhoda Kadalie,  ʼn menseregte-aktivis uit die anti-Apartheidstryd wat na haar kinders in die VSA geëmigreer het, skryf op 27 Januarie 2015 ʼn artikel wat in Beeld gepubliseer is. Sy voer hierin aan dat plaasmoorde op volksmoord neerkom terwyl die moorde en wrede aanvalle op winkeleienaars in townships Xenofobies is. Sy skryf dat die ANC-regering se onwilligheid om hierteen op te tree,  ʼn aanduiding van die regering se eie sinistere rassisme is wat die geskiedenis van stam- en vergeldingsoorloë tydens die pre-koloniale konflikte van Suid-Afrika oprakel.
  • Adriaan Basson, die redakteur van Beeld, reageer op Kadalie deur haar te beskuldig dat sy die baie ernstige probleme op plase uitbuit vir (ongedefinieerde) politieke of populistiese gewin deur onverantwoordelike opruiende aannames die wêreld in te stuur.

Met die tafel gedek vir  ʼn konfrontasie tussen diegene wat daarop aandring dat die regering nalatig of selfs kwaadwillig is deur sy gebrekkige beveiliging van boerderye; en die ANC wat sy hande in onskuld was deur te sê dat landbouers maar net soos die res van die land aan misdaad onderworpe is en nie spesiale behandeling verdien nie, is daar twee vrae wat verdere ondersoek verdien:

  1. Hoe kan die irrasionele afsydigheid van die ANC-regering jeens die lot van kwesbare boere verklaar word?
  2. Waarom dring Adriaan Basson (as de-facto woordvoerder en plakkaat-seun van verlinkse Afrikaners) daarop aan om die ANC se siening te onderskryf dat plaasaanvalle niks meer as gewone misdadigheid is nie?

By nadere ondersoek van die eerste vraag moet ons probeer peil of die ANC waarlik irrasioneel optree.

Dit sou irrasioneel van die ANC wees om die boere aan misdadigers oor te laat indien die ANC ʼn regering was wat ten behoewe van sy kiesers regeer het, wat tot die opheffing van armes verbind was en kampvegters teen rassisme en ander vorme van misbruik en onderdrukking was, soos wat die liberale media die ANC sedert 1990 voorhou.

Christus het ons egter geleer dat  ʼn boom aan sy vrugte geken word. Wanneer ons kyk na die vrugte van die ANC dan sien ons  ʼn geheel ander prentjie: Ons sien  ʼn magshonger sentrale leierskap wat bereid was om enige-iets te doen om mag te verkry, insluitend om byna 10 000 van hul eie mense op afgryslike wyse te vermoor (tussen 1992 en 1995 is gemiddeld 244 Suid-Afrikaners weens politieke onrus per maand vermoor, insluitend deur halssnoermoorde). Ons sien  ʼn leierskap wat  ʼn beter lewe aan hul volgelinge belowe het om mag te kry, maar wat sedert 1994 daardie einste volgelinge in  ʼn knyptang van afhanklikheid vaskeer, waar swak onderwys, welsynstoelae en diskriminerende wetgewing soos RA en SEB nie  ʼn beter lewe bring nie, maar kettings van dwingelandy en afhanklikheid. Hul volgelinge se lot is  ʼn dalende lewensverwagting, verswakkende staatsdiens en min hoop op werk en nog minder vir  ʼn beter lewe.

Sedertdien sien ons  ʼn ANC wat alles doen om sy greep om die mag te versterk. Na die 1994 oorgang is die ANC daarop gefokus om die weerstand wat die staatsdiens en grondwetlike instellings kon hoop om te bied, weg te transformeer, ten koste van geleenthede vir  ʼn beter toekoms vir hul ondersteuners.

Hoe  is dit rasioneel om te verwag dat so  ʼn organisasie hoegenaamd bereid sal wees om sy voormalige vyande op die platteland te beskerm teen die misdadige elemente wat voortvloei uit die wrakke van die instellings wat hul plunder? Vir die ANC is boere en die orde wat hul verteenwoordig  ʼn steen des aanstoots; slegs  ʼn gerieflike troefkaart wat op die brandstapel geoffer kan word ten einde die ANC se ondersteuners te paai wanneer laasgenoemde rekenskap eis.

Met die geskiedenis van die ANC-leierskap voor 1994 so duidelik gedokumenteer en die vrugte van hul regering so kaal vir die naakte oog om te aanskou, moet ons vra waarom die liberale media daarop aandring om vir die ANC op te kom? Jy moet immers weet jy vind jouself aan die verkeerde kant van die geskiedenis wanneer jy die ANC teen iemand soos Rhoda Kadalie beskerm.

Die antwoord hierop handel oor gevestigde belange. Die linkse Afrikaanses durf nie  ʼn wêreld indink waarin daar nie plek vir hul is nie. Daarom sal hul die persoon wat waarsku dat so  ʼn land ons voorland is eerder aanval, as om die ANC daaroor aan te vat, want indien hulle die ANC daaroor aanvat, mag hul dalk net sien dat die boodskapper die waarheid praat.

Dit is ook nie net linkse Afrikaanses wat besig is om hulself te paai nie. Bitter min Afrikaners is besig om langtermyn alternatiewe te bou vir die samelewing wat die ANC besig is om te vestig.

Die stryd wat voorlê is nie een wat beperk is tot  ʼn poging om die erwe van ons vadere vir ons kinders te behou nie. Soos Potgietersrus is daardie erwe reeds omsingel en lê hul soos die dorp Vryheid deur hul besoedelde drinkwater as’t  ware met die dood in die pot.

Die stryd wat voorlê is  ʼn stryd om hoegenaamd  ʼn koesterende omgewing vir Afrikanerkinders uit te kap; êrens waar ons ook die vermoë het om dit sonder moeite te verdedig.

Ons hoef nie mismoedig te wees nie, want die omstandighede wat ons nou betree was bekende terrein vir ons voorouers. Hulle was ook min en in vyandige omgewing. En hulle het nie net oorleef nie, maar floreer!

Dit is beter om uitgetart en beledig te word terwyl jy help om  ʼn laer in gereedheid te bring, as om sonder  ʼn laer te staan wanneer die ANC besluit om ons te offer om hul greep op die mag te versterk.

Daar is werklik bitter min wat die ANC kan doen om ons te verhoed om vir ons kinders  ʼn veilige toekoms te skep, maar dan moet ons dit doen soos wat Orania dit vir meer as 20 jaar al doen.

 

TOP