Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Staatsonderwys onder die loep

    

In twee vorige bydraes is gehandel met (1) die morele besware teen, en (2) die harde realiteite van staatswelsyn. In hierdie bydrae fokus ons op 'n besondere tipe staatswelsyn, een wat vandag amper net soveel deel is van die Afrikanerkultuur as biltong, boerewors en potjiekos. Dit is die konsep van staatskole.

Waarom kan ons staatsonderwys as staatswelsyn beskryf? Wel, gegewe dat 'n staatskool hoofsaaklik met belastinggeld befonds word, ontvang die ouer 'n gesubsudieerde diens (in die geval waar skoolfonds betaalbaar is) of 'n gratis diens (waar geen skoolfonds betaalbaar is nie). In effek dra die gemiddelde belastingbetaler (wat nie noodwendig 'n kind op skool het nie) die las om hierdie diens aan die ouer te finansier. Om groter egter nou konteks en meer diepte aan hierdie argument te gee, kom ons begin by die begin.

 

Wat beteken opvoeding?

Elke kind kom in hierdie wêreld sonder enige van die intellektuele eienskappe en vermoeëns van 'n volontwikkelde volwassene; maar anders as by diere, het elke baba die potensiaal dat hierdie hoë orde eienskappe, spesifiek die vermoë om te redeneer, in hom/haar ontsluit kan word.

Elke kind het dan ook nie net 'n unieke persoonlikheid en intellektuele kapasiteit nie, maar word ook groot binne 'n bepaalde milieu of omgewing - 'n gesin, 'n familie, 'n kultuur, 'n geloof en 'n wêreldbeskouïng. Dit alles speel 'n rol in die kind se ontwikkeling en vertolking van dit wat hy/sy rondom hom/haar sien.

Hierdie hele proses vanaf geboorte tot en met volwassenheid, wanneer die kind sy/haar intellektuele vermoeëns grootliks ontsluit en wêreldbeskouïng ontwikkel het, kan as die kind se opvoeding beskryf word.[1]

As Christen-ouers kry ons dan ook spesifiek ons roeping uit Bybeltekste soos:

En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.[2]

Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.[3]

 

Formele onderwys   

Opvoeding word egter ook beslaan deur 'n deel wat meer inspanning verg as die gewone spontane interaksie met familie, vriende, die kerkgemeenskap, die natuur en saam met Pa in die landerye of Ma in die kombuis; dit is spesifiek die area van intellektuele kennis – daardie kennis anderkant die kind se daaglikse handel en wandel. Kennis wat heelwat meer ontwikkeling en oefening van die rede vereis.[4]

Formele onderwys is gevolglik ook meer gespesialiseerd as die res van die kind se opvoeding en, gegewe die ouer se werkslas en eie sterk en swak vakgebiede (wat nie noodwendig met dié van die kind ooreenstem nie), sal die ouer dalk verkies om hierdie spesifieke taak aan 'n geskikte tutor teen vergoeding te delegeer.

Aangesien die ouer sy/haar kind baie goed ken, en klasse kan aanpas by die kind se intellektuele vermoë en aanleg (deur minder tyd te beste aan daardie gebiede wat die kind vinnig snap en langer aan daardie areas waar die kind langer neem om te begryp), is hierdie die mees ideale vorm van onderwys.[5]

'n Tutor wat een-op-een onderrig verskaf kan natuurlik 'n groot las van die ouer se skouers afneem - wat alreeds in 'n daaglikse stryd gewikkel is net om kos op die tafel te sit. 'n Tutor is ongelukkig duur en nie almal van ons kan dit werklik bekostig nie.

Die derde alternatief, maar ook die oneffektiefste, is onderrig in klasverband. Aangesien ongeveer dertig kinders (elk met verskillende persoonlikhede en vermoeëns) in die klas sit, word lesse rondom die grootste gemene deler uitgewerk. Die kind wat baie sterk op 'n sekere vakgebied is, kan maklik verveeld raak en dan die reputasie as belhamel kry, of, die kind wat dalk meer aandag en tyd verg kan bloot agterweë gelaat word. Hierdie opsie is egter die mees koste-effektief en word deur meeste ouers verkies. Alhoewel hul kind inboet mbt een-op-een onderrig, glo ouers hierdie opset kweek gesonde sosiale verhoudinge, maak dit die kind meer selfstandig en voorkom dit tot 'n groot mate dat die kind dalk te geïssoleerd groot word.  

 

Staatsonderwys as konsep

Staatsonderwys, nes enige ander vorm van staatswelsyn, het 'n edele motief. Die ongeletterdheid en armoede van die bevolking dien as beweegrede vir welmenende politici om 'n beleid mbt onderwys te formuleer (wat skoolplig insluit) en dit uit die staatskas te finansier.

