Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

.....

Suid-Afrika gons behoorlik nadat die Nasionale Vergadering op 27 Februarie[1] 2018 n gewysigde mosie van die EFF goedgekeur het en opdrag aan die parlement se grondwetlike hersieningskomitee gegee het om navorsing te doen oor hoe onteiening sonder vergoeding (“OSV”) ingestel kan word sonder om die landbou, ekonomie en voedselproduksie te skaad. Die hersieningskomitee het tot Augustus 2018 om sy navorsing af te handel.

 

Aanloop

Alhoewel hierdie stap steeds vir ons almal as ’n skok gekom het, moet ons eerlik met mekaar wees dat ons dit eintlik al lank te wagte was. Die skok was daarom nie eintlik ’n skok van ongeloof nie, maar eerder ’n skok van besef dat ons nou by daardie onomkeerbare punt gekom het wat ons gaan dwing om óf te staan en te stry vir waarin ons glo, óf te vlug. Om apaties saam met die stroom te dryf, is beslis nie meer ’n opsie nie; as ons nie kan of wil kies nie, gaan die keuse vir ons gemaak word.

 

Kyk ons terug, is dit baie duidelik hoe ons tot hier gekom het:

  1. Die ANC se wêreldbeskouing is in wese deur die Marxisme gevorm en hierdie organisasies se ideologiese uitgangspunte was nog altyd kommunisties van aard.
  2. Terwyl liberale Westerse lande soos Swede en die Verenigde Koninkryk ook die ANC help finansier het, was dit primêr kommunistiese lande soos die Sowjet Unie, Oos-Duitsland en Kuba wat die ANC-terroriste gefinansier, opgelei en bewapen het.
  3. Dit was op inisiatief van die Sowjetblok dat Apartheid in 1973 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies tot ’n “Misdaad teen die Mensdom” verklaar is. Die VSA en ander Westerse lande het egter geweier om die resolusie te steun of te bekragtig juis vanweë die growwe dubbele standaarde wat toegepas is om te bepaal of iets ’n misdaad teen die mensdom is. In sy teenstem het die VSA die volgende laat notuleer: “We can not accept that apartheid can be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly constructed under existing international  law.”[2]
  4. Tydens Codesa maak die ANC verskeie ideologiese toegewings om die staatsmag te bekom, net om dit daarna onder die vaandel van “to redress the injustices of the past” weer by die agterdeur in te sluip en private eiendomsreg stelselmatig uit te kalwe.
  5. Die Wet op Gelyke Indiensneming (55 van 1998) word gepromulgeer aan die hand waarvan “Affirmative Action” aan ’n besigheidseienaar voorskryf wie hy mag aanstel deur rasgebaseerde kwotas vas te stel.
  6. Die Nasionale Waterwet (36 van 1998) word gepromulgeer. Ingevolge hierdie wet word water nou as ’n nasionale bate beskou en is die onderskeid tussen private en publieke water afgeskaf. Die eksklusiewe regte tot die gebruik van water wat voor 1998 gegeld het, word hierdeur omskep in watervergunnings wat op die diskresie van die relevante owerheidsinstelling toegeken word. Hierdie stap is regverdig aan die hand daarvan dat “die nasie se behoefte aan volhoubare waterhulpbronne swaarder weeg as die individu se eksklusiewe gebruiksreg op water. ’n Konstitusioneel houdbare ontneming het plaasgevind. Aangesien die staat egter geen regte toegeëien het in hierdie proses nie word tot die slotsom gekom dat hierdie bepaling nie op die onteiening van eiendom neerkom nie.”[3]
  7. In 2002 word die Minerale en Petroleum Hulpbronne Ontwikkelingswet (28 van 2002) gepromulgeer, wat alle mineraalregte sonder vergoeding ontneem met die staat as bewaarder daarvan. In die saak van Agri SA vs Minister for Minerals and Energy bepaal die grondwetlike hof dat alhoewel onteiening sonder vergoeding ongrondwetlik is, is ontneming sonder vergoeding nie ongrondwetlik nie.
  8. Die Breë-basis Swart Ekonomiese Bemagtigingswet (53 van 2003) tree in 2004 in werking. Dit bepaal dat besighede eers ’n deel van hulle eienaarskap aan swartes moet afstaan alvorens hulle met staatsdepartemente besigheid mag doen. Hierdie wet word in 2013 gewysig waarin strenger voorwaardes gestel is.
  9. Aan die hand van bogenoemde BBSEB wet het die Departement van Handel en Nywerheid in 2010 ’n Mynbou Handves bekendgestel wat sekere doelwitte m.b.t. swart eienaarskap, swart bestuur, verkryging vanaf swart verskaffers, ensovoorts gestel het. Hierdie Mynbou Handves is in 2016 gewysig en is die doelpale tot voldoening aan die wet geskuif, wat nou baie hoër eise aan die myne gestel het.
  10. Op 16 Desember[4] 2017 word daar tydens die ANC se 54ste Nasionale Konferensie aangekondig dat die ANC sal voortgaan om die Grondwet te wysig ten einde OSV moontlik te maak. Dit is ook belangrik om te onthou dat alhoewel die fokus vir nou primêr op landbougrond is, alle grond onder skoot kom.

