Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Afrikaans, die groot vyand?

    

Daar het die afgelope twee maande twee belangrike gebeurtenisse op die PUK kampus te Potchefstroom plaasgevind. Die eerste is die herrie oor Afrikaans as hoofvoertaal op die kampus en die tweede is die Aardklop-kunstefees wat op die Joolplaas van die universiteit plaasgevind het. Die kritiek teen Afrikaans as hoofvoertaal op die kampus onder die dekmantel van gelyke beregtiging was lank verwag en verbaas glad nie. Wat wel verbasend is, is die naïewiteit van die PUK bestuur om te dink dat gelyke beregtiging nie voorkeur aan Engels hoef te beteken nie. Die Media24 propaganda masjien en die Engelse koerante het soos aasvoëls op ’n tak gewag vir enige krakie in die Pukke se mondering. Dit het dan ook in die begin van die jaar gebeur met die sg. “Nazi”-saluut van die koshuise.

’n Mens sou verwag dat daar by Aardklop, wat net na die ANC-regime se kritiek plaasgevind het, ten minste ’n poging tot weerstand of kritiek sou wees. Daar was, sover bespeur kon word, geen sweempie daarvan nie. Wat wel opgeval het, is die grootte van die biertente en die aftrek wat dit geniet het. Die ergste was ’n konsert deur Jack Parow, gelewer op die aand van Krugerdag op die terrein van ’n universiteit wat in die verlede bekend gestaan het as die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Sy banaliteite en vloekery is kliphard oor Potchefstroom uitbasiun tot diep in die nag in. 

Die ironie van die hele situasie t.o.v. Afrikaans se uitfasering as hoofvoertaal op die PUK is dat die swyendes en instemmers wel hulle lojaliteit teenoor Afrikaans luidkeels sal bevestig met frases soos “Afrikaans is groot” of “die mooiste en soetste taal”. Hierdie lamsakkige verdediging van Afrikaans en Jack Parow se vloekery hou verband met mekaar.

Prof. Danie Goosen beskryf in sy boek, Die nihilisme, notas oor ons tyd, dat beide die moderne en postmoderne staat deur geometrisering gekenmerk word, dit wil sê dat alle inwoners in dieselfde direkte verhouding onder dieselfde voorwaardes tot die staat staan, gekenmerk word. Die verskil tussen die moderne en postmoderne tye is dat in eersgenoemde dat die geometrisering binne die bepaalde staat se grense geskied, terwyl in laasgenoemde dit deel van globalisering vorm. Hierdie geometrisering vind in die moderne staat plaas volgens die wil en insigte van die etniese dominante groep. Die wil en insigte van enige ander minderhede word genegeer en aan die van die meerderheid onderwerp. Ek kan byvoeg dat die stryd om Afrikaans in die 20ste eeu juis geskied het teen die geometrisering van die Engelse koloniale en ekonomiese oorheersing. 

In die postmoderne tyd het daar, volgens Goosen, ’n verskuiwing weg van etniese belange na ’n globaliserende ekonomisme plaas gevind.  Alles in die postmoderne staat word aan die kriterium van die radikale vrye losstaande individu wat onbeperk ekonomies kan verbruik, onderwerp. Dit sluit ’n politiek van deelname en erkenning in, gegrond op universele hiperabstraksies van die individu. Dit beteken dat die individu verabsoluteer word tot ’n ongebonde vrye wil en enkele materiële aspekte soos rykdom of die gebrek daaraan. Elke individu moet vry wees in terme daarvan dat daar geen morele of kulturele dwang vanuit enige oord of aard behoort te wees nie. As God “dood” is of bloot nie bestaan nie, dan het die individu geen morele bande wat hom bind nie. Ras, geslag en geloofsoortuiginge mag ook geen rol speel in die beoordeling van die individu of die handeling met ’n individu nie. 

