Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Identiteit as anker in ontstuimige tye

  

Die groot Franse staatman Charles de Gaulle het op 'n keer die opmerking gemaak dat 'n nasie nie deur grense en instellings gedefinieer word nie, maar wel deur taal, geloof en die inhoud van sy hoër kultuur. De Gaulle voeg by: “In tye van onrus en verowering is dit juis dié geestelike dinge wat beskerm en herbevestig moet word.” Sy geloof was in die stormagtige tye waarin hy in die Franse weermag en regering betrokke was, keer op keer vir hom 'n bron van stabiliteit.

De Gaulle is bekend vir sy leierskap tydens die Tweede Wêreldoorlog en sy rol in die heropbou van Frankryk na die oorlog. As konserwatiewe, gelowige leier, het hy 'n soort konserwatiewe gees getoon wat stabiliteit na die na-oorlogse Frankryk gebring het. De Gaule was ook diep bewus van die Franse identiteit en kultuur. Dit is juis hierdie konserwatiewe aanhang van identiteit wat tot studenteopstande teen die De Gaulle-regering in Mei 1968 aanleiding gegee het.

Die Britse akademikus Roger Scruton vertel van 'n ervaring wat hy tydens dié opstande beleef het. Die 24-jarige Scruton was besig met studies in Frankryk. Uit sy dakvertrekvenster het hy staan en kyk hoe studente en die polisie slaags raak en hoe chaos deur die strate van Parys versprei het. Dit was op daardie oomblik wat Scruton 'n soort Godgestuurde ervaring gehad het. Hy het die nuwe nihilistiese post-moderne era voor sy oë sien afspeel. Dit is 'n era wat hy toe reeds besef het, gekenmerk sal word deur die verval van verteenwoordiging en 'n kulturele versplintering, dwaling en selfs geweld. Die nihilisme veronderstel 'n totale verwerping van enige tradisionele waardes, geloof, morele beginsels en bestaande politieke ordes.

'n Nuwe generasie Europeërs het in opstand gekom teen instellings, waaronder die kerk en die bestaande politieke leiers, wat namens hulle gepraat het. Hulle het ook in opstand gekom teen hul homogene kultuurgemeenskap. In plaas daarvan om hul identiteit en konserwatiewe instellings en leiers te omhels weens die stabiliteit wat dit sedert die Tweede Wêreldoorlog teweeg gebring het, het hulle eerder linkse idees omhels. Die linkse idees waarop die Europese studente-opstande van die 1960’s geskoei was, is juis nihilistiese beginsels wat gesag en orde verwerp en alle mense gelyk aan mekaar stel sonder om werkbare alternatiewe voor te stel. Hierdie studente wou dus hulself van hul stabiele onderbou bevry sonder om regtig te weet wat 'n identiteitlose lewe sou behels.

Scruton skryf dat daardie oomblik in Parys toe hy studente met geweld teen die orde om hul in opstand sien kom het, die konteks geskep het vir die volgende dekades waartydens hy omvattende werk oor die eietydse konserwatiewe tradsie as antwoord op die nihilisme sou lewer. Scruton het “toevallig” vroeër daardie dag 'n boek van De Gaulle gelees. Dit was veral De Gaulle se opmerking dat wanneer mense alles wat hulle is wil weggooi, insluitende alle gebruike en alle instellings wat hul identiteit vorm, vir 'n blote oomblik se triomfantelike ervaring wat geen blywende sin inhou nie, slegs anargie oorbly.

Die links-liberale bewegings en denkers van Europa in die 1960's het hul protes hoofsaaklik geskoei op 'n verwerping van die konserwatiewe orde wat die anargie van die Tweede Wêreldoorlog in stabiliteit, vrede en 'n omgewing van groei en ontwikkeling omskep het. Die resultaat van hierdie verwerping is vandag sigbaar in die identiteitskrisis wat miljoene Europeërs beleef.

Afrikaners het breedweg twee toekomsopsies. Die een is ook die gedeeltelike of volledige verwerping van eie identiteit en die aangryp van postmoderne nihilisme. Die ander is daardie beskerming en herbevestiging van die geestelike sake soos geloof, kultuur, taal, en tradisie waarna De Gaulle verwys het. Sy verwysing na mense wat in tye van onrus en verowering leef kon net sowel vir vandag se Afrikaners gegeld het. Ons is ‘n verowerde volk wat in omstandighede van uiterste onrus leef.

Binne hierdie konteks vra een van die voorste hedendaagse Afrikaanse denkers oor die konserwatiewe tradsie, prof Danie Goosen, die vraag oor watter kultuurpolitieke vorm Afrikaners hul tuiste in sal vind. Prof Goosen het die afgelope tyd in verskeie artikels en toesprake 'n pleidooi vir die konserwatiewe tradisie gelewer. Dit behels nie 'n verwerping van gesag en struktuur nie, maar eerder 'n besef dat die mens juis gesag en struktuur nodig het om tot sy reg te kom.

T.S. Elliot skryf in sy opstel, “Tradisie en die Individuele Talent,” dat tradisie 'n voortdurend veranderende, maar ononderbroke ding is. Dit is dan ook wat die moderne konserwatiewe tradisie behels. Dit verteenwoordig nie 'n totale verwerping van verandering nie, maar wel 'n deurlopende stel beginsels en waardes waaraan voortdurend inhoud gegee word.

Die Afrikaner se uitdaging sal in die huidige moeilike tyd wees om rondom 'n konserwatiewe tradisie te verenig, sonder om in die verlede vas te haak, gefokus op 'n toekoms wat gebou is op ons geloof, taal en kultuur wat ons maak wie ons is.

 

TOP