Amptelike webwerf van die Afrikaanse Protestantse Kerk

Die NG Kerk en Belhar

    

Die NG Kerk het sy masjiene in werking gestel oor die belydenis van Belhar. Die Kerkbode, kerkkoerant van die NG Kerk, het onlangs ’n spesiale belydenisuitgawe gepubliseer om uitvoerige inligting deur te gee oor die besluite wat gemeentes binnekort moet neem. Dit is duidelik dat die saak – pro die belydenis van Belhar – stu-krag ontvang deur die amptelike organe.

 

 1. Inleiding

Die Kerkbode van 1 Augustus 2014, is geheel en al aan die belydenis van Belhar gewy. Kerkrade en streeksinodes van die NG Kerk moet eersdaags besluite hieroor neem en hiermee wil die Kerkbode blykbaar help. Omdat die uiteindelike besluite oor ’n belydenisaangeleentheid gaan, is daar sekere voorwaardes wat nagekom moet word volgens die NG kerk se kerkorde. Slegs wanneer twee-derdes van alle kerkrade asook al die streeksinodes die voorgestelde verandering oor die belydenis van Belhar goedkeur, kan die Algemene Sinode by die sitting in Oktober 2015 daaroor stem. Die artikel waaroor die NG Kerk moet besluit of hulle dit wil byvoeg, lui soos volg:

“Die belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die kerk, op so ’n wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergadering wat dit nie as ’n belydenisskrif onderskryf nie.”

Hierdie besluit raak ons beslis. Die NG Kerk het ’n beduidende invloed op die kerklike klimaat van Suid-Afrika. Lidmate van die AP Kerk is met vele bande van geskiedenis, vriende en familie aan die NG Kerk verbind. Op sy minste is hier iets groots besig om onder Afrikaners plaas te vind, waaroor ons liefs ingelig moet wees.

Soveel is al oor hierdie belydenis gesê. Ons moedig almal aan om hulle te vergewis van die webwerf van broer Jan Louw wat baie moeite doen om daardie kant van die saak te stel wat so maklik in die NG Kerk se algemene organe verswyg word[1]Daar is ook natuurlik die publikasie van ds. Theo Danzfuss, Belhar - bely of bestry, wat by ons boekwinkel aangekoop kan word[2]

Ter wille van billikheid wil ons begin deur die beste moontlike interpretasie van die belydenis van Belhar aan die orde te stel.

 

2. Goedbedoelende lidmate en dominees

Belhar gaan vir baie goedbedoelende NG lidmate eintlik maar net oor ’n belydenis teen rassisme waar rassisme die volgende betekenis dra: Om iemand op grond van ras minderwaardig te behandel of te impliseer dat jyself meerderwaardig is. Ds. Dirkie van der Spuy is ’n woordvoerder van hierdie goedbedoelde gesindheid. Ons noem sy naam, nie omdat hy in die middelpunt van die debat staan nie, maar juis omdat hy iets van die dierbare gelowiges in die NG Kerk in sy persoon simboliseer. Ds. Van der Spuy stel dat die NG Kerk ’n reformerende kerk is wat nie op tradisies en eie sieninge staan nie, maar telkens weer wil gaan hoor wat die Skrif sê. So het die NG Kerk in die onlangse verlede al herbesin oor sake soos wyke vs. kleingroepe, getuienis, tiendes, gebed, ens. “Belhar bring ons by selfondersoek oor ons verhoudinge teenoor ander nasies, rasse en kerke. Belhar neem ons na die Skrif om te sien wat God sê oor versoening, liefde, geregtigheid en eenheid,” sê hy. Volgens hom, al is daar verskil van mening, het Belhar gehelp om by die Skrif uit te kom oor hoe ons met gelowiges in ons land moet saamleef en dat rassisme en onderlinge vehoudings onder die vergrootglas gekom het. Hy sien die besluit oor Belhar dus as ’n teken van ’n lewende kerk wat steeds wil reformeer[3].