Wanneer bogenoemde in ag geneem word, word dit baie duidelik hoe die staat sedert 1994 onder die vaandel van “redress of injustices of the past” en “representivity” stelselmatig meer beheer oor die ekonomie begin vestig het en eintlik alreeds vir ‘n geruime tyd sy mag misbruik om die eienaarsbelang in besighede met dwang te herverdeel. Grond is maar net die volgende logiese stap in hierdie proses.

 

Wat ons te wagte kan wees

President Ramaphosa het gesê dat hy ten gunste van onyeiening sonder vergoeding is (OSV), maar dat dit op só wyse moet geskied dat dit nie die ekonomie sal skaad of voedselsekerheid in gedrang bring nie. Alhoewel sommige kommentators mag glo dat dit blote verkiesingsretoriek is, is ander rolspelers weer van mening dat ons hom ernstig moet opneem.

 

Sou ons dan die lesse van die verlede as vertrekpunt gebruik en ons waag dit om ’n vooruitskatting te maak, kan ons met redelike sekerheid vir mekaar die volgende sê:

  1. Oor die volgende paar maande kan ons onluste en selfs onwettige grondbesettings verwag. Dit sal deel van ’n ANC-strategie wees om dringendheid vir wettige onteiening te skep. Die ANC het met AfriForum se suksesvolle veldtog tot die internasionalisering van die aangeleentheid, die morele hoë grond verloor. Die ANC sal daarom aanvoer dat OSV dit ten doel stel om geweld te voorkom en die “injustices of the past” op ’n wettige en verantwoordelike manier reg te stel. Die ANC sal aanvoer dat dit die rassistiese Afrikaners is wat steeds die onreg van Apartheid ontken en steeds daardeur bevoordeel wil word.[5]
  2. Dit is na aanleiding van bogenoemde dringendheid dat die ANC sal aanvoer dat daar tans dwingende en uitsonderlike omstandighede bestaan om voort te gaan met OSV.
  3. Die ANC het egter steeds ’n troefkaart wat hy kan speel. Net soos met mineraalregte en waterregte hoef die ANC nie die Grondwet te wysig om te kry wat hy wil hê nie. Deur grond, nes water, tot ’n nasionale bate te verklaar en die staat die bewaarder daarvan te maak, kan grond sonder vergoeding bloot ontneem word. Daarom kan ons ook verwag dat die ANC heel moontlik op ’n stadium met groot gewagmakery sy dryf om die Grondwet te wysig sal laat vaar en dit projekteer as redelike en ewewigtige regering.[6] Diegene wat die Grondwet as ’n heilige koei beskou, sal ’n sug van verligting slaak, maar die uitkoms sal presies dieselfde wees.
  4. Huurpag as vorm van grondbesit, is baie algemeen in Afrika. Voorstelle sal gemaak word dat Suid-Afrika ’n huurpagstelsel invoer, met boere wat steeds op hulle plase soos voorheen kan aanhou boer. Banke sal hierdie huurpag as sekuriteit aanvaar, maar uiteraard sal die oorblywende tyd op jou huurpag jou toegang tot krediet bepaal.
  5. Net soos met die Mynbou Handves kan ons verwag dat ’n Landbou Handves doelwitte van swart bestuur en swart aandeelhouding sal stel en dat die boer se hernuwing van sy huurpag (of grondlisensie) sal afhang van die bereiking van hierdie doelwitte.[7]
  6. Daar is ’n goeie kans dat georganiseerde landbou en veral van ons mega-boere maklik in die gedagte van ’n huurpag met sekere SEB doelwitte sal inkoop. Die rede hiervoor is eenvoudig – meer welvarende boere sal vinnig besef dat die kleiner boere nie oor die vermoë beskik om die teikens van die Landbou Handves te haal nie en sal hulle die kans benut om ook toegang tot hierdie grond te kry. Hulle sal daarom so vinnig as moontlik aan die teikens voldoen en hulself posisioneer om kleiner boere se huurpagte te bekom, of deur dit te koop (indien verhandeling toegelaat word) of met die regering daaroor te onderhandel. Die kleiner boer wat net te dankbaar is dat hy wel tog iets uit sy plaas sal kry, sal die geleentheid om die huurpag te sedeer/verhandel met albei hande aangryp.[8]
  7. Daar is ’n goeie kans dat daar nie soseer oor die beginsel van huurpag vs. eiendomsreg gedebatteer sal word nie, maar eerder die aangewese tydsduur van die huurpag asook die doelwitte wat daarmee saam bereik moet word.

