Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

.....

Met die debat rondom wysigings aan die Suid-Afrikaanse Grondwet se bepaling van eiendomsreg, kom kerklike eiendom ook in gedrang. Gevolglik het ek so bietjie begin oplees oor hoe dit deur die geskiedenis hanteer is. Ek kom toe af op ʼn stelling dat wanneer kerke in die VSA in hofsake betrokke raak, dit meer kere oor eiendom as oor enige iets anders gaan.[1]

Ook in Suid-Afrika was daar al talle hofsake oor kerklike eiendom. Dink maar net aan die Nederduitsch Hervormde Kerk in Afrika (NHKA) se saak teen die destydse kerkvereniging onder die naam van die NH of G Kerk. Toe het die hof beslis dat die eiendomme bly behoort aan diegene wat voortgaan as deel van die NHKA, selfs al het die meerderheid van lidmate ten gunste van die kerkvereniging gestem. Dit het beteken dat selfs al bly daar net een lidmaat oor wat nie uit die kerkverband wil tree nie, dan is hy steeds deel van die NHKA en hy is die voortsetting van die plaaslike NHKA-gemeente, met die gevolg dat al die eiendomme onder sy toesig val.

Tans is die NHKA weer in ʼn hofsaak betrokke teen gemeentes wat uit die kerkverband getree het en later die Geloofsbond van Hervormde Gemeentes gestig het. Alhoewel hierdie saak nie presies dieselfde omstandighede het nie en ook nog nie beslis is nie, is dit duidelik dat albei sake handel met eienaarskap van kerklike eiendom wanneer gemeentes uit die kerkverband tree.

Dan was daar natuurlik ook hofsake gewees waar lidmate ongelukkig met kerkrade se besluite oor die aankoop of vervreemding van kerklike eiendom was. Dikwels omdat daar ʼn bepaalde sentiment aan die betrokke eiendom gekoppel was of omdat daar gereken is dat die leraar of ander leidende figure hul posisie misbruik het. So het dit byvoorbeeld al gebeur dat ʼn leraar ʼn kwynende gemeente se kerkraad oortuig om die pastorie spotgoedkoop aan hom te verkoop, net vir die gemeente om later uit te vind dat hy dit vir 10 keer meer verkoop het. Dan het ons nog nie eers gepraat oor skeurings wat in gemeentes plaasgevind het oor bouprojekte of eiendomstransaksies nie.

 

Plaaslike kerke se akkoord met mekaar

Sedert ons gemeentes besluit het om die Afrikaanse Protestantse kerkverband met mekaar te vorm, is ons goed daarvan bewus dat eiendomme ʼn slaggat is waarin veral kerke baie maklik kan val. Ons besef en leer ook vanuit die geskiedenis dat die kerk nie gevrywaar is van bedrog, korrupsie, magsug, uitbuiting en allerlei sondes waar daar vir Mammon bo God gekies word nie. Derhalwe het ons met mekaar ooreengekom om ook ten opsigte van ons eiendomme verantwoordelike rentmeesters te wees en ons het gevolglik saam besluit om sekere sake kerkordelik vas te lê.

Die vertrekpunt word bepaal deur ons Bybelse kerkbegrip, waarvolgens die kerkverband nie kerk is nie. Al die gemeentes saam vorm nie die kerk nie. Elke plaaslike kerk is reeds volkome kerk en sulke plaaslike kerke tree vrywillig met mekaar in kerkverband en kom met mekaar ooreen om sekere sake oral op dieselfde manier te doen. Dit beteken elke plaaslike kerk se eiendom behoort aan homself en nie aan die kerkverband nie. Daarom is elke plaaslike kerk se kerkraad ʼn regspersoon.

Wanneer die kerkraad egter met gemeente-eiendom handel, het ons met mekaar ooreengekom dat daar strenger maatreëls in plek moet wees as by besluite oor ander sake. Een voorbeeld daarvan is dat ʼn blote meerderheidstem nie genoeg is om ’n besluit te neem nie, maar wel ʼn tweederde meerderheid van stemme. Wanneer daar sprake is van die vervreemding van eiendom moet die kerkraad verder ook eers die gemeente inlig en advies van die gemeente verkry, alvorens daar ʼn finale besluit daaroor geneem word.

