Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Dit is 9 April 2019 en op sosiale media word jy begroet deur die skokkende nuus en foto's: Die NG Kerk Redelinghuys is in vlamme gehul. 'n Plaaslike ouderling, Ockie Schoeman, het gesê dat dit nie net 'n gebou is wat afgebrand het nie, maar deel van die dorp se erfenis.

.....

 

Terwyl die ondersoek in Redelinghuys nog besig is, kom die volgende berig op 11 April: Betogers het die Hervormde Kerk Wesmoot beskadig en ook aan die brand gesteek. Alhoewel die brand geblus kon word, is duisende rande se skade aangerig.

 

.....

 

Skaars 4 dae later en die bekende Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk, staan in ligte laaie.

 

.....

 

Hierdie tonele gryp ’n mens aan en ontlok verskeie emosies by mense. Mense is verslae, geskok, hartseer en treur, veral in die geval van 'n gebou wat vir 800 jaar mense met sy skoonheid bekoor het. Selfs Protestante wat vurig en sonder enige diplomasie met Roomses sal stry oor leerstellige en historiese verskille, getuig van 'n mate van verlies wat hulle voel. Talle harte het in stukke gebreek toe die toring na benede stort.

Ek het nooit die voorreg gehad om die katedraal te besoek nie, maar indien ek ooit die geleentheid sou kry om in Parys te kom en moes kies tussen die Eiffel-toring en die katedraal, sou die Eiffel-toring verloor. My waardering vir hierdie besonderse gebou het begin toe ek as tienjarige seuntjie 'n legkaart daarvan voltooi het. Hier was 'n gebou wat iets versinnebeeld van die mooi en die goed waartoe die mens in staat is. Dit is 'n gebou wat 'n boodskap uitgedra het, selfs al is die Woord van God nie altyd getrou en suiwer binne daardie mure verkondig nie. Ek herinner studente in Kerkgeskiedenis telkens dat die Middeleeuse mense nie so vuil, agterlik en onopgevoed was soos wat die moderne sekulariste wil voorgee met die benaming "Donker Eeue" nie. Die Notre Dame-katedraal was 'n getuienis van die teendeel.

Dit is 'n gebou wat getuig hoe tot drie geslagte se mense aanvanklik daaraan gebou het, om ten spyte van ons kortstondige leeftyd iets met tydlose skoonheid op te rig. Elke dag het 35 000 toeriste by die deure ingegaan, dit is seker nie vergesog om te dink dat die oorgrote meerderheid van hulle nooit na enige preek geluister en op die Woord van God ag geslaan het nie. Maar wanneer die lig deur daardie drie ontsaglike groot roosvormige loodglasvensters skyn, word iets van die hemelse heerlikheid uitgestraal en sien hulle iets van dit wat hulle nie wil hoor nie.

 

.....

 

Die gebou van Notre Dame-katedraal getuig van 'n gemeenskap wat anders oor die plek van geloof in die samelewing gedink het. Dit is opgerig vyfhonderd jaar voor stiksienige Christene begin het om die Christendom tot 'n privaat-godsdiens te verskraal en besluit het dat dit niks met die markpleine te doen het nie. Mense is verslae, want 'n katedraal soos hierdie herinner ons daaraan dat aanbidding deel is van ons menswees. Katedrale redeneer in stilte met jou en met woordlose argumente trek die pilare en balke jou oë al hoe hoër op na bo, vanwaar die transendente God Hom na nietige mense toe neerbuig.

 

.....

 

Dit terwyl hedendaagse kerkgeboue pasgemaak moet wees. Dalk weerspieël dit juis iets van ’n mensgerigte of selfs mensgemaakte godsdienstigheid, waar God se eer, sy majesteit en skoonheid nie meer sentraal staan of die fokus is nie.

Vele geboue getuig teen diegene wat in hulle vergader en wie nie meer die evangelie van Jesus Christus glo nie. Die verlies van sulke getuigende geboue word soveel meer gevoel omdat liberalisme en ateïsme sosiaal aanvaarbaar geword het. Hier was iets gewees wat deur skoonheid bly getuig het in 'n tyd waar die waarheid en selfs goedheid prysgegee is. 'n Tyd waarin talle mense en groepe wat hulself as "kerk" identifiseer, geen van die tekens vertoon wat hierdie gebou vertoon het nie.

