Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

.....

Die Vryheidsfront Plus se verkiesingsplakkaat met die slagspreuk “Slaan terug”, het daarin geslaag om iets van die innerlike verset en protes wat tans in baie Afrikaners en Suid-Afrikaners se harte leef, te verwoord. Mense kon daarmee assosieer, want hulle is in opstand. Oral in die land word daar op verskeie maniere teen ’n verskeidenheid dinge protes aangeteken.

Tydens die sogenaamde “swart Maandag” protesoptrede van 2017 gee derduisende Suid-Afrikaners hulle ongelukkigheid met plaasmoorde weer. In Oktober verlede jaar reël Solidariteit ’n optog na SASOL se hoofkantoor in Sandton om hulle ongelukkigheid met SASOL se aandeleskema waarin slegs swart werknemers bevoordeel word, uit te druk. ’n Ander deel van die Suid-Afrikaanse bevolking kies om hulle verset en protes op ’n meer gewelddadige wyse uit te druk. Daar gaan amper nie ’n dag verby waar daar nie iewers bande gebrand, klippe gegooi en infrastruktuur beskadig word in ’n poging om die regering se aandag op mense se ongelukkigheid te fokus nie.

Buiten vir dit wat reeds genoem is, sluit die sake waaroor mense in verset is en waaroor hulle protesteer, dinge in soos grond – die onteiening daarvan, maar ook die behoefte daarna (of selfs opeising daarvan). Mense is ongelukkig oor swak dienslewering, leë beloftes wat na bykans dertig jaar nog steeds nie nagekom is nie en werkloosheid. Daar is groot ongelukkigheid oor die stand van die ekonomie – dinge soos hoë brandstof- en kospryse bring mense in opstand. Mense is keelvol vir korrupsie, plaasmoorde en ander vorme van misdaad en wetteloosheid. Sekere groepe, soos die San-volk, protesteer omdat hulle voel hul word nie as die regmatige eerste inwoners van Suid-Afrika erken nie, terwyl Afrikaners in opstand kom omdat hulle kultuur en veral iets soos moedertaalonderrig en Afrikaanse skole en universiteite toenemend in die spervuur is.

Tog is dit interessant om tussen al hierdie dinge waaroor daar, dikwels met reg, in opstand gekom word, na ’n gemene deler te soek. Wat uitstaan tussen al die sake waaroor mense protesteer, is dat dit hoofsaaklik beperk is tot daardie dinge wat ons aardse sekuriteit bedreig. Dit wat ons welvaart, gerief, leefstyl of selfs net ons vermoë om te oorleef in gedrang bring, is die dinge waarteen ons in opstand kom. Dit is dinge waarvoor mense selfs bereid is om die wapen op te neem en oorlog te maak. Natuurlik is dit nie verkeerd om teen hierdie soorte onreg in opstand te kom en daarteen te protesteer nie. Die Skrif eis immers dat ons teen alle vorme van onreg en goddeloosheid in opstand sal kom, veral waar die Goddelike lewensbeginsel in gedrang kom. Wat ons egter moet besef is dat gelowiges se stryd oor baie meer gaan as net grond of daardie dinge wat tot ons aardse sekuriteit bydra. Ten diepste gaan dit oor grondgebied – die grondgebied van die hart. As ons dit nie besef nie, gaan ons uiteindelik baie meer as net ons grond, ons werke, of instellings verloor.

Dit is ’n stryd wat reeds in die tuin van Eden begin het en wat uiteindelik deur die moederbelofte van Génesis 3:15 tot met die wederkoms in die vooruitsig gestel word: Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt. Paulus sluit hierby aan wanneer Hy in Efésiërs 6:12 skryf: Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.

Van hierdie stryd was die kerk nog altyd deeglik bewus. Dit was ’n stryd wat die apostels en baie van ons geestelike voorvaders aan hulle lyf gevoel het. Verset in die naam van hierdie stryd, was ook nog nooit vir die kerk vreemd nie en word veral in Petrus en Johannes se getuienis teenoor die Joodse raad verwoord: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense (Hand. 5:29).

