Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Christene moet ook die skonere in beskerming neem

    

Die aanslag op en totale verval van die Christendom in Europa is reeds bekend. Steeds minder en minder Westerlinge beskou hulself as praktiserende Christene en selfs minder en minder verbind hulself enigsens aan die Christelike geloof. Die totale sekularisering van die Westerse beskawing is reeds sedert die studente-opstande van die 1960's in aggressiewe opmars.

Die verval van die Christendom in Westerse lande en in besonder Europa moenie net gesien word in die konteks van 'n natuurlike sekulariseringsproses soos wat baie keer die algemene persepsie is nie. Die aanslag op die Christendom en dit wat daarmee saamhang is 'n doelbewuste projek gedryf deur liberale magte wat weens die Tweede Wêreldoorlog 'n totale afkeur in identiteit, kultuur en tradisies ontwikkel het.

Die onlangse aanval op die satiriese publikasie, Charlie Hebdo, in Parys, het dit weer bewys. Charlie Hebdo is 'n ultra-liberale publikasie wat reeds vir jare daarop uit is om met geloof, kultuur en tradisie die spot te dryf. Tog het wêreldleiers van oraloor saamgekom om die reg van hierdie publikasie om identiteit bespotlik te maak, te verdedig. In Frankryk mag 'n Moslemvrou nie meer in die openbaar 'n hoofbedekking dra nie, maar 'n Christen wat vir die staat werk, mag ook nie meer 'n kruis om die nek dra nie. Identiteit raak dus 'n taboe. Kinders word groot met die idee dat geloof, kultuur en tradisies iets is wat tot 'n slegte verlede behoort en dat 'n soort nuwe, neutral, identiteit nagestreef moet word.

Die aanslag op ons identiteit vind nie net op die geloofsterrein plaas nie. Daar is vandag in die moderne Westerse wêreld 'n groot aanslag op kultuur, tradisie, en in besonder die goeie wat ons uit die verlede ontvang – soos argitektuur, kuns, literatuur en selfs ons gemeenskapsbeskouing. Die persepsie dat geloof, kultuur en tradisies geskei kan word en in aparte silo's kan funksioneer is ook 'n skepping van 'n moderne liberale elite wat burgers na hul hand wil vorm.

Dit is daarom vir ons as Christene belangrik om ook die aanslag op hierdie dele van ons identiteit te verreken. As Christene behoort ons eerstens die kerk en ons geloofstradisie in stand te hou, maar moet ons ook al die ander goeie uit ons identiteit beskerm en uitbou. Die Westerse beskawing is 'n konstruksie wat uit die samevoeging van geloof en verskeie hoer kultuurelemente bestaan.

Die konserwatiewe Britse intellektueel, Roger Scruton, som dit goed op: "'n Beskawing is 'n sosiale entiteit wat manifesteer in godsdienstige, politieke, wetlike, en gewoonteregtelike eenvormigheid oor 'n lang tydperk, en wat aan sy lede die voordele van 'n kennisbasis wat oor 'n lang tydperk opgebou is, verleen."

Om Westerse identiteite wat deur die liberale wêreld verag word af te breek, word daar dus nie net op ons geloof nie, maar ook op al hierdie ander elemente gefokus. Met die groot liberale opmars van die 1960's is daar besef: Indien die Christengeloof vanuit die hoofstroom uitgerangeer kan word, is die eerste veldslag vir die afbreek van ou identiteite gewen. Die rede hiervoor is dat geloof in elke Christen se lewe die sentrale element van sy identiteit is. Kultuur, tradisies en selfs politiek word deur Christene gevorm aan die hand van hul geloofsoortuigings.

Ook hieroor skep Scruton goeie konteks: "Geloof verhef die menslike hart. Deur dit te verwyder uit die mark, word dit heilig en onverhandelbaar gemaak. Onder die jurisdiksie van godsdiens word ons dieper gevoelens heilig gemaak om rou materiaal vir die etiese en geregtelike lewe te word."

Opregte gelowiges kan dus moeilik deur die liberale, sekulêre wêreld ingespan word om hul doelwitte te bereik. Vir die gelowige is sy geloof heilig en die spilpunt waarom alles wat hy is, draai.

Maar dit is ook juis omdat ons die skonere en heilige van Christenwees beleef dat die Christenwêreld vir lank geken is deur hoë kultuur wat veral vergestalt word in die tradisie, kunste, argitektuur en literatuur.

Hieroor skryf Scruton: "Deur skoonheid word ons in die teenwoordigheid van die heilige gebring." Die grootste meester van die skonere is juis God. Die sekulêre wêreld weet skynbaar instinktief dat om die tradisionele Westerse beskawing af te breek, sal ook die skonere vernietig moet word.

Dit is juis op hierdie terrein waar daar tans grootskaalse agteruitgang plaasvind. Moderne argitektuur, kuns en literatuur raak toenemend afbrekend, vlak, lelik en beledigend teenoor die tradisie.

In die Nederlandse provinsie, Gelderland, het die regering onlangs twee kunswerke teen €6300 elk aangekoop. Dit is meer as R160 000 vir die twee klein kunswerke. Die kunswerke bestaan onderskeidelik uit 'n rooskleurige en 'n geel doek sonder enigiets daarop wat geraam is. Die doel van sulke kuns is natuurlik juis om die skeppende en die skonere te verwerp. In Duitsland was daar onlangs 'n oproer nadat 'n maatskappy 'n nuwe kantoorgebou in die klassieke Barokstyl gebou het. Bykans alle nuwe geboue in Duitsland moet uit reguitlyne, vaal kleure en sonder enige simboliek en tradisie wees.

Wanneer ons as identiteitsbewuste Christene dus ons identiteit wil behou en uitbou moet ons by ons geloof begin, maar ook die kultuurprodukte daarmee saam beskerm. Dit sluit die tradisionele kuns, argitektuur en alle skonere funksies in.

Ook hier kan Scruton aangehaal word: "Die doel is om die orde en balans waarvan ons die tydelike trustees is, aan volgende geslagte oor te dra en waar moontlik selfs verder te verbeter."

Die Westerse beskawing verkeer vandag in 'n krisis van behoud. Die modernisme het volkere van hul geloof, kultuur, en tradisies gestroop en slegs 'n strakke individualisme agtergelaat. Laat ons as Christen Afrikaners dan 'n groot rol speel, nie net in die behoud van ons geloof nie, maar ook in die skonere wat deur eeue heen in die Westerse wêreld geskep en onderhou is.

 

TOP