Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Toeskouers van die geskiedenis?

  

Die 19de-eeuse Franse skrywer Jean Baptiste Alphonse Karr het ons met die volgende frase bedien: "hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde." Dit is hierdie frase wat in my gedagtes maal na afloop van die algemene verkiesing.

Die verskillende politieke partye het by elke algemene verkiesing oor die afgelope 20 jaar presteer soos aangedui in die meegaande tabel. Lees gerus tussen en saam met die lyne.

Dit is duidelik dat die partypolitieke landskap geen aks verskuif het oor die afgelope 20 jaar nie. Ons kan dus na meer van dieselfde uitsien gedurende die volgende 5 jaar: Die Afrikanisering van Suid-Afrika gaan voortduur. Dit sluit in verswarting van die werksplek, en wanneer dit volbring word, die verswarting van eiendomsbesit.

Ons sal onder toenemende druk verkeer namate Swart Ekonomiese Bemagtiging, Regstellende Aksie en Grondhervorming vorder en ons sal al meer op mekaar en op ons vindingrykheid moet steun ten einde die negatiewe ekonomiese en sosiale gevolge van die regering se beleid van aktiewe benadeling op mekaar te verminder.

In vergelyking met ander klein volke wat onderwerp is aan die tirannie van die meerderheid (waar twee hiënas en een springbok moet stem oor wat, of wie, hulle vir aandete gaan voorsit), is ons al beter gerat om ten spyte van die regering se benadeling te floreer.

Ons het reeds menige instellings op die gebied van kerk, burgelike samelewing, politiek, vakbond, media, maatskaplike hulp en onderwys wat die kern vorm van 'n moderne weergawe van die Reddingsdaadbond. Die bekende wekroep van ds. JD Kestell weerklink steeds: "'n Volk red homself."

Afrikaners se identiteitsbewussyn was egter tot op hede baie sterk verbind aan ons Suid-Afrikaanse identiteit. Dit gebeur byvoorbeeld dikwels dat wanneer 'n Afrikaner vir Engeland of Australië op die sportveld verskyn, dat ander Afrikaners hom of haar sal beskryf as 'n "Suid-Afrikaner" en nie 'n "Afrikaner" nie.

Hierdie eensydige gebruik ondermyn ons bereidwilligheid om vir mekaar in die bresse te tree wanneer die Suid-Afrikaanse verval en benadeling gapings in ons geledere slaan.

Ons moet daarom oor ons volksskap vir onsself ook iets anderkant die beperkende Britse koloniale grense van Suid-Afrika verbeel. Ons moet minder slapelose nagte hê oor hoe ons Suid-Afrika kan red en meer oor hoe ons ons volk kan red, gegewe 'n nalatige of selfs vyandige Suid-Afrika.

Dit beteken nie dat ons ander Suid-Afrikaners die rug toekeer nie, maar dat ons alles moontlik doen om te verseker dat ons vermoë om 'n bydrae te lewer, volhoubaar sal wees; dat ons volgens die voorskrif van 1 Tim 5:8 ons plig teenoor ons eie mense en ons gesinne sal nakom.[1]

Dit begin ook tyd raak dat ons tot 'n groter mate ons beperkte hulpbronne koördineer om sinergie te skep wat die tempo van ons vordering sal verhoog.

Is dit nie byvoorbeeld meer raadsaam om oor die volgende 10 jaar 'n proses te begin om al ons bekende organisasies wat die belange van die Afrikaner dien baie sterker in ’n konfederale samewerking in te bind nie? Is dit nie tyd dat ons baie ernstiger besin oor 'n plek wat kan dien as lewende simbool en monument en sentrum vir Afrikaneruitnemendheid nie?

So 'n lewende organisme sal tot 'n groot mate daartoe bydra om weer optimisme, energie en selfvertroue aan ons volksgenote en hul kinders vir die toekoms te gee. Vanuit so 'n sentrum van uitnemendheid kan ons baie meer doen om nie net Afrikaners nie, maar ook ander mense by te staan en op te hef deur die behoud en oordrag van kennis en skaars vaardighede.

Dit stel ons, in afhanklikheid van ons Skepper, weer in staat om ons kollektiewe heil uit te werk; in teenstelling met ons huidige stand waar ons toeskouers is van die geskiedenis wat besig is om met ons te gebeur.


 [1] "Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as 'n ongelowige."

 

 

TOP