Ons is die erfgename van soveel dinge vanuit die Westerse kultuur, soveel skoonheid, waarheid en waardes. Wat het ons egter daarmee gedoen? Wat kan ons van ons erfporsie wys? Ons het dit opgemors en selfs verwerp. Ons kom in opstand teen die God wat ons erfdeel vir ons afgemeet het. Waar die boë, pilare, koepels en vensters ons uitlok om ons oë na bo te hef, probeer ons eerder om God af te trek na ons vlak toe. Om Hom na ons beeld te maak, eerder as om te erken dat ons sy beeld moet vertoon. Ons wil hê Hy moet ruimte maak vir ons voorkeure, ons sonde, ons idees. Dit terwyl ons geen duimbreedte van ons lewens aan Hom wil afstaan nie.

Talle mense huil oor die verlies van 'n indrukwekkende gebou, maar ons moet eerder huil oor ons sonde. Ons is hartseer oor skoonheid wat in enkele ure voor jou oë verkrummel, maar ons sien nie die skoonheid van berou en bekering nie. In talle van ons dorpies was die kerkgebou die middelpunt van die dorp gewees. Ons moet weer Christus die middelpunt en die Koning van ons lewens maak. Ons moet mense wees wat met 'n helder stem getuig van die waarheid. Mense wat opstaan vir dit wat reg is, maar ook opstaan teen dit wat verkeerd is.

’n Mens kan maar net hoop dat komende herbou-werk meer sal wees as net die herstel van beskadigde geboue. Dat ook die herbouing 'n getuienis sal wees dat ons lewens en ons geloof nie tydelik van aard is nie. Christene is die erfgename van 'n ewige lewe. Mag dit ook 'n getuienis wees dat gelowiges steeds sal staande bly teen vernietigende kragte wat ons op ons knieë dwing en ons selfs tot op die grond afbrand. ’n Sigbare bevestiging dat die woorde van 2 Kor. 4:8-9 nie leë beloftes is nie: "In alles word ons verdruk, maar ons is nie teneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie." 'n Getuienis dat al is my leeftyd op aarde maar enkele dekades, is ons erfdeel die van ewigblywende skoonheid, waarheid en goedheid.

Mag hierdie gebeure ons ook daaraan herinner dat geboue nie die Kerk van Christus is nie, dit is maar net die plek waar Christus se kerk bymekaarkom om Hom te aanbid. Dit is die plek waar gelowiges geleentheid het om dinge vir mekaar te doen wat jy nie alleen by jou huis kon doen nie. Dit is die plek wat jy gereeld besoek, nie net vir God en vir jouself nie, maar ook vir die ander mense wat daar is.

Dit is waar ek ander gelowiges kan aanmoedig om getrou te bly daarin om die regte dinge op die regte plek te doen. Dit is daar wat ek deur ander gelowiges regop gehou word in tye wat my knieë onder my wil meegee. Wanneer ek worstel en selfs nie eers weet hoe om te bid nie, is dit waar ek na ander se gebede kan luister en daardeur bekragtig word. Dit is waar ek en my halfdosyn klein kindertjies vir ouer geslagte 'n bevestiging kan wees van God wat die toekoms in sy hande hou. Dit is waar my kinders weer by die ouer gelowiges kan leer van God wat deur die geslagte getrou bly. Dit is waar dit vir my 'n vreugde is dat my motor in die parkeerarea kan staan as 'n getuienis vir diegene wat by die gebou verbyry. 'n Getuienis wat sê: "Kyk, mense is steeds besig om die Here te aanbid al is die wêreld hoe boos en deurmekaar."

Ja, selfs die vlamme wat ons aanskou het getuig van die Here, want ons lees mos in Hebreërs 12:29: "Want onse God is 'n verterende vuur."

 

TOP