Die postmodernisme wys enige metanarratief, dit wil sê ’n kontrolerende agtergrondsverhaal, wat ’n ontstaansverhaal insluit, en waarteen alle ander verhale of dinge gemeet word, af. Dit stel duidelik dat alle morele waardes relatief tot die individu en die situasie is. Hierdie idee van die postmodernisme is vals en blote oëverblindery. Enige geometrisering moet genadeloos geïmplementeer word en gehandhaaf word om te kan slaag. Dit vereis dat daar grense en reëls neergelê word om te verhoed dat differensiasie of verskille weer intree wat dit kan verongeluk.  Hiervoor is ’n bepaalde standaard of metanarratief essensieel om te bepaal of ’n bepaalde aksie of ding geometrisering sal bevorder of in die wiele sal laat ry. Die postmodernisme is, soos die modernisme, baie spesifiek aangaande die insluiting en uitsluiting van idees, dinge en mense. Jack Parow kan maar teen God en die hemel vloek en Dookoom kan maar haat teen die boere aanblaas. Ons moet tog net nie die k-woord noem nie, of ons gesigte op ’n partytjie swartsmeer nie, want by al die onsekerhede is daar hieroor gelukkig darem baie sekerheid. 

Die sg. Struggle, dit wil sê die stryd teen apartheid, die Afrikaner en Afrikaans, speel in Suid Afrika ’n sentrale rol in die postmoderne ruwe Suid Afrika se metanarratief. Al die probleme in Suid Afrika kan volgens hierdie agtergrondsverhaal na apartheid herlei word. Die Afrikaner en sy taal as die instrumente van apartheid, moet “getransformeer” word en van sy gewelds- en oorheersingselemente gesuiwer word tot iets wat in die postmoderne Suid Afrika kan inpas.  Soos ’n Blanke Afrikaanssprekende gids in 2007 by die Taalmonument in die Paarl aan ’n groep buitelandse toeriste verduidelik het: “Afrikaans is an extremely violent language”.

Die gevolg van hierdie nuwe metanarratief is dat Afrikaans die knie voor die geometriserende taal Engels moet moet buig. Enige aanspraak op Afrikaans as ’n primêre taal of enige assosiasie wat so ’n aanspraak bevorder, moet beveg en uitgesluit word.  Enige groep of vereniging wat enigsins die Boerekultuur wil bevorder, moet verban word. So is die studente organisasie, GK267, in 2008 op die PUK kampus verbied.  Hierdie organisasie wou onder meer die ou PUK simbole en leuse, In U lig, herstel. Afrikaans moet verder “inklusief” vir al sy sprekers gemaak word. Dit vereis die afbreek van Afrikaans as ’n standaardtaal en die afwys van enige taalnorme. Afrikaans moet verder onder kwarantyn geplaas word in terme van enige openbare aktiwiteite.  Dit beteken dat Afrikaans ingeperk moet word tot gebeurtenisse soos Aardklop.  Enige persoon, insluitend enige akteur of kunstenaar wat homself of haarself teen die heersende metanarratief uitspreek, moet gemarginaliseer en uitgesluit word. ’n Voorbeeld hiervan is die radiostasie OFM se onlangse optrede teen Steve Hofmeyr. Kunstenaars soos Jack Parow moet die voorkeur kry, nie net vanweë hul morele relativisme nie, maar ook vir die feit dat hy help om deur sy musiek die “gewenste” elemente van vorige “onderdrukte” en “gemarginaliseerde” groepe in Afrikaans in te bring om te help met die “transformasieproses.”

Die oorheersing van Afrikaans en die Afrikaner op die PUK kampus verteenwoordig ’n struikelblok in die geometriseringsproses, nie net vir die ANC regime nie, maar ook vir die postmoderne Afrikaner wat skynbaar alles in sy vermoë sal doen om hierdie nuwe standaardiseringsproses te laat slaag. Laasgenoemde sal, ten spyte van  mooi klinkende retoriek oor Afrikaans, hul eie mense, taal en kultuur, vir die ideaal opoffer. Die gebrek aan enige noemenswaardige weerstand op die PUK kampus om die Afrikaners van hul enigste oorblywende Afrikaanse universiteit te ontneem, verbaas dus glad nie.

 

TOP