Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Bemagtig of Afhanklik?

Ten spyte van die reeds uiteengesette morele beswaar teen staatswelsyn, is daar sekerlik diegene wat sal aanvoer dat die voordele daarvan die nadele ver oortref – ‘n soort van “the end justifies the means” benadering. Die groot kwessie, so word aangevoer, is nie of staatswelsyn moreel is nie, maar eerder watter teenwigte in plek gesit kan word om uitbuiting daarvan en drakoniese belastingheffings te voorkom, om dan só die gewensde uitkomste te help verseker.

 

Hoe staatswelsyn begin

  

Wel, om die haalbaarheid van hierdie doelwit te toets, sal dit eerstens vir ons nodig wees om die aard van die demokratiese staat van naderby te beskou.

 

Die aard van die Demokrasie en ekonomiese uitbuiting

Die Duitse ekonoom en filosoof, Hans-Hermann Hoppe[1], tref die volgende onderskeid tussen ‘n Monargie en Demokrasie:-

In teenstelling met ‘n Monargie waar onteiende bates asook die alleenreg om belastings te hef, deel uitmaak van die Monarg se private boedel (wat hy by sy afsterwe aan sy erfgenaam sal bemaak), besit die demokraties verkose regeringsamptenaar nooit die bates self nie. Dit vorm eerder deel van die publieke goedere waaroor hy/sy slegs as trustee of rentmeester aangestel is. Die demokraties verkose amptenaar is ook nie by magte om staatshulpbronne te verkoop en die opbrengs in eie sak te steek of dit aan ‘n erfgenaam te bemaak nie; hy/sy het m.a.w. slegs die vruggebruik van staatshulpbronne, maar besit nooit die kapitale waarde daarvan nie.[2] Verder is toegang tot demokratiese regering oop vir almal en word dit nie soos in ‘n Monargie beperk nie. 

Gegewe dan verder dat ons as sondige mense (ook diegene in magsposisies) hoofsaaklik deur selfsug en eie belang gedryf word, maak Hoppe die oortuigende voorspelling dat ‘n Monarg (wat sy private boedel eendag aan sy erfgenaam wil bemaak) meer geneig sal wees om ‘n langer beplanningshorison en laer tydsvoorkeur[3] te hê en sal hy/sy gevolglik ook minder geneig wees tot onvolhoubare ekonomiese uitbuiting as ‘n tydelike rentmeester wat nooit self die kapitale waarde van die staatshulpbronne besit nie.[4]

Hou ons hierdie inherente trekkragte in gedagte en ons neem ook in aanmerking die feit dat ons staatsrentmeesters op ‘n populistiese basis verkies word, is dit vanselfsprekend dat populistiese beleid eerder as gesonde beleid, telkens sal seëvier. Dit is dan ook heeltemal aanvaarbaar om die logiese lyn net ‘n bietjie verder te trek en te argumenteer dat aangesien politici meestal op grond van populistiese beleidstandpunte herverkies word, sal slinkse en siniese politici die aanwesigheid van ‘n groot, permanente, staatsafhanklike onderklas (wat met goedkoop verkiesingsbeloftes omgekoop kan word) verkies.    

Die apologeet vir staatswelsyn mag dalk na sekere historiese tydperke of staatspersone in demokratiese lande se geskiedenes wys om te toon dat die welsynstaat wel suksesvol geïmplimenteer (Swede[5]), of suksesvol ingeperk kan word sou dit hande uitruk (Brittanje onder Margaret Thatcher[6]), maar wat mens sal vind is dat die kontekstuele periodes voor en na die geïdentifiseerde tydperk geriefshalwe buite rekening gelaat word.

 

Watter effektiewe staatswelsyn?

Sedert die sondeval ervaar die mens werk as moeite – “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet...” So, wanneer daar iets is wat die mens verniet kan kry sonder om voor te werk, kan ons verwag dat die mens dit in die hande sal probeer kry. Kombineer hierdie realiteit met die demokratiese proses waar die politikus met stemme beloon word om een persoon te belas en ‘n ander te bevoordeel en dit word vinnig duidelik waarom staatswelsyn die probleem vererger en nie verlig nie.

