Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Gesinsgrootte en welvaart

  

Is groter gesinne werklik ‘n rede vir armoede?

Die stelling dat baie kinders ‘n oorsaak van of verklaring vir armoede is, is algemeen bekend.

Aan die een kant is dit baie sigbaar dat vroue in armer lande baie kinders het, en daar is data wat dit wys. Die Menslike Ontwikkelingsindeks (MOI) is ‘n aanwyser wat deur die Verenigde Nasies gebruik word om die vlak van menslike ontwikkeling in lande aan te dui en word gebasseer op lewensverwagting, vlak van onderwys, en inkomste. Die maksimum punt wat ’n land op die MOI-skaal kan haal is 1. Lande wat ‘n MOI van 0.3 het, het gemiddeld 8 kinders per vrou. Lande met ‘n MOI van 0.8 het gemiddeld 1.75 kinders per vrou.[1]

Ons word verder gebombardeer met artikels wat stel hoe duur dit is om ‘n kind groot te maak. Rapport skryf op 11 Januarie dat kinders wat vanjaar vir die eerste keer skool toe gaan hul ouers tussen 2014 en 2030 ongeveer R500,000 tot R2 miljoen per kind uit die sak gaan jaag.[2]

Tog is die stelling dat kinders tot armoede bydra ’n eenvoudige wanvoorstelling, en om dit aan te toon wil ek twee aannames onderliggend hieraan uitdaag.

Die eerste aanname wat ek wil uitdaag is dat mense universeel dieselfde is. Hierdie aanname word ondersteun deur die liberale ideologie wat mense reduseer tot losse individue. Waar jy dus twee lande het, die een ryk en ander een arm, en waar die ryk een dan minder kinders het as die arm een, word klakkeloos aanvaar dat die aantal kinders die rede is vir die armoede.

Maar is alle mense dieselfde? Daar is komplekse redes waarom sekere volke armer is as ander. Daar is baie lande waarin onderwys nie ’n prioriteit is nie, waar daar nie ’n bewussyn van persoonlike verantwoordelikheid is nie, en waar mense eenvoudig hulle lot aanvaar. Hierdie elemente skep ‘n atmosfeer waarin produktiwiteit gesmoor word en ek wil aanvoer dat die armoede of rykdom van ’n land ’n funksie van produktiwiteit is en nie van die aantal kinders nie.

Die tweede aanname is dat geld of inkomste noodwendig beperk is en wat dan beteken dat meer mense in die poel tot ‘n kleiner deel vir elkeen in die poel lei.

Hierdie zero-som aanname is foutief, want geldvoorraad is ‘n funksie van die ekonomie. Hoe groter die ekonomie van ‘n land, hoe meer geld word in omloop gestel. Die ekonomie is weer ‘n funksie van aktiwiteit. Meer mense lei tot meer aktiwiteit. Daarom is Swaziland se ekonomie groter as die maan sin. Groter produktiwiteit per persoon lei ook tot meer aktiwiteit. Daarom is die VSA se ekonomie groter as Sjina sin, al is daar 4 keer meer mense in Sjina as in die VSA.

‘n Eenvoudige wyse om na die rol van geld te kyk, is om te sien dat die geld in omloop nie minder raak omdat dit gebruik word nie. As iemand R500,000 gebruik om ‘n huis te bou is daar nie skielik R500,000 minder in omloop omdat daar nou 1 meer huis staan as voorheen nie. Nee, daar is nou ‘n R500,000 huis en die R500,000 is nog steeds in omloop, want die bouer gebruik dit nou om weer sy kostes te betaal. Produktiewe aktiwiteit het dus R500,000 se waarde tot die grootte van die ekonomie gevoeg.

Produktiwiteit is ‘n funksie van werksetiek en vindingrykheid. Hoe meer ons werk, hoe meer raak ons inkomste, maar ons moet ook slimmer werk. Iemand wat ‘n meganiese stroper bestuur is baie meer produktief as iemand wat mieliekoppe met die hand pluk en verdien meer, maar diegene wat die beste meganiese stropers ontwerp en koste-effektief bou maak meer geld as enige stroperdrywer of selfs boer.

Daar is wel groepe met groot gesinne wat welvarend is. Die Mormone en die Amish in die VSA is ’n goeie voorbeeld. So ook die “Brethren” in Australië en Nieu-Seeland. Hierdie groepe het weens hul geloofsoortuiging groter gesinne, maar omdat hulle uiters produktief en ondernemend is, is hulle ook baie welvarend.

In die Oekraïne sien ons weer dat klein gesinne nie tot welvaart lei nie. Die land handhaaf die laagste geboortesyfer, maar is armer as hul bure in Europa en Rusland.

Die tendens waarvolgens beter ontwikkelde lande ‘n laer geboortesyfer het, het ook onlangs begin omkeer. Soos wat MOI toeneem, is daar ‘n daling in geboortesyfer tot waar die MOI 0.9 bereik, maar dan keer die tendens om, soos in die volgende grafiek gewys[3]:

Ons lewens is inherent waardevol omdat ons die beeld van God dra. Die ekonomie is in ons diens en vrese oor welvaart moenie bepaal hoeveel kinders ons het nie. Kinders is ’n gawe en waar ons hulle ontvang moet ons dankbaar wees vir hulle. Ons moet egter ook ons opvoedingstaak ernstig opneem, want daarin is hul toekomstige welsyn - geestelik en fisies - opgesluit.


TOP