Iets in hierdie benadering is aantreklik. Dit is gewis ’n vraag of ’n kerk wat altyd net die status quo handhaaf, maar dit nie waag om vir haar eie tyd in die lig van die Woord te besin en selfs te herbesin oor standpunte nie, werklik getrou is. Gelowiges behoort dit opwindend te vind dat ’n kerk met die Bybel in die hand telkens opnuut wil besin oor die lewende stem van die evangelie asook die implikasies daarvan.

Maar daar is ’n voorwaarde hieraan verbonde. Daar is drie groot vrae wat telkens oor baie sake gevra moet word: volgens watter standaard, met watter motiewe, en met watter doel?

 

3. Volgens watter standaard?

Die mees voor die hand liggende vraag is of die belydenis van Belhar wel die boodskap van die Bybel deurgee. Die eerste saak wat ’n mens onraad laat vermoed, is dat al die teksverwysings van die belydenisskrif wat in die Kerkbode gepubliseer is, byna net uit die Nuwe Testament afkomstig is. Slegs drie verwysings kom uit die Ou Testament. Die vraag wat so ontstaan, is of die begrippe ‘versoening’, ‘geregtigheid’ en ‘eenheid,’ gelaai word met betekenis uit die huidige samelewingskoers eerder as die Bybel. Die eie gang van die Ou Testament na die Nuwe Testament moet mos bepalend wees.

Dit bring ons reeds by ’n tweede probleem wat ook deur iemand buite ons kring aangemerk word. Die Calvinistiese teoloog, dr. Todd Billings, het in sy werk, Union with Christ, by alle waardering vir die belydenisskrif, ’n grondliggende probleem met hoe die betekenis van woorde soos “armes” en “noodlydendes” gelaai word. Na sy mening word die woorde meer in modern-sosiologiese sin as in Bybelse sin gebruik, terwyl hierdie woorde in die Skrif baie meer binne ’n verbondskonteks funksioneer[4].

Derdens kry ’n mens kry ook die indruk van eensydigheid by hoe die Bybel gebruik word. So word byvoorbeeld die verband tussen armoede en luiheid nie verreken nie, asook armoede en oordeel en armoede en wêreldbeskouing (Spr. 13:4,18; 6:9-11; 21:5; 28:19). En geregtigheid beteken dat jy nie die ryke mag bevoordeel in die reg nie, maar ook nie die arme nie (Ex. 23:3; Lev. 19:15). Dat die belydenis van Belhar wel dele van die waarheid bevat, word nie ontken nie. Wanbalans en eensydigheid; dit is die kwessies om op te let, verseker as dit oor ’n belydenisskrif gaan.

Hieroor is daar selfs uit onverwagte kringe twyfel. Dit is insiggewend om in die genoemde Kerkbode te verneem wat die praeses van die Protestantse Kerk van Nederland (PKN), Karen van den Broeke, hieroor sê. Sy het begrip vir die historiese situasie van apartheid, maar dink tog dat die belydenis van Belhar, “eensydige waarhede” bevat. Die PKN erken Belhar ook nie as amptelike belydenisskrif nie.[5]

 

4. Met watter motiewe?

’n Bepaalde ironie van die opstellers en hul motiewe moet tog ook aangemerk word. Dit is tog enigsins verbasend dat die twee blanke teoloë, te wete proff. Dirkie Smit en Jaap Durand die belydenis en waarskynlik ook die skitterend bewoorde begeleidende brief destyds opgestel het. Watter verskuilde patriargale motiewe was hierin werksaam? Dit is ook insiggewend dat ds. Danzfuss in sy genoemde publikasie die motiewe wat geheers het by die sinode waar die belydenis van Belhar die eerste keer aanvaar is, uit outentieke bronne tog heeltemal anders beskrywe.