Aangesien hulp of versorging gratis beskikbaar is, sal meer mense daarvoor aansoek doen[7], die groter aanvraag na hulp, skep weer ‘n groter aanvraag na fondse, wat dan doodeenvoudig in die volgende belastingjaar met eensydige hoër belastings[8] geïn kan word. Die groter beskikbaarheid van gratis dienste, versorging, behuising en fiansiële toelaes as gevolg van die politikus se toedoen, beteken dat die politikus weer in sy/haar amp herkies sal word. Enige sprake van meer effektiewe welsyn is egter ‘n verlore saak en meestal slegs lippediens, aangesien die politikus en elke burokratiese staatsamptenaar wat by die welsynspoging betrokke is, voordeel trek uit die addisionele fondse wat deur hoër belasting na sy/haar department gekanaliseer word.

“Government does not solve problems; it subsidizes them.” Ronald Reagan

Hierdie bose kringloop het per slot van sake die uitwerking dat die burgery meer afhanklik van die staat word en nie in swaarkry bemagtig word om weer op eie bene te staan nie - die sg. veiligheidsnet word as’t ware ‘n kiepnet.[9]

 

Hoe staatswelsyn eindig

 

Die privaat alternatief

In ‘n bedeling waar welsyn vrywillig is en uitsluitlik deur donasies befonds word, is dit juis die element van baie beperkte fondse (wat die aanvanklike regverdiging vir staatswelsyn is) wat dit effektiewer en meer bemagtigend maak.

‘n Welsynsorganisasie wat baie beperkte donasies verkwis en amptenare het wat in weelde leef, terwyl min fondse gebruik word om behoeftiges by te staan, sal agterkom dat donasies vinnig begin opdroog. Die persoon wat graag behoeftiges wil help sal doodeenvoudig sy fondse aan ‘n meer verantwoordelike organisasie skenk. In teenstelling met staatswelsyn sal ‘n private welsynsorganisasie van meet af sy bes probeer om behoeftiges op die mees effektiewe manier te bemagtig, sodat die baie beperkte fondse tot meer drukkende gevalle aangewend kan word.

Die afwesigheid van staatswelsyn sal ook beteken dat die waarde van groter gesinne - wat mekaar in tye van nood bystaan - weer herontdek word. ‘n Groter waardering vir meelewende gemeenskap sal ook weer gevestig word, met die Kerk wat weer sentraal sal staan in beide die geestelike en fisiese behoeftes van haar lidmate.    

In ‘n tyd wat baie Afrikaners verarm en sommiges ook besig is om hulle selfvertroue en sin vir menswaardigheid te verloor, kan ons almal gerus meer betrokke raak by baie goeie privaat inisiatiewe, hulle is o.a. Volkshulp 2000 wat by (012) 755-8201 gekontak kan word en Solidariteit Helpende Hand.  


[1] Political Economy of Monarchy and Democracy, Hans-Hermann Hoppe

[2] Dink aan ‘n huis. Die vruggebruiker mag dit uitverhuur en die opbrengs na goeddenke aanwend, maar kan dit nooit verkoop of testamentêr bemaak nie.

[3] Dit is die bereidwilligheid om voordeel uit te stel met die hoop op ‘n groter voordeel later. Iemand met ‘n hoë tydsvoorkeur sal weer die voordeel nou verkies, ten spyte van die moontlikheid van ‘n groter voordeel later.

[4] Hoppe probeer nie hierdeur Monargie as ideale regeringsmodel voorhou nie, maar wys bloot daarop dat die inherente trekkragte tot ekonomiese uitbuiting sterker is in ‘n Demokrasie, as in ‘n Monargie. 

[5] Swede word dikwels voorgehou as die voorbeeld van ‘n suksesvolle welsynstaat. Maar hierdie is slegs ‘n mite, sien The Sweden Myth, Stefan Karlsson.

[6] Wat Thatcher aanbetref, word geriefshalwe vergeet dat sy deur haar eie Konserwatiewe Party uitgeforseer is as gevolg van die omstredenheid van haar beleidstandpunte. Die Konserwatiewe Party is ook in 1997 ‘n groot loesing by die stembus deur Tony Blair se Arbeidersparty toegedien - wat weer nuwe woema aan die welsynstaat gegee het.

 

[8] Dis belangrik om te onthou dat die staat slegs deur twee maniere fondse kan bekom: (1) d.m.v. belasting, en (2) om skuld aan te gaan wat later terugbetaal sal moet word deur toekomstige generasies te belas

[9] Volgens ‘n berig getiteld “More people on grants than with jobs” in die City Press van 27 Junie 2013 beweer die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge dat daar in 2012 net 90 werkende mense was vir elke 100 mense wat een of ander vorm van staatswelsyn ontvang.  

 

TOP