Die enigste “koste-effektiewe” en werkbare model vanuit ‘n staatsburokratiese oogpunt is dan in klasseverband. Die nadele van onderwys in klasseverband word egter vererger deurdat burokrate n nasionale kurrikulum opstel wat nie net op die vermoë en persoonlikhede van 30 spesifieke kinders in 'n klas moet fokus nie, maar die grootste gemene deler onder duisende of miljoene in daardie jaargroep moet gebruik. Hoe groter die ongelykheid in intellektuele vermoë binne die betrokke jaargroep leerders, hoe groter die onreg aan die individuele leerder – een wat nie by die pas kan byhou nie en 'n ander wat nie genoegsaam gestimuleer word nie. Om dan ook nie eers te praat van burokratiese doelwitte en politieke druk mbt slaagsyfers wat noodwendig beteken dat standaarde verlaag nie.

Soos reeds vermeld in een van my vorige artikels, besef die gevestigde politieke elite later dat hulle munt kan slaan uit 'n ongeletterde, permanente staatsafhanklike onderklas wat met goedkoop beloftes omgekoop kan word. Streng en somtyds heel arbitrêre regulasies word vervolgens deur die staat deurgevoer om kompetisie van privaat instansies (wat 'n hoër standard handhaaf[6]) aan bande te lê en so 'n monopolistiese wurggreep oor die onderwys te verkry.[7]

Die staatskurrikulum word dan ook voorgehou as die alfa en die omega en druk word op private instansies geplaas om dit te volg. So het die Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement bv op 11 Februarie 2014 en weer op 4 Maart 2014 'n spreekwoordelike skoot oor die boeg van tuisonderrig gevuur om dan ook so die reaksie van die publiek te pols.[8]

Volgens 2011 se Jaarlikse Nasionale Assessering het Suid-Afrikaanse graad 3 leerlinge 'n gemiddeld van 35% in letterkunde en 28% in wiskunde behaal, terwyl graad 6 leerlinge onderskeidelik 28% en 30% behaal het. Hierteenoor het die matrikulasiesyfer wel statisties toegeneem, maar is meeste van hierdie slaagsyfers onder 50%; wiskunde en wetenskap is die vakke wat die meeste gedruip word.[9]

Hierdie tendens is egter nie uniek aan Suid-Afrika nie. Die akademiese standaarde van die Amerikaanse staatskole daal al sedert die 1960's[10] tot waar ‘n vyfde van Amerikaanse tieners vandag nie eers die VSA op 'n kaart kan aandui nie[11]. In Mei 2011 het die Londense aandblad, die London Evening Standard, ‘n veldtog genaamd “Get London Reading” van stapel gestuur om ongeletterdheid in die Britse hoofstad aan te spreek nadat bevind is dat een uit agt leerlinge laerskool verlaat sonder die vermoë om behoorlik te kan lees.[12]   

 

Staatsonderwys as ideologiese instrument

Terwyl staatsonderwys aanvanklik bedoel is en ook aan die publiek voorgehou word as 'n bekostigbare diens wat daarop fokus om formele onderwys na die massas te bring, het dit altyd ook 'n versteekte ideologiese angel.

The education of all children, from the moment that they can get along without a mother's care, shall be in state institutions at state expense” – Karl Marx

Aangesien hierdie oplossing mbv die staatsburokrasie na die burgery gebring word, meen die burokrate dan ook dit is hul goeie reg om staatsbeleid ook subtiel en somtyds minder subtiel daardeur te promoveer.

Die idee dat die ouer verantwoordelik is vir die kind se breër opvoeding en dat die staat slegs formele onderwys verskaf, is vinnig iets van die verlede en kort voor lank staan elke staatskool in diens van 'n ideologiesdeurtrekte kurrikulum.

Give me four years to teach the children and the seed I have sown will never be uprooted” - Vladimir Ilyich Lenin

Soos wat die destydse Christelik-Nasionale onderwys die gereformeerde wêreldbeskouïng gepromoveer het en ook deur die regerende NP gebruik is om Apartheidsbeleid te ondersteun, netso promoveer die huidige staatskurrikulum ‘n sosialisties-egalitaries, humanistiese waardesisteem en word dit ook deur die regerende ANC/SAKP gebruik om uitvoering aan die Nasionale Demokratiese Revolusie te gee.[13]

Histories gesproke kan Afrikaner voorstanders van staatsonderwys natuurlik nie van kwade bedoelings[14] beskuldig word nie en was alle resultate ook nie altyd negatief nie.[15] Maar gegewe ons veranderende omstandighede, is dit egter ook moontlik om met die voordeel van terugskoue die impak van hierdie beleid meer omvattend te beoordeel.[16]

Ongelukkig twyfel ek of mens dieselfde kan sê van Christen-Afrikaners wat tans nog voorstanders van staatsonderwys is (dis egter iets heeltemal anders as mens weens omstandighede nie anders kan as om jou kind in 'n staatskool te hê nie). Gegewe dat ons daagliks met die regerende party se blatante godloënende uitsprake en beleid gekonfronteer word en ons ook kan sien hoe die staatskurrikulum deurtrek is van 'n wêreldbeskouïng wat lynreg met ons s'n bots, moet die ouer lank en goed nadink oor die doopbelofte wat hy/sy afgelê het. 