Kevin DeYoung, predikant in die Reformed Church of America (RCA), praat prontuit oor die motiewe wat hom onrustig maak. Sy kerkverband het reeds in 2010 die Belhar belydenis as vierde belydenis aanvaar. Tog is hy onrustig oor die publikasie van dr. Piet Naudé, een van die leiers in die NG Kerk, wat net daarna in 2010 ’n publikasie laat verskyn het met die titel, Neither Calendar Nor Clock: Perspective on the Belhar Confession.

DeYoung neem met onrus kennis van die woorde op bladsy 189: "Dit was relatief maklik om apartheidsteologie as 'n ideologie te sien. Dit is 'n bietjie moeiliker om 'n patriargale en heteroseksuele kultuur, ondersteun deur 'n fundamentalistiese lees van die Skrif, te dekonstrueer as 'n ewe bose ideologie wat vandag weerstaan moet word.” DeYoung vind ook ander verwysings na “gay en straight Christene” wat hom laat stel dat dit hoogs onwaarskynlik is “dat Naudé 'n Bybelse verstaan van die huwelik aanvaar of dat hy 'n probleem daarmee sien om Belhar te gebruik om 'n revisionistiese agenda op hierdie gebied te bevorder.”[6] Hierdie tipe interpretasie kan ook waargeneem word in prof. Dirkie Smit, mede-opsteller van die Belhar-belydenis, se geleerde publikasie, Neem, lees! Ook prof. Smit maak ’n saak uit vir die hantering van homoseksuele mense as gemarginaliseerdes. Dit blyk dat dit ook vir prof. Smit verder behoort te gaan as ondersteuning van gelowiges wat hierdie oriëntasie het, maar dit nie aktief wil uitleef nie.

Die saak van motiewe strek verder. ’n Vername beswaarde, soos die bekende NG teoloog, prof. Johan Janse van Rensburg, pleit op ernstige gronde teen die aanvaarding van die Belhar belydenis.[7] Prof. Van Rensburg is van mening dat al die motiewe vir die bevordering van die ja-stem nie eerlik aan die lidmate meegedeel word nie. Hiervoor het hy ten regte gronde. Elke leser word aangeraai om die memorandum van die ooreenkoms wat gesluit is tussen die leiers van die VGKSA en die NG Kerk op die 10de April 2013 te lees.[8] Daarin word uitgespel dat die besluit oor die belydenis van Belhar ’n reis is wat moet uitloop op volle aanvaarding daarvan. Waar dit nog nie aanvaar word nie, is hulle wel bereid om die pad met diegene te stap wat nie oortuig is nie, maar dit is duidelik wat die einddoel is waaroor die leiers ooreengekom het. Boonop word die uitdrukking restorative justice in die dokument gebruik. Die betekenis? lt restores imbalances of the past and imbalances in God's creation and glorifies God through our restored unity and reconciliation. Hiermee saam is daar selfs ’n eiendomsinventaris vir die toekoms nodig.

Hierdie tipe verstaan van geregtigheid kan nie sommer aan die Bybelse betekenis van restitusie gelykgestel word nie. Daar is twee basiese verskillende maniere waarop geregtigheid vandag verstaan word. Thomas Sowell, ʼn swart Amerikaanse ekonomiese filosoof, skryf leersaam in The Quest for Cosmic Justice oor die verskille. Prof. Sowell toon aan dat dit in die tradisionele interpretasie gaan om dit wat reggestel moet word wat duidelik en volgens die maatstaf van die wet verkeerd geloop het. Die ander interpretasie wil in die naam van geregtigheid alles wat ongelyk is in die heelal probeer regstel. Voorstanders hiervan beywer hulle vir wat Sowell “kosmiese geregtigheid” noem. In die proses van beheer neem teenoor alle vermeende ongeregtighede en ongelykhede, veroorsaak diesulkes egter onberekenbare nuwe skade in die naam van gelykstelling. Dr. Sowell praat van die tirannie van so ’n kosmiese visie van geregtigheid. Die ergste is dat dit alles in die naam van super geregtigheid gedoen word.