Dit sal ook naïef wees om enige van die volgende gedagtes te koester:

  1. Dat pres. Ramaphosa se rykdom en sakebedrywighede sy kommunistiese ideologie sal temper. Nóg Stalin, nóg Mugabe het ooit in ’n tou gestaan om brood te koop. Inteendeel, hierdie situasie stel hom in staat om sy mag te konsolideer en sy rykdom te vergroot.
  2. Dat sg. “voorheen benadeeldes” die voltitel van die eiendom sal kry. Die staat sal of die voltitelhouer (in die geval van onteiening) of bewaarder (in die geval van ontneming) van alle grond – ook residensiële eiendom – word. Voorheen benadeeldes en hulle nageslagte sal nooit die kapitale waarde van die grond bekom nie.
  3. Dat dit ten minste meer swartmense toegang tot grond sal gee. Net soos met mynbou sal dit nie die swartman op die straat wees wat hierdeur bevoordeel sal word nie, maar die kaders. Ons moet onthou dat pres. Ramaphosa nie n “self-made millionaire” is nie, maar dat hy juis op grond van sy politieke konneksies en die regering se SEB-beleid in die mynbou homself kon verryk.[9] In Zimbabwe was dit tipies Mugabe se binnekring wat spogplase gekry het.[10]
  4. Dat grond in staatsbesit eerste vir herverdeling geoormerk sal word. Die staat dryf grondhervorming al jare en steeds is daar geen poging aangewend om staatsgrond aan die gewone swartman op straat beskikbaar te stel nie, waarom dit nou doen wanneer die regering juis druk vir die onteiening van grond?

Wat ons te doen staan

Daar is verskeie maniere hoe ons op hierdie risiko kan reageer, maar die meeste hiervan sal bloot reaksionêre optrede wees wat op die langtermyn min verandering teweeg sal bring.

Die enigste werklik volhoubare reaksie sal wees om die huidige narratief, trompop te loop met ’n heeltemal ander wêreldbeskouing, met ’n ander waardestelsel en ander argumente van billikheid.

Die sosialistiese-demokrasie as ideologie en sy argumente van gelykheid waarin ‘n party soos die Demokratiese Alliansie onder leiding van Helen Zille en Mmusi Maimane verval het, sal verwerp en ontbloot moet word vir wat dit is - die subtiele wegbereider van ‘n totalitêre kommunistiese bestel wat oral onreg in die vorm van ongelykheid sien en dit dan deur staatsinmenging en staatsregulering wil verander.

 

Private eiendomsreg vorm een van die hoekstene van ons Christelik-Westerse beskawing. Nie net het dit ’n sleutelrol gespeel om die armes in die Weste oor geslagte heen op te hef nie, maar is dit ook ’n beginsel wat duidelik deur die Skrif aan ons deurgegee is. Die agtste gebod, jy mag nie steel nie, is ’n baie duidelike bevestiging van private eiendomsreg. In Josua 14 lees ons weer hoe die beloofde land onder die familiehoofde van Israel verdeel is. Die interessantste hier is hoe Kaleb in die teks uitgesonder word en Hebron as erfdeel ontvang. Die kernbetekenis van hierdie teks bevestig nie net private eiendomsreg nie, maar slaan ook na die hart van die sosialistiese narratief van gelykheid en die sg. “sosiale geregtigheid” wat daarmee gepaard gaan. Daar is geen Bybelse regverdiging vir die gedagte dat ons almal ewe ryk, arm of talentvol moet wees nie. Die Here Jesus se gelykenis van die talente in Matthéüs 25 ontbloot ook hierdie misleiding.

