Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

.....

16 Desember 1838. Die slag van Bloedrivier. Geloftedag. Afrikaner-volksfees. Perdekommando’s, tradisionele drag, skyngevegte, goeie Boere-vermaak en 'n opruiende toespraak of twee. Dit is waarskynlik hoe die gemiddelde Afrikaner oor Geloftedag dink. Dit is óns dag, waarop óns volk die Here dank vir die wonder van óns voorgeslagte, die Voortrekkers, se oorwinning oor die magtige Zoeloe Impi van Dingaan op die walle van die Ncomerivier. Vir ons is dit bykans ondenkbaar om te dink dat enige iemand anders as Afrikaners die dag om dieselfde rede as ons sal wil vier. Tog gee ons nie om wanneer Duitsers of Engelse of Franse of selfs Portugese wat met die Afrikanervolk geassimileer het en met sy geskiedenis assosieer, die dag saam met ons vier nie.

Eksklusief of inklusief?
Die oomblik wanneer die woord “inklusief” in dieselfde asem as iets soos Geloftedag gebruik word, rys die nekhare. In Suid-Afrika het die woord “inklusief” ’n kodewoord geword om dinge te relativeer en van hul unieke karaktereienskappe te stroop. Sedert 1994 staan Geloftedag as Versoeningsdag bekend. Die naamsverandering het juis gespruit uit die oproep tot groter inklusiwiteit. Hierdie vervreemding van die “eie” in die naam van inklusiwiteit, steek baie Afrikaners dwars in die krop sodat hulle hul aptyt vir die term “inklusiwiteit” heeltemal verloor.

Wanneer ons egter oor die aard van Geloftedag dink, is dit ’n vraag of ’n meer inklusiewe benadering nie tog geregverdig is nie. Verder is dit ook nodig dat ons soms ’n tree of wat terug gee sodat ons ons eie gebruike en gewoontes behoorlik onder die loep kan neem. Openbaar ons eksklusiewe denke oor die dag nie dalk ’n verkeerde beklemtoning ten opsigte van die belangrikheid van die dag nie? Wanneer jy die dag as volksfees eerder as ’n geloofsfees beskou, maak ’n eksklusiewe karakter vir die dag sin. Tog is die 1838 Gelofte ingebed in en het dit gegroei vanuit ’n vaste vertroue in God en ’n intieme verhouding tussen Hom en sy kinders.

Die aard van die Gelofte
Wanneer die Gelofte bestudeer word, is die geestelike aard daarvan onmiskenbaar. Enige buitestander wat die inhoud daarvan sonder enige agtergrondinligting bestudeer, sal tot die gevolgtrekking kom dat die Gelofte onmiskenbaar Christelik van aard is. Gelowiges bely hulle afhanklikheid van die Verbondsgod en onderneem om die roem en die eer van die oorwinning aan Hom te gee.

Primêr was hierdie nie ’n stryd tussen Voortrekker en Zoeloe of tussen blank en nie-blank nie. Dit was ’n stryd tussen lig en duisternis; tussen die Christendom en die heidendom. Tydens hierdie stryd het God nie ’n volk bewaar nie, maar sy volk. Hy het nie die Voortrekkers beskerm omdat hulle Afrikaners was nie, maar omdat hulle Christene was. Die oorwinning by Bloedrivier was ’n Godswonder en as sodanig ’n uitvloeisel en bevestiging van die oorwinning op Gólgota. Die rimpeleffek van hierdie oorwinning het nie net ’n beslissende invloed op die geskiedenis van die Afrikaner gehad nie, maar ook op die van ander volke in Suid-Afrika.

Die gevolg van die wonder
In sy genade het God die eens magtige Zoeloeryk wat in sy trotsheid homself die reg toegeëien het om oor die lotgevalle van ander volke in Suid-Afrika te besluit, vernietig. Met die oorwinning by Bloedrivier is die skrikbewind van die Zoeloeryk, wat veral tydens die Mefecane hoogty gevoer het, beëindig. Tot ’n groot mate is die binneland van Suid-Afrika gestabiliseer. Sodoende het God nie net ruimte geskep vir die Voortrekkers om te floreer nie, maar ook vir die ander volke van Suid-Afrika. Dr. Pieter Möller is dus reg wanneer hy in Die Boodskapper van Desember/Januarie 2018 tot die gevolgtrekking kom dat ander volke in Suid-Afrika hul vooruitgang tot ’n groot mate aan die slag van Bloedrivier te danke het.