En dit is nou hier waar ’n ander vraag oor motiewe gestel word. Besef die leiers in die NG Kerk dat hulle binne hierdie ideologiese motiewe wandel? Want dit is moontlik dat jy so betower is deur hierdie daadkragtige visie vir die samelewing, dat jy nie eens besef dat jy meer deur die motiewe van die liberale hegemonie as deur die motiewe van die Bybel gekondisioneer is nie.

 

5. Die einddoel

Wat die einddoel betref, moet ons fokus op die gevolge, maar ook onbedoelde gevolge (die sogenaamde unintended consequences). Dit is duidelik uit die genoemde memorandum dat daar beweeg word in die rigting van ’n vereniging van die VKSA en die NGK. Selfs ’n nuwe naam vir die nuwe kerkverband sal gevind moet word. Is dit nie net eerlik om aan lidmate te verduidelik wat hierdie einddoel van die leiers is nie? Of kan die gepeupel nie nou al die (tirannie van die) visie begryp nie?

Kevin DeYoung wys hoedat daar in sy kringe vanuit Belhar diens gedoen word aan liberale agendas: “Diegene wat pleit vir die aanvaarding van Belhar wil nie net eenvoudig hê dat ons dit as 'n anti -apartheidsdokument bevestig nie. Hulle is passievol oor Belhar as gevolg van sy menige implikasies. Die Kommissie vir Christelike Aksie het in 2007 Belhar geprys omdat dit so baie probleme soos die plaas-wetsontwerp, Soedanese vlugtelinge, die oorlog in Irak, sosiaal beskermende RCA aftreefondse, die immigrasiebeleid, minimum loonverhogings en Amerika se verbod op Kuba, opgehelder het. Ander in die RCA het voorgestel dat Belhar van toepassing is op die Palestyns-Israeliese konflik, die globale ekonomie, die groen-beweging, aborsie, maatskaplike welsyn, en die belastingbeleid. Vir baie mense in die RCA het Belhar se spraak oor geregtigheid ondersteuning gebied aan byna enige saak wat in die breë kategorie van ‘sosiale geregtigheid’ val.”

DeYoung gaan verder. Hy sien die gay-agenda by meer as net dr. Piet Naudé raak: “En vir sommige sluit "sosiale geregtigheid" ook die bevestiging van ’n homoseksuele lewenstyl in. Hierdie saak kan nie weggeredeneer word as vreesinboeseming nie. Allen Boesak, onder wie se leiding Belhar die eerste keer opgestel is, het onlangs hoofopskrifte in die nuus veroorsaak toe hy dramaties daarop aangedring het dat die kerk se Belhar-belydenis die verdediging van die volle regte van gay lede vereis. Toe die sinode dit verwerp het, het hy sy voorneme aangekondig om uit alle ampte van die kerk te bedank en het hy die sinodevloer saam met sy vrou verlaat (The Banner, 16 Januarie). As die man wat verantwoordelik was vir die toesighouding oor die eerste konsep van die Belhar-belydenis beweer dat die steun vir homoseksuele huwelike en homoseksuele ordening in die ampte deur die belydenis vereis word, waarom sal ons dan nie aflei dat hierdie dokument deur die RCA met 'n soortgelyke doel gebruik sal word nie?”[9]

 

