Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

.....

Want hy is dienaar van God ...

 

Die swaard van onbegrensde owerheidsmag in die gestaltes van grondonteiening sonder vergoeding en die inkorting van privaatbesit, lê swaar op ons nek. Ons kan dus nie anders as om te vra of die owerheid dan nou nie sy Godgegewe magsperke begin oorskry nie?

Die apostel Paulus skryf in sy brief aan die gelowiges in Rome dat die owerheid waaraan alle mense hulle móét onderwerp, deur God ingestel is om namens Hom en hierin as sy dienaar, wet en orde in die samelewing te reël en te handhaaf.[1] Die Goddelike ordinansie van owerheid is goed, omdat die Een wat dit ingestel het, goed is. Weens die totale verdorwenheid van die mens word ook hierdie Goddelike instelling prooi van die sondige boosheid wat in gevalle mense heers.

In die hedendaagse geskiedenis is die skrikbewind van Adolf Hitler in NAZI-Duitsland (1934 -1945), dié van Idi Amin in Uganda (1971-1979) en nader aan die lyf dié van Robert Mugabe in Zimbabwe (1987-2017), voorbeelde van owerhede wat hierdie opdrag van God heeltemal in die wind geslaan het.

Dieselfde rimpelings van ’n owerheid wat God se soewereiniteit as hoogste Regeerder wil ontken, is ook al deur gelowiges in die VSA gevoel. Toe daar aan die gereformeerde teoloog Francis Schaeffer (1912-1984) gevra is wat die grootste bedreiging vir die toekoms van die kerk in die VSA is, was sy antwoord kort en kommerwekkend: “Statisme”.[2]

Onder statisme verstaan ons die filosofiese wêreldbeskouing waar die owerheid in ’n land homself onbeperkte soewereiniteit oor alle samelewingsterreine- en strukture toeëien (ook genoem totalitarisme). Statisme was en is steeds die grootste vyand van die kerk, aangesien dit onbegrensde magstoeëiening bo die soewereiniteit van God tot gevolg het.

 

Totalitarisme versus anargisme.

Hoe het denkers in die antieke tyd oor die rol van die owerheid gedink? Onder nie-Christen filosowe onderskei ons in hierdie verband tussen die gedagterigting van die rasionaliste en dié van empiriese denkers.

Rasionaliste soos Plato (427-347) en Aristoteles (384-322) het geredeneer dat redelike mense in staat daartoe is en toegelaat moet word om die samelewing soewerein te reël en te bestuur; dus die tipiese totalitêre staat.

Aan die teenoorgestelde kant het die Sofiste (400-300) weer geredeneer dat geen mens redelik genoeg is om oor ander mense te regeer nie, wat ’n regeringlose samelewing met die onbegrensde vryheid van die indiwidu tot gevolg het.

Ons het dus hier te make met twee uiterste denkrigtings wat albei in stryd is met die voorskrifte van die Skrif aangaande die rol van die owerheid in die samelewing.

 

Noodsaaklike euwel versus noodsaaklike bydrae.

Onder vroeë Christen-teoloë onderskei ons ook tussen twee denkrigtings met betrekking tot die rol van die owerheid.

Die kerkvader Augustinus (354-430) het geredeneer dat owerheidsinstellings op sigself nie ’n euwel is nie, maar noodsaaklik is omdat mense sondig en boos is – dus ’n noodsaaklike euwel om wet en orde in ’n gevalle wêreld te handhaaf. Volgens sy redenasie sou daar sonder ’n sondeval geen owerheid nodig gewees het nie – die eerste voorbeeld van wetstoepassing in die Bybel kry ons eers ná die sondeval.[3] Vanaf die begin van die skepping tot voor die sondeval was God self dus die Wetstoepasser.

In teenstelling met die siening van Augustinus, redeneer die Middeleeuse teoloog Thomas Aquinas (1225-1274) dat owerheidsinstellings steeds noodsaaklik sou wees, al was daar geen sondeval nie. Sy redenasie grond hy op die kultuuropdrag[4] en die verdeling van arbeid reeds vanaf die begin van die skepping en voor die sondeval van Adam en Eva. Die produksie van lewensmiddele en die gevolglike handel wat tussen mense daaruit voortspruit, maak regulerende instellings ’n noodsaaklike bydrae om goeie wet en orde – ook in ’n sondelose samelewing – te verseker.

 

Augustinus of Aquinas?

’n Kerkvader en 'n Middeleeuse teoloog beklemtoon twee belangrike afleidings oor die rol van die owerheid.

In die eerste plek moet die owerheid wet en orde handhaaf. Daarvoor ontvang hy die swaard[5] om byvoorbeeld weerbarstige onderdane se begeerte na onbegrensde vryheid in toom te hou, sodat ander onderdane in rus en vrede kan leef. Hierin is hy God se instrument om lewe te bewaar.

In die tweede plek moet die owerheid toesien dat die arbeidsinisiatiewe van mense, wat as regverdige loon privaatbesit tot gevolg mag hê, beskerm word. Hierin is hy God se instrument van geregtigheid. Dus: Eerder Augustinus en Aquinas!


[1] Vgl. Romeine 13:1-5.

[2] (2008). Tabletalk Magazine, September 2008: Life, Liberty, and the Pursuit of Happiness.

[3] Vgl. Genesis 3:23-24.

[4] Vgl. Genesis 1:28.

[5] Vgl. Genesis 3:24; Romeine 13:3-4.

 

TOP