Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die les van Galilei

    

Die Kerk se standpunt oor evolusie is een van daardie kwessies wat in die geskiedenis telkens opduik. Ten diepste handel dit oor die vraag na die verband tussen geloof en wetenskap. En sekere aannames bepaal dikwels die gesprek by voorbaat. Een van die beste voorbeelde hiervan is wanneer ons hoor dat die Kerk nie haarself weer so belaglik moet maak soos in die tyd van Galileo Galilei (1564-1642) nie. Toe het die Kerk hardnekkig teen die prikkels van die nuutste wetenskap geskop. Gaan ons nou sowaar met evolusie dieselfde rympie herhaal?

Die vraag is egter hoe die prentjie verander indien die Kerk teen die wetenskap geskop het, juis omdat dit die aanvaarde wetenskap aan die universiteite vertrou het. Dan kan evolusie, wat die aanvaarde wetenskap aan die meeste instellings vandag is, nie hierdie redenasie gebruik nie. En hiermee het hierdie uitgawe reeds begin om die argumente uit verskillende kampe te herhaal wat vier jaar gelede so fel in Die Volksblad gewoed het.

Dit het rondom 2009/10 begin toe prof. Piet Strauss, destydse moderator van die NG Kerk, in die tydskrif JUIG! in ’n onderhoud gestel het dat evolusie net ’n interpretasie van die werklikheid is. In dieselfde tydperk het hewige debat uitgebreek wat veral in Die Volksblad se briewe-kolom gevoer is. Feitlik al die denkbare argumente is op die tafel geplaas. U kan die beste argumente terugvind in die dokumente van Herman Toerien en Coert Welman wat steeds op die internet beskikbaar is en waarvan ons die skakels in hierdie uitgawe aan u deurgee. Wat hierdie twee dokumente des te meer ter sake maak, is dat ons hier te doen het met konserwatiewe gelowiges wat heftig oor die saak verskil. Dit is sterk te betwyfel of ons in die nabye toekoms in hierdie debatte met ander argumente te doen sal kry. Dit het tot gevolg dat Die Boodskapper op ’n spesifieke wyse te werk wil gaan in die poging om nie bloot te herhaal nie.

In die uitgawe van Maart 2000 het Die Boodskapper reeds indringend aandag aan hierdie saak gegee. Deur die verloop van jare het Die Boodskapper ook verskeie kere simpatiek gestaan teenoor bepaalde standpunte wat skepties staan teenoor die evolusie-hipotese en wat in baie kringe die standpunt van die skeppingsleer genoem word. Dit sou ondeurdag wees om nou skielik hierdie, na ons mening, gesonde vooroordeel, te ontken. Wat ons wel in hierdie uitgawe poog, is om die debat meer werwend aan die orde te stel. Ons skop daarom af met ’n artikel wat die wese van die argument uiteensit wat gelowiges aanvoer wat evolusie as skeppingsgegewe aanvaar. Let daarop dat ons berekend van gelowiges praat. Ons het dit reeds in 2000 gestel en handhaaf dit onverkort: Iemand wat aan evolusie glo, kan wel ’n geredde kind van God wees. Dit geld ook vir iemand wat aan die skeppingsleer glo. Dit beteken nie dat gelowiges, aan watter kant van die spektrum ook al, nie inkonsekwent kan wees nie. Ons poog daarom om ook die spieëlbeeld van die evolusie-argument uiteen te sit soos wat diegene wat aan die skeppingsleer glo, dit sou verwoord.

Hierna maak ons gebruik van ’n standpunt uit ’n derde kring. Dit is die kring van gelowiges wat nie die evolusie-aannames aanvaar nie, maar ook nie daaraan vashou dat die aarde net ongeveer 6 000 jaar oud is nie. Ons fokus hier in diepte op een van die uitnemendste eksponente van hierdie standpunt in ons land. Prof. Danie Strauss het met oorgawe aan die debat in Die Volksblad deelgeneem. Wat sy bydrae waardevol maak, is dat hy as filosoof duideliker kan wys op die aannames wat verskuild lê in die wetenskapsbeskouings in biologie. Ons plaas sy volledige briewe wat geskryf is vir die debat in Die Volksblad met dankbare erkenning aan hom en aan Die Volksblad. Die bedoeling met hierdie derde benadering is nie om nou vir hierdie benadering te kies nie. Dit is eerder om die skerp reaksies van die uiterste teenpole vir ’n wyle opsy te sit ten einde meer direk op aannames in die wetenskap te fokus.

Wat tydens die samestelling van hierdie uitgawe baie duidelik geword het, is dat die krag van voorveronderstellings en bepaalde ervarings ’n groot rol speel in mense, selfs geleerdes, se opinies. Sommige mense het in hierdie debat seergekry aan die een of ander kant. Iemand se geliefde is verneder, of is met die Bybel oor die kop geslaan in die belang van ’n verskraalde ideologie. Ander weer het aannames soos ’n veronderstelde vooruitgangsgeloof of uniformiteit of geleidelikheidsbeginsel onbewus aanvaar. Ander moes ly onder argumente wat van hul standpunte strooipoppe gemaak het, of het skuld deur assosiasie beleef en selfs dat mense in hul karakter in plaas van hul argument geklim het.

Hierdie uitgawe wil nie voorgee om bo hierdie uitwasse verhewe te wees nie. Wat ons wel kan doen, is om duidelik ons voorneme te verklaar om ons aan sekere beginsels gebonde te ag. Ons wil die weg van liefde volg met diegene wat van ons verskil. Ons wil die argument van die teenparty op so ’n wyse aan die orde stel dat die teenparty homself daarin kan herken. Ons wil erken dat daar al onverskoonbare misdrywe deur individue aan beide kante van die debat plaasgevind het. Maar ons wil ook nie verskoning maak dat ons kies vir bepaalde uitgangspunte nie. Ons onderskei in die wetenskap tussen bedryfswetenskappe wat eksperimente in die hede kan herhaal en wetenskappe wat handel oor die verlede wat eksperimente nie op dieselfde wyse kan herhaal nie. Ons maak verder nie verskoning vir die feit dat ons dit verantwoordelik ag om aandag te gee aan verskillende denkskole in die wetenskap nie. Ons maak ook nie verskoning vir die feit dat ons die grondslae en aannames van die wetenskap beskou as iets wat in beginsel buite die veld van wetenskaplike ondersoek lê nie. Ons maak ook nie verskoning dat die reformatoriese teologie skepties is oor korrelasie-teologie wat van die Kerk verwag om byna ongekwalifiseerde respek vir die heersende wetenskapsbeskouinge te hê nie. Galilei het gewys dat dit onwys is. Ons wil uiteindelik wel iets by Galilei leer, maar dit is nie daardie les wat so dikwels aan ons voorgehou word nie. 

 

 

Dr. Alwyn Swanepoel gesels telefonies met prof. Hennie Mouton en prof. Danie Strauss oor Evolusie. Die gesprek is uitgesaai op Radio Pretoria op 16 November 2014 in die klankjoernaal van Die Boodskapper.

U kan HIER na die gesprek luister oor Evolusie

 

TOP