6. Misgissing

Dit is werklik ’n vraag of die NG Kerk nie ’n basiese kategorie misgissing oor hierdie aangeleentheid begaan nie. Prof. Janse van Rensburg wys tereg daarop dat belydenisskrifte om geloofsinhoude gaan, maar dat die belydenis van Belhar meer handel oor die implikasies daarvan. Waarom dan iets wat meer oor die implikasies van die belydenis handel, in dieselfde kategorie plaas? Hierdie standpunt word bevestig wanneer ons in die Kerkbode verneem van die Christian Reformed Church in Noord-Amerika wat hieroor ’n ander weg opgegaan het. Nadat die belydenisskrif van Belhar in 2009 aanvaar is, is daar drie jaar later besluit om liewer ’n minder bindende kategorie van “ekumeniese geloofsverklarings” te skep en Belhar daarin te plaas.[10] Waarom sou die NG Kerk nie hierdie weg wou opgaan nie? Dit bring ’n mens weer by die vraag na die einddoel en die motiewe. Maar selfs hiermee moet ons nog eers by die Skrif verbykom. En hier moet weereens gevra word of alle gereformeerde kerkverbande werklik so eens is dat die belydenis van Belhar die boodskap van die Bybel gebalanseerd en getrou vertolk.

Prof. Van Rensburg noem dat daar ongeveer 80 gereformeerde kerkverbande wêreldwyd is en dat dit glad nie so ’n uitgemaakte saak is dat alle kerkverbande ewe opgewonde oor die belydenisskrif is nie. Dit is ’n geldige vraag en hierdie vraag word wel deeglik deur NG Kerk lidmate gevra: Is Belhar nie maar uiteindelik bloot ’n tydgebonde protesgeskrif met tipiese eensydighede wat nie naastenby die aandag verdien wat dit tans kry nie? Buitelandse stemme soos dié van Van den Broeke se opmerking oor die eensydigheid daarvan, tesame met ’n gewaardeerde stem soos die van Todd Billings, behoort inderdaad groter aandag te kry.

 

7. Opsommende evaluering

Die filosoof en opvoedkundige in die klassieke tradisie, Mortimer Adler, het ons geleer om vier vrae in te bou in enige kritiese evaluering: (1) Waaroor is die standpunt oningelig (uninformed), (2) waaroor het die standpunt verkeerde inligting (misinformed), (3) wat is irrasioneel in die standpunt, en (4) wat is onvolledig (incomplete)?

 

7.1 Oningelig

Voorstanders van Belhar lig klaarblyklik lidmate nie in oor die gevolge en onbedoelde gevolge wanneer die belydenis as deel van die grondslag van die NG Kerk aanvaar gaan word nie. Lidmate word ook nie ingelig oor die onaanvaarbare wyses waarmee met die Bybeltekste omgegaan word nie. Daar is ’n beter manier om met die Bybel op verantwoorde wyse om te gaan as wat die Belhar-belydenis dit doen. Dit is ’n manier wat beide die slaggate van die modernisme en die fundamentalisme vermy. Vergelyk in hierdie verband die onlangs verskene werkie van John Teevan, Integrated Justice and Equality. Teevan wys die weg aan van ’n werkswyse wat nie as “anti-Belhar” getipeer kan word nie, maar eerder as “anderkant Belhar”. Teevan doen deeglike ondersoek na hoe die betekenis van die term “geregtigheid” in die geskiedenis ontwikkel het, tesame met hoe die term in die Bybel gebruik is en hoe die betekenis daarvan in die heilsgeskiedenis ontluik het. Dit is hoe verantwoordelike interpretasie van ’n woord soos geregtigheid geskied.

    

Voorstanders van Belhar lig lidmate in hierdie verband skynbaar ook nie in oor die verskil tussen die tradisionele interpretasie van geregtigheid en die kosmiese interpretasie daarvan nie. In die tradisionele interpretasie gaan geregtigheid oor gelykheid voor die wet en gelykheid van regte. Maar dit beteken nie terselfdertyd ook sosiale en ekonomiese gelykheid nie. Die kosmiese intepretasie is nie hiermee gediend nie. Dit is veral in die liberale tradisie wat laasgenoemde interpretasie bevorder word en jy moet vreemde voetwerk doen om jou daarvoor op die Bybel te beroep. Dit is die lens van die liberale tradisie met sy wortels in die Franse Revolusie, wat eerder hier die deurslag gee. Is lidmate, en erger nog, die leiers self, ingelig oor hoe sterk die liberale tradisie die toon aangee, eerder as die Bybel? Dit is krities belangrik om te vra in hoeverre die definisies van ‘eenheid’, ‘geregtigheid’ en ‘versoening’ werklik Bybels funksioneer en of dit eerder ooreenkom met die liberale geestesrigting se gedagteraamwerk.

