Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Kom die probleem nie al 100 jaar nie?

  

Die ruwe Suid-Afrika is nou 20 jaar oud en die mislukking daarvan is duidelik. Dit het ’n beduidende invloed op ons volk, met gevolglike werkloosheid en armoede. Van binne is daar egter ook ’n dramatiese geloofs- en kultuurvervlakking onder ons mense teenwoordig met ’n voorspelbare gevolg: versekularisering.

Oorsese druk het baie bygedra tot die totstandkoming van die hibriede Suid-Afrika, maar wat ons minder in eie kring hoor en wat duideliker op die agenda moet verskyn as ons egte genesing soek, is dat die Afrikaner self ook die medeskepper van hierdie post-1994 bedeling is. Waarom?

Terwyl dit maklik is om die skuld op die regering van die destydse Nasionale Party te plaas, moet ons in ag neem dat die regse reaksie op die liberale inisiatiewe ook ’n groot mislukking was. Dit is vanjaar 45 jaar sedert die stigting van die HNP in 1969, wat die eerste sigbare regse reaksie was op verlinksing van die destydse Nasionale Party. Soveel ander reaksies het gevolg. Terwyl ons dankbaar is vir stryders en ook erkenning gee aan die feit dat baie van die voorspellings uit regse geledere bewaarheid is en steeds bewaarheid word, mag ons nie te gemaklik die slagoffer-kaart speel nie. Dringende en deeglike selfondersoek gaan tog verder as dit. My voorstel is dat ons selfs so ver teruggaan as die 18de eeu.

Die Verligting van die 18de eeu het sy merk ook op Suid-Afrika gemaak. Dit klink vandag, ook vir Afrikaners, ondenkbaar dat jy die verhouding tussen die samelewing en die staat anders kan sien as by wyse van 'n kontrak met indiwidue. In Suid-Afrika het hierdie idee reeds neerslag gevind in die ou Unie van 1910. Die idee was reeds hier dat mense deur die korrekte sosiale kontrak ’n ideale samelewing kon bou waarin die idees van vryheid, gelykheid en broederskap as grondbeginsels geld. Die belangrikste verskil tussen die ou en nuwe Suid-Afrika is in hierdie verband geleë in die gedagte dat die ou Suid-Afrika se kontrak in wese eksklusief was waarin enige iemand anders as die blanke uitgesluit was. Deur die insluiting van anderskleuriges is die nuwe Suid-Afrika in hierdie opsig ’n blote uitbreiding van die ou Suid-Afrika.

Die universaliteit van die beginsels van vryheid, gelykheid en broederskap, vereis ’n totale staat, m.a.w. ’n staat waarin elke lid van die samelewing op ’n gelyke wyse in verhouding tot die staat staan. Die staat neem hiermee ’n absolute outoriteitskarakter aan, amper goddelik van aard, en dit stel per implikasie alle ander samelewingstrukture soos die gesin en die kerk ondergeskik aan homself.

Hierdie implisiete ondergeskikstelling van die kerk aan die absolutisme van die staat is altyd verkeerd, ongeag of so ’n staat “verchristelik” is deur erkenning aan God te gee in die aanhef van die grondwet of deur Christelike vakansiedae te erken. Die sous kan nie die gereg red nie en iewers sal dit deurslaan. Die gevolg hiervan is dat die kerk net nog ’n aspek van die samelewing naas andere is, maar die staat staan in die sentrum van alles.

Die kerk word hiervolgens dan ook basies gebruik om die volk of staat te legitimeer en te bestendig. Hierdie legitimasie word dan ’n lens waarmee die Bybel gelees word. Solank hierdie lens op is, is dit ook baie maklik om die saak van die staat in die Bybel gereflekteer te sien. ’n Voorbeeld hiervan is die reaksie van Engeland in sy stryd teen Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Beide state was as absolute state gevestig op die outonomiteit van die volkswil met slegs die bronne van hulle onderskeie legitimiteite as die enigste werklike verskil tussen hulle. Waar die Duitse staat sy volkswil in die Duitse geskiedenis en ras gegrond het, het die Engelse staat die bron van sy volkswil in die Godswil ingelees. Die kerk is dan gebruik om die Duitse, maar ook die Engelse oorlogspoging te legitimeer en eenheid onder die burgery te verkry. Dit is moeilik om te sien hoe die kerk binne so ’n opset ooit iets anders as staatslakei kan wees.

Die staat staan egter, soos enige ander instelling, onder die gesag van God. Anders gestel, in ’n Christelike samelewing staan die staat in diens van God, maar dit staan nie sentraal nie. Dit is medestander van die kerk. Artikel 36 van die NGB, daardie ongemaklike artikel waarvoor daar vandag geen begrip meer is nie en selfs deur ons gereformeerde vaders probeer versag is, spel hierdie feit duidelik uit.

Die vraag wat ons onsself ernstig moet afvra, is of die staatisme nie reeds ’n diepliggende probleem in die ou Suid-Afrika was nie. Hiermee saam moet die ongemaklike vraag ook gevra word oor die jaarlikse Geloftedag. Is die vieringe werklik gehou om God te dank en te eer vir sy beskerming, of was dit dikwels misbruik om die volksidentiteit te vestig en in stand te hou? Glo ons nie dalk in ons harte, soos die liberales, dat ons self deur middel van staatisme ’n ideale samelewing kan bou as ons net volgende keer harder probeer en suiwerder met ons beginsels omgaan nie?

Ons moet besef dat volkwees, soos alle dinge in die skepping, ’n geskenk van God is en iets is wat bygevoeg word soos wat ons die koninkryk soek. Soek eers die staat en die volk en dit word ’n harde meester met slegte belonings. Is die versekularisering van ons mense nie die prys wat ons nou betaal vir ’n probleem wat al vir ’n honderd jaar in aantog is nie? Die ou Unie was reeds 'n onderhandelde staat en die punt is dat dit nooit bedoel was om 'n volksrepubliek te wees nie, ook nie toe ons 'n republiek gevorm het nie. Die egte Christokraties-republikeinse gedagte met vele tussen-instellings wat verstaatliking en individualisme teenwerk, is iets waaroor ons baie indringender sal moet dink. Tugtig God ons nie met die ANC-regime omdat Hy ons tot diepe inkeer, tot sover terug as voor die begin van die vorige eeu, wil roep nie? Laat ons dan diep delf en besin. God het al meermale ’n volk wat Hom naas ander dinge stel en om die verkeerde redes eer, van die aardbol laat verdwyn.

Ons moet onsself ernstig afvra of ons lidmate van die AP Kerk is omdat ons eintlik net nostalgies na vervloë dae van die staat verlang toe dit met dieselfde uitgangspunte meer eksklusief opgetree het. Daar is ’n uitnemender weg: Ons is lidmate omdat ons werklik ons harte en lewens wil rig volgens God se Woord, soos dit voortreflik in die gereformeerde leer vervat is; omdat ons kerk wil wees wat die koms van die koninkryk van God wil dien en wat niemand behalwe God se instrumente wil wees nie. Volkwees, saam met baie ander wonderlike dinge, word op hierdie weg van Matthéüs 6:33 bygevoeg.

 

TOP