Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Hoe om staatskole te troef

    

Heelwat debat is tot op hede gevoer oor onderwys, spesifiek om die gebreke van staatsonderwys bloot te lê. Die nadelige invloed van die staat se ideologiese begronding op die leerplanne van ons kinders wat nie alleen bedoel is om twyfel oor die Christelike geloof te skep nie, maar om alle instellings en tale en kulture wat die invloed van die staat se taal en kultuur mag beperk, is welbekend.

Die vraag is egter waarom Afrikanerouers, waarvan die meerderheid tog oortuigde Christene is en volgens verkoopsyfers van Afrikaanse musiek, literatuur en films ook ’n sterk voorkeur vir hul kultuur openbaar, nie in groot getalle hul gewig agter onafhanklike skole soos die BCVO- of ARSO geaffilieerde skole ingooi nie.

Dit is duidelik dat daar nog sterk lojaliteit teenoor voormalige model-C skole bestaan. Hierdie skole beskik oor heelwat infrastruktuur wat oor dekades heen deur vorige geslagte Afrikaners opgebou is. Hulle beskik oor begaafde onderwysers, oor gevestige strukture vir ouerdeelname en die werwing van kinders, en oor ‘n geskiedenis van uitnemendheid. Voorwaar formidabele kompetisie vir die onafhanklike skole.

Tog bly hierdie skole deel van die staat, en is by implikasie die eiendom van die ANC (dit is ook onwaarskynlik dat enige politieke party die regering ooit sal oorneem wat nie beleide soortgelyk aan die ANC handhaaf nie). Hierdie skole is dus onlosmaaklik deel van die staat se apparatuur en het daarmee geen ander keuse as om die staat se ideologiese agenda oor die lang termyn uit te voer nie.

Onafhanklike Afrikaanse skole sal die staatskole nie net op ideologiese gronde moet troef nie, maar sal ook beduidend beter as hulle moet wees om ons kinders toe te rus om stoflike sukses te behaal in die wêreld waarin hulle hulself na skool sal bevind.

Op die keper beskou, ervaar Afrikanerkinders unieke uitdagings wanneer hulle die skool verlaat. Die grootste is waarskynlik staatsdiskriminasie deur Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), wat na die Renate Barnard hofuitspraak met hernude ywer toegepas gaan word. Verder word ons kinders ook toenemend blootgestel aan ’n ondenkbare hoeveelheid inligting en idees deur die internet en globale media, wat tot ‘n groot mate hul veronderstellings oor hul geloof hul kultuur en hul selfbewussyn gaan toets.

Dit is duidelik dat die Afrikaanse staatskole nie by magte is om in belang van ons kinders hul leerplanne by hierdie werklikheid aan te pas nie. Aan die een kant kan hulle nie ons kinders leer hoe om die invloed van SEB en RA op hul lewens te neutraliseer nie, want dit sal indruis teen die belange van die staat wat hierdie skole se bates besit en hul onderwysers se salarisse betaal. Aan die ander kant word hierdie skole deur die staat gedwing om die staat se leerplanne te gebruik wat neutraal  staan teenoor die invloede wat afbrekend teenoor Afrikaners se geloof en kultuur kan inwerk.

Hoe behoort die leerplanne dan te lyk? Daar is volgens hierdie skrywer veral drie uiteenlopende areas van vaardighede wat alle kinders behoort te leer ten einde suksesvol in hierdie samelewing te wees. Dit is geesteswetenskaplik, ondernemingsbestuur, en opleiding in skaars vaardighede.

Die eerste pilaar moet op die geesteswetenskappe fokus. Hierdie deel van die leerplan moet kinders toerus om inligting te sif, drogredes te identifiseer en logiese argumente te bou, om skoonheid te herken en te skep en om hul taal, kultuur en geloofsgrondslag te kan verdedig en uit te bou in 'n globale, verbruikersgerigte, sekulêre en dikwels agressief-ateïstiese samelewing. Klem moet daarop geplaas word om emosionele intelligense te verhoog en om vindingrykheid aan te moedig. Taalvaardighede, klassieke filosofie, geloofsonderrig , geskiedenis, kunste, ensovoorts vorm die elemente van hierdie pilaar.

Die tweede pilaar moet op ondernemerskap fokus. Alle Afrikanerkinders moet weet hoe om 'n onderneming te begin en te bestuur. Daarsonder is hulle uitgelewer aan dikwels vyandige werkgewers en is hulle besonders kwesbaar vir Regstellende Aksie. Die enigste teenvoeter waarmee ons huidige skole ons kinders hiervoor toerus is om die land te verlaat. Ons kinders moet eerder leer hoe om met geld te werk en hoe om tegnologie te gebruik om markte oor die wêreld heen te ontgin. Kinders moet ook leer watter wettige maatreëls hulle kan implementeer ten einde die invloed van SEB op hul besighede te neutraliseer of in hul guns te draai. Produkontwerp, verkope, finansiering, rekeningkunde, menslike hulpbronnebestuur, beleggingsbestuur, ondernemingsbestuur, ensovoorts vorm die elemente van hierdie pilaar.

Die derde pilaar moet ons kinders toerus om loopbane te volg in areas van skaars vaardighede. Elke land, insluitend Suid-Afrika, publiseer lyste van vaardighede wat hulle wil lok deur hul immigrasiebeleid omdat hierdie vaardighede skaars is, wat reeds ‘n aanduiding is dat die staatskole nie daarin slaag om kinders vir hierdie loopbane voor te berei nie. Die Suid-Afrikaanse lys bevat 214 loopbaanrigtings wat vir die voorsienbare toekoms nie genoeg mense gaan hê wat daarin spesialiseer nie. Indien ons kinders voorberei word om hierdie vaardighede aan te leer is hulle baie minder kwesbaar vir regstellende aksie en beweeg hulle reeds op 'n gebied waar hulle met vrug (en min kompetisie) eie ondernemings sal kan begin. Die elemente van hierdie pilaar is loopbaanoriëntering, wiskunde, wetenskap, tegniese tekene, rekenaarvaardighede, aardrykskunde, biologie, landbou, metaalwerk, kwaliteitsbestuur, ensovoorts.

Die sleutel hier is dus nie die grootskaalse herontwerp van bestaande vakke nie, maar om seker te maak dat vakkeuses so aangebied word dat elke kind blootstelling sal kry aan die terreine van geesteswetenskappe, ondernemingsbestuur en skaars vaardighede, terwyl die inhoud van hierdie vakke ‘n baie spesifieke fokus op die uitdagings van Afrikanerkinders sal hê.

Onafhanklike skole staan dus voor die unieke geleentheid om hulle leerplanne beter te onderskei van die van staatskole wat stoflike voorbereiding vir die uitdagings wat ons kinders gaan beleef betref. Indien die onafhanklike skole hierin slaag, kan hulle eksponensiële groei verwag oor die komende dekade en onontbeerlik word vir die voortbestaan van ons volk.

 

TOP