 

Alternatief

Eerstens moet ons as Christen-ouers weer erns met ons doopbelofte maak en ook besef dat ons verantwoordelikheid aanvaar het vir die grootmaak van ‘n Verbondskind.

Tweedens moet ons onsself afvra wat ons kinders benodig, watter opsies beskikbaar is en hoe ons dit vir hulle kan bied.

Derdens moet ons bereid wees om ons lewens rondom die benodighede van ons kinders in te rig. Dalk moet ek dit oorweeg om nader aan 'n Christelike privaatskool te trek, of, moet ons dalk tuisonderrig ernstig oorweeg.

Vierdens moet ons ‘n ondersteuningsbasis vorm. Ouers wat hul kinders tuis onderrig kan onderlinge sosiale geleenthede vir hul kinders reël. Ons kan ook tot ‘n fonds bydra waarmee ons minder gegoede mede-gelowiges met skoolfondse by privaatskole bystaan.

Vyfdens, kerke en meer spesifiek Afrikaanse Protestantse Kerke, bemagtig deur hul lidmate se tiendes, moet aktief betrokke raak by die opvoeding van ons kinders.

Vir meer inligting tot 'n alternatief wat dalk vir u gesin mag werk, besoek gerus die volgende webwerwe:

http://www.bcvo.co.za/

http://www.kenweb.info/

http://www.arso.co.za/

http://www.pestalozzi.org/

http://tuisopvoeding.webs.com/ged.htm

http://www.logospressonline.com/logos-homeschool-bundles/ 


[1] Education: Free and Compulsory, Murray N Rothbard

[2] Deuteronómium 6:6 & 7, 1953 Afrikaanse vertaling

[3] 2 Timótheüs 3:14-17, 1953 Afrikaanse vertaling

[4] Op.cit. voetnoot 1

[5] In die VSA is dit die kinders wat tuis onderrig word wat skoonskip op die “spelling bees” maak, sien Home Schoolers Lead Spelling Bee

[6] In my dae op universiteit is die CVO-matrikulante deur Tukkies daarvan vrygeskeld om die universiteit se eie toelatingseksamen te skryf en was hulle matriek goed genoeg. Daarteenoor moes staatskoolmatrikulante deur die bank die universiteit se eie toelatingseksamen skryf.

[7] Die Eksamenraad vir Christelike Onderwys (Erco) se voorwaardelike akkreditasie as eksamen-liggaam is bv deur Umalusi teruggetrek en van die redes sluit in dat dit nie genoeg leerlinge het nie en ook agv bestaande risiko’s rondom veiligheid by eindeksamens.

[9] South Africa’s education crisis, Felicity Duncan

[13] Ideologiese breinspoeling in eksamenvraestelle, Praag, 27 November 2008

[14] Die voorstanders van Christelik-Nasionale onderwys het dit as deel van hul Christelike roeping geag om mense te bemagtig en terselfde tyd ook die Evangelie uit te dra. 

[15] In sy boek Die Afrikaners: ‘n Biografie wys Hermann Giliomee op bl 543 hoe swart inskrywings in hoër onderwys toegeneem het in die jare 1960-1985.

[16] Aangesien Bantoe-onderwys m.b.v. belastinggeld (dwang) gefinansier was, het die gemiddelde Afrikaner nooit die swart bevolking uit eie keuse en o.g.v. naaste liefde bygestaan nie. Die gevolg is dat mens vandag telkens met die groot teenstrydigheid gekonfronteer word waar Afrikaners vinnig is om te vertel hoeveel swart skole gedurende Apartheid m.b.v. Afrikanergeld gebou is, maar ook geneig is om welbekende liefdadigheidsorganisasies te verkwalik wanneer dit blyk dat van die geld wat tans vir armes ingesamel word, ook aan swart kinders gaan. Aan die anderkant het Christen-Afrikaners self die burokrasie van nasionale onderwys geskep wat tans ons kinders breinspoel. Daar waar dit eens gebruik was om ons wêreldbeskouïng aan die massas uit te dra, dwing dit nou 'n egalitaries humanistiese een aan Afrikaners op.

 

TOP