Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Voor en na die 1914 Rebellie

Dit was onlangs oral in die nuus: 100 jaar gelede het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Die kulturele impak hiervan was fenomenaal. Vergelyk jy die modes van 1914 met die modes van 1924, kom jy diep onder die indruk daarvan. Maar die voor en ná-foto’s se volgorde het in baie opsigte omgekeer.

Die komponering van klassieke musiek het die nekslag gekry. Die ontkerstening van die Weste wat stadig, maar seker, sedert die Verligting in die 18de eeu in die Weste aan die gang was, het ongelooflike momentum gekry. Die oorlog het sekerlik die grootste kulturele impak ooit in so ʼn kort tyd in die Weste se geskiedenis gehad. Hierdie veranderinge het gevolg uit die geweldige slagting en vernietiging wat plaasgevind het. Miljoene mense het die lewe gelaat. Tussen 8 tot 10% van die bevolkings van Engeland, Duitsland, Frankryk en Rusland, het in die oorlog omgekom.  

Hierdie veranderinge geld ook vir die Afrikaner. ʼn Mens hoef net te kyk na die verskille tussen die 1914 Rebellie en die Ossewa Brandwag (OB). Die 1914 Rebellie, wat aan die een kant die gevolg was van die besluit van die Unie regering om aan die kant van Brittanje tot die oorlog toe te tree, was aan die ander kant ook ʼn uitvloeisel uit die Anglo-Boere Oorlog. Daar was, soos in die Boere Oorlog, geen uniforms of militêre parades betrokke nie. Dit was in wese ʼn ware burgerlike aksie. Die OB, wat ook die gevolg was van ’n soortgelyke besluit van die Unie regering, was daarenteen gekenmerk deur sy militarisme, met militêre uniforms en ʼn leier wat almal verenig het in ʼn hiërargiese struktuur. Dit is iets wat die Boere nooit geken het nie. ʼn Goeie voorbeeld is die slagspreuk van die Stormjaers, ʼn afdeling van die OB: As ek omdraai, skiet my. As ek val, wreek my. As ek storm, volg my.  Ek dink nie die Boere van ʼn geslag van tevore sou hulle ooit tot so ʼn slagspreuk verbind het nie.  In hulle geval was militêre deelname tot ʼn groot mate ʼn persoonlike keuse. ʼn Burger moes net nie met die vyand geheul het nie. Het Genl. De la Rey omgedraai toe hy nie by die Slag van Magersfontein teenwoordig was nie om sy seun te begrawe? Ek wonder.

Hierdie veranderinge is ook sigbaar in ʼn groter kulturele en sosiale konteks. Die Boere se samelewing is gekenmerk deur die kerk as die fokuspunt van die samelewing. Die eerste kerkraad van die Groot Trek is 3 maande voor die eerste burgerraad verkies. Elke nuwe dorp in die Vrystaat en die ZAR het ontstaan met die kerk en ʼn kerkplein as middelpunt. Die markplein was altyd aan die kerkplein ondergeskik in terme van die fokuspunt van die dorp. In die meeste dorpe het die hoofstraat dan ook Kerkstraat geheet. Na die Boere Oorlog is die kerke eerste herstel. ʼn Goeie voorbeeld is die pragtige ou kerk in Winburg wat in 1904 ingewy is. Dink net die opofferinge wat ʼn platgeslane gemeenskap moes maak om so ʼn manjifieke gebou op te rig.

  
Die kerk in Winburg

Die invloed van die kerk gaan dieper as net die beplanning van dorpe en die oprig van kerkgeboue. Die kerk het ook die lewensloop van die burgers bepaal. Die groter gemeenskap was ook ʼn gemeenskap van gelowiges. ʼn Kind is in die gemeenskap ontvang met sy of haar doop as baba. Hy of sy is hierdeur nie net in die gemeenskap van gelowiges opgeneem nie, maar het ook deur die doop sy of haar diepste identiteit in Christus ontvang. Die persoon se amptelike benaming is hierdeur ook ten nouste aan die diepste identiteit in Christus gebind. Die opvoeding van die kind was gefokus op die aflegging van belydenis waardeur die kind dan in die gemeenskap erken is as ʼn volwassene. Die persoon kon trou en nagmaal nuttig. Die nagmaal was die sentrale liturgie van die samelewing. Dit was tydens die nagmaalsnaweek dat die gemeenskap in en om die kerk byeengekom het en waar die gemeenskap as gemeenskap versterk en uitgebou is. Dit is tydens hierdie naweek dat die belydenisaflegging van lidmate plaasgevind het, gebooie geloop het, paartjies in die huwelik bevestig is, en waar die meeste handel in die gemeenskap plaasgevind het.

Die Boere het hierin in ʼn tradisie van meer as 1700 jaar gestaan, wat terug deur die Middeleeue gestrek het tot in die laat antieke tyd. In die jaar 312 n.C. het die Romeinse Keiser Konstantyn die heidense offergebruike met die nagmaal as die sentrale liturgie van die staat vervang. Konstantyn het met massiewe bouprojekte begin waar die Christelike kerke die openbare ruimtes in die Romeinse Ryk begin oorheers het. Of dit nou so fataal was as wat vandag gemaak word, is ’n goeie vraag. Dr. Peter Leithart se onlangse werk, Defending Constantine, kan gerus deur modedenkers nageslaan word.

Die Boer se primêre identiteit was dié van Christen. Hierdie feit is in die openbare ruimtes  van die Boeregemeenskap in lyn met die Christelike tradisie van die Weste weerspieël. Die staat het hierin ʼn sekondêre rol gespeel. Dit is geen wonder dat die Boer hom tot God gewend het in die uur van sy grootste nood toe die Gelofte van Bloedrivier afgelê is nie. Dit is ook geen wonder dat die bou van ʼn kerk en die hou van die Sabbatdag sentraal in die Gelofte gestaan het nie. In hierdie sin was die Boeremagte gedurende die Boere Oorlog eintlik ʼn Kerk onder die wapen. ʼn Mens kan dit stel dat die Boere Republieke nie net die laaste ware Calvinistiese state was nie, maar die laaste werklik Christelike state.

Die verskil tussen die Boere Republieke en die Unie van Suid Afrika wat tot stand gekom het is ooglopend. In die Unie was die staat die sentrale band in die gemeenskap. Die inwyding van die parlement en verkiesingsdae het die nagmaal as die sentrale liturgie vervang. Die openbare ruimtes wat toe oorheers het, was die stadshuis en later die industrieë. Dit is later vervang en tans word ons deur reuse winkelsentrums oorheers. Winkelkatedrale vorm in ons dag die liturgiese ruimte van die radikale vrye indiwidu van die sogenaamde postmoderne tyd.

Die 1914 Rebellie vorm ’n tipe waterskeiding, nie net vir die Afrikaner nie, maar ook vir die Christelike Weste. Egte reformasie in ons dag moet deeglik hiermee rekening hou.

 

TOP