Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Stuiptrekkings en oorwinning

    

Onlangs merk iemand op dat dit voel asof Amerikaanse aksierolprente besig is om die regte wêreld in te val. Hierdie jaar blyk inderdaad een van die groot gebeure te wees.

Op die sportveld het die jaar afgeskop met die Winter Olimpiese Spele wat aangebied is in Sotsji, Rusland, die sokker wêreldbeker is in Brasilië aangebied en die Skotse stad, Glasgow, het die Statebondspele aangebied.

Min mense sou tydens hierdie feestelikhede kon verwag dat Sotsji en Glasgow later in dieselfde jaar byna in die middelpunt van politieke tweestryde sou staan.

Kort na afloop van die winterspele het die Oekraïne ’n gewelddadige regeringsverandering ondergaan wat gelei het tot ’n hewige stryd tussen Rusland en die Weste, met eersgenoemde wat heftig gereageer het om sy belange in die Krim, byna reg oorkant Sotsji, wat onder meer Rusland se Swartseevloot huisves, te beskerm.

Nadat die Krim deur  ’n referendum en onder die beskerming van Rusland besluit het om van Oekraïne af te stig om by Rusland aan te sluit, het die stryd tussen Rusland en die Oekraïne na die Ooste van laasgenoemde verskuif, waar hewige gevegte bly woed het, tot selfs nadat ’n burgerlike passasiersvliegtuig van die Maleisiese lugredery waarskynlik per abuis afgeskiet was en tot reuse verlies van onskuldige menselewens gelei het.

Hierdie was egter reeds die tweede groot vliegramp wat die Maleisiese lugredery in enkele maande getref het, nadat ‘n vlug vanaf Maleisië onderweg na China spoorloos verdwyn het.

Ondertussen het voortslepende geweld in die Sirië oorgespoel na Irak met Islamitiese militante wat poog om ‘n kalifaat op te rig en daarvoor grootskaalse geweld pleeg, soveel so dat Christen-gemeentes wat ouer was as die kerke in Wes-Europa, uitgedryf is en baie van ons medegelowiges as martelaars gesterf het. Die VSA en enkele Arabiese bondgenote het pas begin om die militante wat as ISIS bekendstaan te bombardeer in ‘n poging om hul uitbreiding te stuit.

Wes-Afrika ervaar weer terselfdertyd die grootste uitbraak van die Ebola-virus in menseheugenis. Waar vorige uitbrake tot afgeleë plattelandse dorpies beperk was, het hierdie uitbraak nou tot in die stede van 3 aangrensende lande versprei, te wete Guinee, Sierra Leone en Liberië. Ongeveer die helfte van alle mense wat met die virus besmet word, sterf binne enkele dae weens inwendige bloeding en tot op hede bestaan daar nie ‘n kuur of ’n entstof vir die virus wat deur kontak met liggaamsvloeistof versprei nie.

Weereens blyk dit dat hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde, met duidelike paralelle tussen die hedendaagse gebeure en gebeure gedurende die Middeleeue toe die Swart Dood ’n derde van die Europese bevolking vernietig het, terwyl die Islamitiese magte van Turkye (op daardie stadium bekend as die Ottomaanse Ryk) die setel van die Griekse Ortodokse Kerk in Konstantinopel verower het en daarna Europa tot digby Wene in Oostenryk binnegedring  het.

Teen hierdie agtergrond het die Skotte na meer as 400 jaar se verbintenis met Engeland vir die eerste keer na die stembus gegaan om vir of teen hul onafhanklikheid te stem. Ten minste was die Skotse referendum ‘n toonbeeld van hoe ’n beskaafde land behoort op te tree wanneer ’n deel van sy bevolking oorweeg om af te stig.

Die Skotse referendum het weer lewe in die debat oor selfbeskikking geblaas en terwyl ’n meerderheid Skotte nie te vinde was vir onafhanklikheid nie, het Glasgow ten gunste van selfregering gestem.

Vanuit die Skotse ervaring is dit duidelik dat selfregering nie iets is wat by ‘n kitstoonbank bestel word nie, maar dat daar met klein treetjies, baie geleidelik vorentoe beweeg word. Die Skotte het immers slegs teen volle onafhanklikheid gestem nadat die Britse regering omvangryke devolusie van mag aan Skotland belowe het. Namate Skotland sy voete vind met meer magte, sal die onsekerheid wat met volle onafhanklikheid gepaard gaan vinnig verminder en is dit moontlik dat ons nog binne ons leeftyd omvangryke politieke hervorming in die Verenigde Koninkryk gaan sien, veral wanneer mens besef dat Skotland so min as 20 jaar gelede nog nie eens ‘n eie parlement gehad het nie.

Vir Afrikaners is dit egter duidelik dat die wêreld ’n baie onseker plek geword het vir ‘n klein, Westerse volk. Westerse oorheersing van die ekonomiese en politieke mag is besig om in die wêreld te swig weens ’n gebrek aan lewenskragtigheid en ter plaatse is instellings wat ons as “voorheed ons eie” kan beskryf, soos die Potchefstroomse en Bloemfonteinse universiteite, besig om van ons vervreem te word.

Kan mens glo dat daar net nog ’n volle 3 maande van 2014 oor is?

Ons kan egter troos daarin vind dat die Christelike Kerk vandag groter is as in enige ander tyd in die geskiedenis en dat ons onsself nie onnodig hoef te kwel oor die stuiptrekkings van die sonde nie, want die oorwinning is reeds vir ons behaal.

Maar ons moet ook besef dat ons self ’n verantwoordelikheid het om soos die Wenkommando van Andries Pretorius ons laer te trek en ons kryt droog te hou. Want om te glo dat God ons sal uithelp wanneer ons nie bereid is om ons deel te doen nie, is nie geloof nie, maar ’n gevaarlike bygeloof. Daarmee word natuurlik ook bedoel dat, soos met die Verloorkommando van Piet Uys, droë kryt niks help as ’n volk nie ook ’n laer of ‘n vesting van sy eie het nie.

 

TOP