Een van die merkwaardigste gevolge van die slag word egter deur dr. Peter Hammond beskryf. Hy noem dat daar voor die slag van Bloedrivier, ten spyte van bykans agtien jaar se sendingarbeid onder die Zoeloes, geen bekerings gedokumenteer was nie. Na die slag het die damwal egter gebreek sodat duisende Zoeloes tot bekering gekom en die Christelike geloof aangeneem het. Opnuut word die waarheid van die Dordtse Leerreëls (3&4:11) bevestig, naamlik dat God in sy genade en almag in staat is om die hardste hart te vermurwe en dit wat onbesnede is, te besny. Christen-Zoeloes het dus net soveel rede om die roem en die eer vir daardie oorwinning aan God te gee as wat Christen-Afrikaners het – al was hulle aan die verloorkant.

Die oorwinning by Bloedrivier het die deur vir die verspreiding van die evangelie en die vestiging van ’n Christelike beskawing in die binneland van Suid-Afrika geopen. Die onderneming in die Gelofte om ’n huis tot God se eer op te rig waar dit Hom behaag, het meer behels as die oprig van die Geloftekerk by Pietermaritzburg. Ten diepste was dit ’n onderneming om God se huis, sy kerk, in die binneland van Afrika te vestig. Hiervan getuig die sendingstasie wat by Dingaanstat opgerig sou word.

Kersfees en Geloftefees
Dit is duidelik dat Geloftedag en die gevolge van die oorwinning, ten diepste elke gelowige in Suid-Afrika raak, ongeag sy nasionaliteit. Eersdaags herdenk ons weer die geboorte van ons Here Jesus. Hoewel Hy as “Koning van die Jode” gebore is, word sy geboorte nie eksklusief deur die Joodse volk gevier nie. Die gevolg van sy verlossingswerk op aarde was so ingrypend, dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie hierdie wonderlike gebeure op ’n unieke wyse herdenk. Die rede? Want uiteindelik was Hy nie net “Koning van die Jode” nie, maar die Verlosser van die wêreld.

Op dieselfde wyse kan oor Geloftedag gedink word. Die wonder het op ’n spesifieke tydstip onder ’n spesifieke deel van God se kinders plaasgevind, maar die invloed daarvan was universeel.

Inklusiewe fees, maar met ’n eksklusiewe karakter
Wanneer Geloftedag dus primêr as ’n geloofsfees beskou word, behoort dit inklusief te wees. Christene wat glo in die oorwinning van die Lig oor die duisternis, behoort die dag te vier as ’n inheemse bevestiging van die Gólgota-gebeure, ongeag hul etnisiteit. Die oorwinning by Bloedrivier was nie net ’n bewys van God se beskerming van sy kinders onder die Voortrekkers nie, maar dit was ook ’n waterskeidingsoomblik in die geskiedenis en geestelike toekoms van ander volke in Suid-Afrika.

Met “inklusief” word dus bedoel dat gelowiges uit elke volk en taal en nasie in Suid-Afrika saam met Christen-Afrikaners aan God die eer vir hierdie oorwinning moet gee. Dit impliseer nie noodwendig gesamentlike feesvieringe nie. Net soos wat God se kerk ’n unieke karakter onder verskillende bevolkingsgroepe aanneem, net so sal die feesvieringe ook ’n unieke of meer eksklusiewe karakter onder Christene uit verskillende bevolkingsgroepe toon. Hoewel die feesvieringe ’n eksklusiewe karakter mag vertoon, behoort die getuienis universeel te wees: Dat die roem en die oorwinning aan Hom gegee word!

By die Bloedrivierterrein is daar deesdae ’n brug tussen die plek waar die Trekkerlaer was en die plek waar die Zoeloemagte saamgetrek was. Die doel hiervan is om “versoening” tussen Afrikaners en Zoeloes te bevorder. Dit is egter ’n arbitrêre en humanistiese poging en daarom nie baie suksesvol nie. Wanneer Christus en die bevryding wat Hy vir beide groepe op daardie dag bewerk het, erken word, sal ons besef dat Hy die enigste brug van versoening kan wees.

 

TOP