Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Skoene vir opvoeding

  

Om vars te bly, moet jy weet hoe om clichés te vermy. Dit geld beslis vir nog ’n uitgawe oor die onderwys. En tog, daar is bepaalde idees en gesegdes wat jou laat besef dat clichés om goeie redes clichés geword het. Hulle het relevansiekrag wat uitstyg bo die eeue. Daar is bowendien mos maar min dinge se lekker soos ’n stel uitgetrapte taal- en ideeskoene waarin jy jou loop kan loop en jou sê kan sê. In ons jongste uitgawe van Die Boodskapper trek ons sulke skoene oor die opvoeding aan - wat bekend is, maar nog nie deurgetrap nie. Vergun my om die baan te open met ’n paar skoene vir die onderwys, maar ook vir die lewe.

Die regterskoen: Inspireer voor jy intruksies deurgee. Hierdie skoen bevat ’n waar woord wat leiers altyd weer moet leer. Wanneer ons voortdurend instruksies uitdeel, al is die instruksies ook hóé waar en goed en reg, kan dit maklik in ’n suur affêre ontaard. Dit is die ou slaggat van wettisisme en moralisme waarin ons kan verval. Veral in konserwatiewe kringe moet ons hierteen waak. In die naam van ’n hele sak beginsels sowel as sogenaamde beginsels oor jou skouer, kan jy jou mense asook jou eie geloofwaardigheid verloor. In die verlede het ons blad al daarop gewys dat dit nie genoeg is om ons kinders te leer wat die regte standaarde is nie. Ons moet hulle veral inspireer om die standaarde lief te hê en te omhels. Wanneer liefhê plaasvind, raak die uitleef van instruksies maklik.

Hierdie gedagte dreun natuurlik deur die hele Bybel. Die teoloë praat van die die verband tussen die indikatief en die imperatief – die verhouding tussen dit wat God vir ons doen en dit wat Hy ons oproep om te doen. Dit wat God vir ons doen, is die bron van alle inspirasie. Hy verras ons vanuit sy alleroorvloedige fontein van goedheid en genade. Hy doen dit konkreet. Hy gee selfs sy eie Seun om onder ons te kom woon en te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie. Groter inspirasie bied niemand as dit nie; dat Hy sy lewe vir sondaars gee. En so roep Hy ons op om in hierdie gesindheid self ook te gaan wandel. So werk God van die begin af. Hy bevry eers sy volk uit slawerny en dan gee Hy hulle sy wet. Hy gee eers sy Seun en sy Heilige Gees aan ons, en dan hoor ons die oproep tot ’n bepaalde soort lewe wat pas by sy oorgawe aan ons. God is die Opperinspireerder vóór Hy instruksies aan ons bied. Wie dit mis, het die evangelie nog nie gevat nie, of, moet ons eerder sê: is nog nie deur die evangelie van Jesus Christus gevat nie.

Miskien is dit ons diepste probleem. Die evangelie het nog te min ons hare deurmekaar gevryf. As ons die evangelie werklik begryp, het Luther gesê, sal ons op ons koppe wil dans van blydskap. Waar dit gebeur, is die inspirasie hemelhoog. Waar dit gebeur, kan die akkoorde van instruksie op die tiensnarige harp van die wet gespeel word op ’n wyse dat mense verstaan dat ons geïnspireer is deur die liefde van God. Maar waar dié inspirasie ontbreek, klink die harp sommer gou-gou skril en skel.

As ons ons kinders wil inspireer, sal ons baie en dikwels moet aansit by die banket van die evangelie – daar waar die vetgemaakte kalf geslag word vir mense wat dit glad nie verdien nie. Konserwatiewe instellings kan so maklik afgly in ouer-broer instellings waar daar baie reëls en min feestelikheid is. Dit is die grondtoon waarin ons hierdie uitgawe moet lees wat belangrike kritiek uitspreek teen die invloed van Egipte (die huidige staat) op ons kinders. Om bloot te dink dat alles wel is as ons ons kinders vanaf die verkeerde standaarde na die regte standaarde begelei het in hul opvoeding, is eenvoudig nie genoeg nie. Evangelieinspirasie is al wat ons sal bewaar van koue reëls waarvan ons kinders uiteindelik sal wil weghardloop.

Iemand kan nou vra: “Maar hoe nou gemaak met dissipline en instruksie?” Dit bring ons by ons ander skoen:

Die linkerskoen: Dissipline lei tot vryheid; onderdrukking lei tot uitbarsting. Met onderdrukking word hier bedoel dat jy die verlangens en begeertes van kinders bloot in ’n hok opsluit. Jy begelei met ander woorde nie die diepste dryfvere van kinders se bestaan nie; jy sit bloot ’n deksel daarop. Dit verg nie ’n kopdokter om daarop te wys dat hierdie deksel iewers met groot krag onder die krag van uitbarsting gaan afvlieg nie. Aan die andek kant: Sonder dissipline kan die begeertes en verlangens van kinders hulle oor die afgrond dryf.

Dissipline gaan oor begeleiding, ook streng begeleiding, van ons begeertes en drange en denke. Maar dit is ’n streng dissipline en begeleiding wat slim te werk gaan en wat lei tot vryheid en lewensdurf. William Kirkpatrick gee baie goeie raad:

“Die lewe is vol en ryk en kompleks soos ’n storie, nie abstrak en netjies soos ’n teorie nie. Die dinge wat met ons gebeur – die groot vreugdes, die intense hartseer, die ruisende passies – is te veel soos drama dat dit verklaar kan word deur enigiets minder as drama ... Wat ons moet insien, is dat deugdelikheid in ’n groot mate ook op die gebied van die verbeelding lê. Tensy die morele verbeelding aangegryp word, word die wil, emosie, en die rede te maklik oorwin deur vrees, luiheid, en selfsug. Die groot fout van die moderne sielkunde lê in die ignorering van hierdie ooglopende feit terwyl dit speel met waarde-verduideliking en besluitnemingsoefeninge. Dit is waarom ek glo dat ons voorvaders, beide Christene en nie-Christene, beter sielkundiges was. Hulle het geweet dat jy die verbeelding moet aangryp, en hulle het geweet hoe om dit te doen.”

Inspirasie en dissipline het daarmee te doen dat ons ons kinders se harte en verbeelding sal betrek. Dit behels dat ons sal vra hoe ons hulle herinneringe en verlangens, hul begeertes en passies, tot in hulle siele toe kan roer. Dit vra dat ons met ’n wêreldbeskouing sal werk wat meer insluit as die regte stel vrae en antwoorde. Kategismus is baie belangrik, maar ons moet luister as iemand soos N.T. Wright ons daaraan herinner dat ’n meersydige wêreldbeskouing, een waarmee jy deurdring na die siel van ’n mens, ook rekening hou met die krag van inspirerende verhale en simbole en tradisies en gewoontes. As ons na ons Meester kyk, besef ons dat dit gebeur terwyl ons onsself in woord en daad opoffer. So word ons lewende bakens en simbole – wegwysers na die evangelie van God se liefde. Kortom, dit vra dat ons ons lewens in liefde sal opoffer, ook wanneer ons minder bemin word. Op hierdie weg vind ons, wanneer ons dit dalk die minste verwag, dat ons kinders honger word vir God se wil.

Hierdie kommentaar is afkomstig van die redaksionele kolom van Die Boodskapper van Junie 2014. 

 

TOP