Die Reformasie kan sekerlik as een van die hoogtepunte in hierdie stryd beskryf word. Met sy 95 stellings teken Martin Luther protes aan teen sekere dwaalleringe in die Roomse Kerk. Dit was ’n stryd om die hart van die evangelie met die siele van sondaars op die spel. Hoewel hierdie protes hoofsaaklik ideologies was, het dit by tye selfs tot die opneem van die swaard gelei sodat ons Nederlandse voorvaders bereid was om vir meer as 80 jaar vir godsdiensvryheid te veg (1566-1648).

Weens ons gereformeerd-protestantse wortels, staan die Afrikanervolk stewig geanker binne hierdie tradisie van protes en verset. Ons ontstaansgeskiedenis, wat onder meer die koms van die Franse Hugenote insluit wie se verset teen Roomse-Katolieke oorheersing tot hul vervolging en diaspora gelei het, is sprekend van die bloed wat deur ons are vloei.

In die voetspore van ons voorgangers, word ons opnuut opgeroep om nie die eintlike stryd uit die oog te verloor nie. As gelowiges is ons geroep tot verset – verset teen Satan en die sonde; verset teen die verwatering van die Skrif en valse interpretasies daarvan; verset teen die uitdaging van God se gesag; verset teen die liberalisme wat hande vat met humanisme ten einde ’n Skrifvreemde, dog polities-korrekte evangelie op te dis. Kortom, ons is geroep om nie net óns stukkie grond te beskerm nie, maar om die koninklike grondgebied wat aan ons sorg toevertrou is, te beskerm. As Paulus ons oproep om vas te staan (Efés. 6:14), dan is dit ’n oproep om nie ’n duimbreedte van hierdie grondgebied prys te gee nie.

As ons onomwonde verklaar dat ons hiervoor staan, behoort dit ook duidelik te word in die dinge waarteen ons ons verset en waarteen ons protes aanteken. Dit help nie ons stook mekaar deur die dag op met oorlogspraatjies oor grondonteiening, maar saans skuif ons ewe gerieflik langs vroulief in om ons gunsteling program op KykNET, Boer soek ’n (vr)ou, te kyk nie. Dit help nie ons baklei vir moedertaalonderrig, maar ons gee nie om as ons kinders reeds van so vroeg as graad 4 al aan onderwerpe soos masturbasie, pornografie en Christus-onterende waardes blootgestel word nie (solank dit darem net in Afrikaans is, of hoe?).

Wie die gesag van die Skrif handhaaf en die strydbyl vir die eer van God en die grondgebied van sy koninkryk opneem, soek nie verskonings vir die hoë egskeidingsyfer in Suid-Afrika nie. Hy ondersteun nie vrye keuse wat moord deur middel van aborsie wettig nie. Hy stry nie teen korrupsie omdat dit hom van dienslewering beroof nie, maar omdat God diefstal en selfverheffing haat. Hy is nie tevrede met ’n Christus-besprinkelde onderwysstelsel nie, maar baklei vir ’n Christus-deurdrenkte een. Hy teken protes aan teen die regulering van godsdiens en verhef sy stem teen die sosiale euwels in sy gemeenskap.

Afrikaners word daarvan beskuldig dat hulle “moeilik” is. As dit dan van ons waar is, laat ons ten minste moeilik wees oor die dinge wat saak maak. Wanneer ons uit die staanspoor vir die behoud van die geestelike grondgebied stry, sal ons stryd teen grondonteiening, plaasmoorde, geweld, korrupsie, werkloosheid, die verlies aan moedertaalonderrig, ensovoorts, ook meer geloofwaardig wees. Wie hom vir hierdie stryd beywer en homself met oorgawe in hierdie stryd werp, kan op grond van Christus se oorwinning saam met Paulus getuig: In alles word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie (2 Kor. 4:8).

 

TOP