Dit sou beteken dat indien die kerkraad dit oorweeg om byvoorbeeld die pastorie te verkoop, dan moet die gemeente uitgenooi word na ʼn kerkraadsvergadering en die kerkraad moet almal daaroor inlig en ook die gemeente se advies daaroor kry. Daarna neem die kerkraad die besluit. Gestel nou ʼn tweederde meerderheid van die kerkraad het wel die besluit geneem, maar iewers is een lidmaat ongelukkig met die besluit. Dan het daardie lidmaat 21 dae geleentheid om kennis te gee dat hy/sy wil appelleer teen die betrokke besluit. Indien daar egter geen kennis van appèl binne die 21 dae ontvang word nie, kan die kerkraad met die transaksie voortgaan.

 

Sondige kreatiwiteit

Alhoewel ons op hierdie manier verantwoordelike rentmeesters probeer wees, toon die geskiedenis dat slinkse bedrieërs baie kreatief te werk gaan en steeds mense om die bos lei met duistere en selfsugtige motiewe. So kan dit byvoorbeeld gebeur dat ʼn individu of groepie individue soos ʼn wafferse mafia begin optree en met verloop van tyd verdryf hulle al die lidmate uit die gemeente totdat net hulle oorbly. Nadat al die vereistes nagekom is, besluit hulle dan met ʼn tweederde meerderheid om die kerklike eiendomme spotgoedkoop te verkoop aan ʼn instansie waarby hulle belang het en waaruit hulle in die toekoms groot wins gaan maak.

Of dit kan selfs gebeur dat een of ander sektariese idee binne ʼn gemeente begin posvat en uiteindelik word die meerderheid van die gemeente daardeur op sleeptou geneem. Geleidelik sal die aanhitsers dan die lidmate begin voorberei om hulle bande met die kerkverband te verbreek. Skielik moet ander kategesemateriaal gebruik word. Die kerkverband se tydskrifte en publikasies word vervang met ander leesstof. Kritiek word voortdurend uitgespreek oor alles wat in die kerkverband "verkeerd" sou wees. Die aard van die erediens word verander. Alles in ʼn poging om die lidmate van die res van die kerke in die kerkverband te vervreem. Terselfdertyd begin hulle ook om tegnies korrek al die eiendomme te vervreem aan byvoorbeeld ʼn trust wat kamtig sou onderneem dat hulle die eiendomme steeds teen ʼn relatiewe lae fooi kan bly gebruik. Wanneer hulle dan eendag besluit om wel hul bande met die kerkverband te breek en die lidmate is nie eenparig daaroor nie, sit die lidmate wat wil voortgaan as die plaaslike kerk binne die huidige kerkverband sonder enige eiendomme.

 

Rekenskap voor die troon van God

Blykbaar gaan diegene wat sulke dinge doen onverpoos met hulle planne voort asof hulle die Here ook kan flous. Ons troos is egter dat die Here elkeen tot verantwoording sal roep. Uiteindelik is ons almal stof en niks behoort aan ons nie. Alles behoort aan die Here. Ons is bloot sy rentmeesters. Hy sal rekenskap eis van ʼn owerheid wat sy mag misbruik om eiendom "wettig" te steel. Net so sal Hy ook rekenskap eis oor jou sonde wat jy in die duisternis bedink het, of jou blatante misleiding en selfverryking, of die misbruik van ander se vertroue in jou.

Ons lees mos in Lukas 16:15: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ʼn gruwel voor God.

Mag ons eerder ook op grond van die manier waarop ons rentmeesters is oor die kerklike eiendomme wat aan ons geskenk is, die woorde van Matthéüs 25:23 hoor: Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel. Gaan in in die vreugde van jou heer.



 

TOP