 

 

In Handelinge 4 vanaf vers 32 lees ons hoe die vroeë kerk onder inspirasie van die Heilige Gees hulle besittings verkoop en die opbrengs na die apostels bring vir verdeling volgens elkeen se behoefte. Hierdie wonderlike gesindheid van “een van hart en siel” neem egter ’n tragiese wending wanneer Ananias en Saffira in Handelinge 5 ’n deel van die opbrengs vir hulself terughou – hulle wou as’t ware deel hê aan die ander Christene se opbrengs, maar ’n deel van hul eie opbrengs wou hulle eksklusief vir hulself terughou. Die Here het as gevolg hiervan vir beide Ananias en Saffira laat sterf. Hierdie teksgedeelte bring daarom vir ons onmisbare insig in die aard van die mens – selfs belydende Christene. Indien Ananias en Saffira vrywillig tot hierdie misleidende stap sou oorgaan terwyl hulle die wonderwerke van die apostels onder leiding van die Heilige Gees elke dag aanskou, wat sal die mens doen wanneer hy deur ’n owerheid gedwing word om sy eiendom te verkoop tot voordeel van almal? In hierdie gedeelte was die apostels eerbaar en gevul met die Heilige Gees, wat dink u sou ’n Ananias en Saffira gedoen het as hulle deel van ’n christelike owerheid was wat mense dwing om hulle private besittings te verkoop en die opbrengs aan die owerheid beskikbaar te stel om dit volgens behoefte te verdeel? Die geval van Ananías en Saffíra dien daarom vir ons as waarskuwing waarom ons nooit met christelike sentiment in ’n sosialistiese bestel gelok moet word nie.

 

Dit is daarom van kardinale belang dat Afrikaners rondom hierdie onteieningskwessie mobiliseer, die wortels van ons Christelik-Westerse wêreldbeskouing herontdek en dit doodeenvoudig handhaaf en bevorder. Die oomblik wat die eerste stukkie grond sonder enige daadwerklike verset wettig onteien of ontneem word, is die laaste spyker in die Afrikaner se doodskis geslaan.

 

Die woorde van Adrian Rogers, bring vir ons verdere perspektief oor wat vir ons sal voorlê:

“You cannot legislate the poor into freedom by legislating the wealthy out of freedom. What one person receives without working for, another person must work for without receiving. The government cannot give to anybody anything that the government does not first take from somebody else. When half of the people get the idea that they do not have to work because the other half is going to take care of them, and when the other half gets the idea that it does no good to work because somebody else is going to get what they work for, that my dear friend, is about the end of any nation. You cannot multiply wealth by dividing it.” 


 [1] Simbolies – die Slag van Majuba het op 27 Februarie 1881 plaasgevind.

[2]https://www.afriforum.co.za/die-feite-oor-apartheid-misdade-teen-die-mensdom-en-die-gebruik-van-die-ou-vlag/

[3] Die Nasionalisering van Waterregte in Suid-Afrika: Ontneming of Onteiening, Elmarie van der Schyff

[4] Simbolies – die slag van Bloedrivier het op 16 Desember 1838 plaasgevind.

[5]https://www.news24.com/SouthAfrica/News/we-cant-wait-for-parliaments-go-ahead-before-expropriating-land-without-compensation-nkoana-mashabane-20180327

[6] Die geykte beeld van kommunisme se twee treë vorentoe en een tree terug kom onwillekeurig by ’n mens op.

[7]https://www.netwerk24.com/landbou/Nuus/nafu-huurpag-is-die-antwoord-20170914, sien ook https://www.effonline.org/on-land

[8] Dit is presies die strategie wat die Blou Bulle Maatskappy gevolg het. Die BBM het by ’n SARU vergadering ten gunste van kwotas in rugby gestem. Die rasionaal hieragter was dat die BBM, wat baie meer geld as die kleiner rugbyunies het, die beste kwotaspelers sal kan koop en daardeur hulle kompetisie verswak. Sien in hierdie verband https://www.afriforum.co.za/wp-content/uploads/2013_09_27_1109320.pdf

[9] Sien bv. Ramaphosa se betrokkenheid by die Marikana slagting - https://www.thesouthafrican.com/marikana-what-did-cyril-ramaphosa-do/

[10]https://www.theguardian.com/world/2010/nov/30/zimbabwe-mugabe-white-farmers

 

TOP