Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Afrikaners en die slaggat van neo-konserwatisme

   

Die konserwatiewe persoon is voor alles gemoeid met die herlewing van die geestelike en die karakter - met die godsdienstige sanksie waarop enige lewe wat die moeite werd is, gebou word. Dit is die konserwatiewe tradisie op sy beste - Russell Kirk

 

Afrikaners het ’n lang geskiedenis met die konserwatiewe tradisie. Die besef van wie jy is, watter waardes jou vorm, en hoe jou omgewing en die instellings waarvan jy deel is tot jou menswees bydra in die lang en moeisame pad om vir jouself en jou naastes ’n toekoms van geluk en sukses te verseker, was nog altyd deel van die Afrikaner se mondering. Russell Kirk se verwysing na die herlewing van die geestelike en die karakter kan ook raakgesien word in die wyse waarop die Afrikaner telkens na moeilike tye opgestaan het. Vas in die geloof en trots op ons Afrikanerwees het die Afrikaner nog elke keer na ’n krisistyd hergroepeer. Afrikaners was in ons geskiedenis tot dusver in ’n groot mate tradisionele of paleo-konserwatiewe mense. Afrikaners is vir lank gekenmerk deur ’n interne lokus van beheer, dus ’n tradisionele lewensbeskouding, eerder as ’n eksterne lokus van beheer waaroor ons beslis dieper moet nadink.

 

Konserwatiewe bewegings in talle Westerse lande, ook in Suid-Afrika, is sedert die Tweede Wêreldoorlog deur neo-konserwatiewes oorgeneem. Hierdie neo-konserwatiewes verskil wesenlik in hul uitkyk op die hantering van verskeie beleidskwessies van die meer tradisionele of paleo-konserwatiewe persoon.

 

Tradisionele konserwatiewes se negatiewe reaksie op neo-konserwatisme het heelwat te make met die wyse waarop konserwatisme as begrip skielik toegeëien is. Neo-konserwatiewes verskil van tradisionele konserwatiewes op ’n hele paar kenmerkende wyses wat direk verbond hou met ’n eksterne beskouing oor beheer. Daar is byvoorbeeld die kenmerkende intervensionistiese buitelandse beleid in die VSA. Onder leiding van neo-konserwatiewes soos George W Bush, Dick Cheney en Donald Rumsfeld is die oorloë in Irak en Afganistan aangemoedig. Neo-konserwatiewes glo ook in ’n sterk sentrale regering. Hoewel hulle nie sosialiste is nie, glo hulle dat ’n regering heelwat goeie dinge kan en moet doen. ’n Sterk sentrale regering verseker volgens hulle ’n soort sekerheid onder burgers. Neo-konserwatiewes is ook meer op die individu as die gemeenskap gefokus en glo aan die absolute vryemark sonder enige meganismes om ongelykhede in die globale mark in ag te neem.

 

Neo-konserwatiewes en tradisionele konserwatiewes verskil wesenlik oor buitelandse beleid. Tradisionele konserwatiewes glo dat lande hul by hul eie sake moet hou terwyl neo-konserwatiewes glo dat Westerse regerings demokrasie en die vryemark teen alle koste na lande met diktatorskappe en ondemokratiese regerings moet neem.

 

Die twee kampe verskil ook op sosiale terrein. Hoewel die meeste neo-konserwatiewes tot ’n mate konserwatiewe standpunte oor kwessies soos homoseksualiteit, aborsie en die rol van geloof in openbare ruimtes inneem, verkies hulle om nie op hierdie kwessies nie, maar eerder op ekonomiese en internasionale sake te fokus. Neo-konserwatiewes stel dus die geestelike aspek en die vormende aard van karakter sekondêr tot eksterne invloede.

 

’n Groot probleem wat tradisionele konserwatiewes verder met neo-konserwatiewes het, is hul totale miskenning van die belang van die gedesentraliseerde gemeenskap. ’n Gemeenskap van mense wat in dieselfde rigting dink weens hul interne lokus van beheer is buite die denkraamwerk van die neo-konserwatiewe persoon. Neo-konserwatiewes is geneig om mag op te wentel na die sentrale regering eerder as af te wentel na die gemeenskap. George W Bush se eerste wesenlike stuk wetgewing nadat hy president van die VSA geword het, was ’n nasionale plan om seker te maak dat kinders wat agterstande op skool ontwikkel, ekstra aandag geniet. Tradisionele konserwatiewes glo dat die federale regering in die VSA eintlik niks met onderwys te doen moet hê nie en dat onderwys aan die state en plaaslike gemeenskappe oorgelaat moet word. Opvoeding moet dus vanuit die interne eerder as die eksterne inisiatiewe plaasvind. Nog ’n voorbeeld van neo-konserwatiewes se benadering tot onderwys is die regering van Angela Merkel in Duitsland wat drakoniese stappe teen ouers wat aan hul kinders tuisonderrig wou bied, geneem het. Tuisskoling is onwettig in Duitsland omdat Merkel se regering glo dat slegs die regering weet hoe om kinders behoorlik op te voed.

 

Die Amerikaanse paleo-konserwatiewe skrywer, Paul Gottfried, gaan sover as om te sê dat neo-konserwatiewes ’n groter bedreiging as sosialiste inhou. Sy standpunt is gebaseer op die basis dat ons almal sosialisme min of meer verstaan en bewus is van die strewes van sosialiste. Die probleem met neo-konserwatiewes is dat hulle die woord konserwatief hul eie gemaak het terwyl hulle op verskeie terreine afgewyk het van die oorspronklike beginsels van die konserwatiewe tradisie.

 

Ook Afrikaners het die afgelope tyd in die slaggat van neo-konserwatisme begin trap deur toe te laat dat eksterne oorwegings ons rigting bepaal. Ons het van ’n interne lokus van beheer na ’n eksterne lokus van beheer verskuif, met verlies aan belangrike geestelike oorwegings. Verskeie Afrikaners bepaal deesdae hul prioriteite volgens wêreldse eise in plaas van om dit vanuit ’n herontdekking van die geestelike en die karakter te doen.

 

Ons instellings het ’n groot taak om ons mense weg van die neo-konserwatisme na ’n herontdekking van die geestelike, tradisie, en ons Afrikanerkarakter te lei. Hierin behoort die kerk ’n leidende rol te vervul.

 

 

TOP