Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

"Genadedood"

  

"Genadedood", ook genoem ondersteunde selfmoord, is weer in die nuus. Hierdie keer weens ‘n brief wat emeritus Aartsbiskop Desmond Tutu van die Anglikaanse kerk aan die Britse Hoërhuis geskryf het waarin hy sy standpunt ten gunste van "genadedood" uitspreek.[1]

"Genadedood" of ondersteunde selfmoord vind plaas wanneer iemand ‘n ander persoon (gewoonlik ‘n huweliksmaat, dokter, familielid of vriend) se bystand ontvang om sy eie lewe te beëindig.[2]

Weens vooruitgang in mediese behandeling leef mense vandag langer as voorheen en is daar al hoe meer gevalle waar mense, gesinslede, familie en vriende voor siektes te staan kom wat nie andersins genees kan word nie, soos byvoorbeeld kanker, Alzheimersiekte, Parkinsons se siekte en dies meer.

In sekere gevalle gebeur dit dat familie en vriende ‘n baie slegte ervaring het met die mediese dienste en voel hulle, soos Desmond Tutu oor die vertraagde dood van Nelson Mandela, dat mense deur hierdie siektes van hul waardigheid ontneem word en dat dit ons Christelike plig is om sulke mense te begenadig en toe te laat om hul eie lewens te laat neem wanneer dit wil en terwyl hulle nog selfstandig is.

In ander gevalle, soos in Tutu se brief, maar ook in die debat oor die "genadedood" wetgewing in die Hoërhuis[3], word daar aangevoer dat die gebrek aan wetgewing wat die praktyk reguleer, mense noop om die reg in eie hande te neem en dan dikwels op onbeholpe en onaangename wyse hul lewens beëindig.

Daar word ook aangevoer dat dit reeds algemene praktyk is vir dokters om hul pasiënte te “help” deur hul ’n oordosis pynmiddel te gee sodat hulle sterf en dat sulke dokters die gevaar loop om krimineel vervolg te word vir hul medelye.

Terwyl ek self al naby-familie aan kanker moes afstaan, is ek nie oortuig dat hierdie argumente die nodige gronde daarstel om aanvaarbare optrede ten opsigte van lewe en dood in ons samelewing te herdefinieer nie. Die onbedoelde gevolge van die wettiging van "genadedood" kan selfs groter lyding tot gevolg hê. Van die belangrikste redes vir teenstand is die volgende:

  • Dit is onaanvaarbaar om menslike waardigheid te koppel aan selfstandigheid, of die vermoë om outonoom op te tree. Is dit werklik Christelik om te aan te voer dat mense wat bedlêend is en versorging nodig het om te eet en hulself skoon te hou, nie meer menswaardig is nie? Beteken dit dat elke persoon, van die pasgebore baba, tot mense wat weens siekte, ongelukke of ouderdom gestrem is en dus van ander afhanklik is vir versorging, se lewens minder werd is as gesonde volwassenes? Indien wel, waar word die streep getrek? Is iemand met swakker sig ook minder menswaardig as iemand wat sonder ‘n bril kan sien? Christene is mos oortuig daarvan dat ‘n mens se lewe inherent waardevol is en dat daardie waarde nie aangetas word deur gebreke nie.
  • Dit is kommerwekkend dat daar bewyse is dat sogenaamde beskermingsmaatreëls nie daarin slaag om kwesbare mense te beskerm teen mishandeling deur die misbruik van "genadedood"wetgewing nie. ‘n Onlangse studie in België het gevind dat soveel as 32% van gevalle waar "genadedood" toegedien is, daar nie bewyse was dat eksplisiete toestemming deur die pasiënt gegee is voordat die "genadedood" toegedien is nie. Hoewel verpleegsters nie wettiglik "genadedood" mag toedien nie, doen hulle dit tog en is daar tot 45% van die gevalle waar verpleegsters "genadedood" toegedien het, nie bewyse van eksplisiete instemming deur die pasiënt nie.[4]
  • Daar is ook aanduidings dat mense weens ekonomiese redes gedwing voel of selfs gedwing kan word om "genadedood" te versoek. Gedurende 2009 het ‘n egpaar in Oregon, ‘n deelstaat van die VSA waar "genadedood" wettig is, waarvan die vrou longkanker en die man prostaatkanker gehad het, ‘n brief van hul mediese fonds ontvang wat aangedui het dat hulle nie bereid is om chemoterapie te befonds nie, maar wel bereid is om vir die paartjie se "genadedood" te betaal. [5]  Verder is dit ook onrusbarend dat statistiek bewys dat daar sedert die globale finansiële krisis in 2008 ‘n 83% verhoging in die gemiddelde aantal "genadedood"gevalle in Oregon was.[6]
  • Dit is ironies dat wanneer gesonde mense selfmoord oorweeg, almal hul beste doen om die mense tot ander insigte te bring, maar wanneer ou mense, siekes of gestremdes dieselfde probeer doen, is daar mense wat dit vir hulle probeer moontlik maak en dit medelye noem. Daarom is groepe wat vir die regte van gestremdes veg, dikwels op die voorpunt met protesaksies teen die wettiging van "genadedood".
  • Dit is duidelik dat wanneer "genadedood" deur wetgewing toegelaat word, die aanvaarbaarheid daarvan mettertyd verhoog en die aantal gevalle waar dit gebruik word eksponensieel toeneem, tot die punt waar dit as normaal beskou word. Vandag is 1 uit elke 30 sterftes in Nederland weens "genadedood" en dit skaars 12 jaar nadat die gebruik daar vir die eerste keer in die wêreld sedert Nazi-Duitsland gewettig is.[7]
  • Dit is ook belangrik dat sekere mites rondom "genadedood" blootgelê word. Daar is bevind dat dit meestal nie pyn is wat mense na "genadedood" dryf nie, maar eerder die oortuiging dat hulle nie ‘n las vir hul geliefdes wil wees nie. Dit is bewys dat moderne palliatiewe sorg daarin slaag om pyn hanteerbaar te maak. Dit is ook eenvoudig onwaar dat dokters reeds doelbewus hul pasiënte op groot skaal deur ʼn oordosis van pynmiddels laat sterf.[8]
  • Dit is ook baie belangrik om te onderskei tussen aktiewe "genadedood" en passiewe oorgawe aan die gang van die natuur. Niemand kan gedwing word om behandeling te ontvang  om hul lewens te verleng nie. Dit is elkeen se reg om verdere behandeling van die hand te wys, om nie toe te laat dat ons lewens kunsmatig verleng word deur antibiotika, binne-aarse voeding of masjiene nie. Ons mag reeds daarop aandring dat die natuur sy gang met ons gaan en het nie wetgewing nodig om sodanige instruksies aan ons dokters en familielede te laat nie.

Dit is ongelukkig so dat ‘n land se wetgewing oor tyd ‘n groot invloed uitoefen op dit wat as moreel aanvaarbaar beskou word. Daarom is dit belangrik dat ons sodanige wetgewing moet teenstaan.

As Christene moet ons egter nie net aan die verbod op moord dink nie, maar ook besef dat dieselfde gebod ons gebied om die lewe in al sy variasie te vier. Deel van hierdie hierdie dankbare viering is tog juis ook om swakkes, oues en siekes by te staan, te versorg en te ondersteun,sodat hulle die lewe midde hul beproewing kan smaak. Dit vra natuurlik offers wat ons net in die krag van die Heilige Gees kan volvoer, maar Christus het juis soveel sorg aan die onaansienlikes en swakkes bestee. Sulke mense is nie ’n las nie, maar bied eerder vir ons die geleentheid om mense te bedien met ’n evangelie wat die lewe en die dood sonder eiegeregtigheid in die oë kan kyk. 

TOP