 

7.2 Verkeerd ingelig

Lidmate word duidelik ook verkeerd ingelig oor die beleid van afsonderlike ontwikkeling in die verlede. Dit is een ding om krities te wees oor die gebruike van klein apartheid. Daaroor was daar al lankal kritiek uit die geledere van die argitekte van afsonderlike ontwikkeling se monde. Reeds so vroeg as 1960, het prof. H.G. Stoker, filosofiese verdediger van afsonderlike ontwikkeling, al vermanings laat hoor oor die menswaardigheid van ander volke en selfs dat dit ’n groot sonde van die Weste was dat sy nie die ander volke as na die beeld van God hanteer het nie.[11] Nietemin verdedig hy steeds die beleid van afsonderlike ontwikkeling. Was hy bloot naïef, verkeerd ingelig, of skisofrenies? Of was daar ander uitgangspunte waaroor ons verkeerd ingelig is? Iemand soos dr. Mark Kreitzer is van mening dat onbewuste aannames oor kulturele norme in ons dag duidelik ondersoek moet word. Ons word na sy mening te veel beïnvloed deur die individualistiese en anabaptistiese sienings van die liggaam van Christus. Die gevolge hiervan is tragies: Daar is dan nie werklik ’n Bybels-verbondsmatige alternatief op die dogma van gelykstelling (equality) in ons samelewing nie. Dit kom uiteindelik neer op aanvaarding van demokratiese sosialisme, eerder as op aanvaarding van die Bybel, sê dr. Kreitzer.[12]

Dit is juis hierop wat die neo-Kuyperiaanse Afrikaners ’n alternatief probeer ontwikkel het, al was dit dalk ook gebroke en inkonsekwent, voer hy verder aan. Dit was ten minste in teorie ’n poging om die verskillende volkere aan die Suidpunt van Afrika te bedien met ’n visie van ’n konfederale bestel onder die heerskappy van Jesus Christus. Prof. Stoker het hieroor beter insig en inligting gehad as vandag se teoloë wat in ’n groot mate analfabeties is oor iets soos die reformatoriese wysbegeerte. Kyk ’n mens vandag na iemand soos prof. Koos Malan se lesenswaardige werk, Politokrasie, is dit opmerklik dat sy voorstelle vir Suid-Afrika die insigte oor gemeenskapsdenke baie beter verreken. Vanuit hierdie visie op Suid-Afrika as ’n gemeenskap van gemeenskappe, word dit vir gelowiges moontlik om met nuwe vrae na die Woord te gaan en te oorweeg of daar nie iets meer omvattend as die belydenis van Belhar behoort te wees nie. Daar is tans ’n hele beweging aan die horison wat met ’n post-sekulêre benadering en polsend met gemeenskapsdenke, fundamentele kritiek uitoefen op die ideologiese mag van die liberalisme. Dit is ’n goeie vraag of hierdie tipe kritiek wat anderkant apartheidsteologie sowel as post-apartheidsteologie wil beweeg, nie eerder die tipe kritiek is wat ’n groter openheid toon vir die boodskap van die hele Bybel nie.

 

7.3 Irrasioneel

Indien hierdie besinning oortuigend aantoon dat die belydenis van Belhar te veel vrae onbeantwoord laat, is dit irrasioneel om Belhar te beskrywe as God se droom vir Suid-Afrika of dat dit ’n ikoon van liefde sou vergestalt, soos wat dit in die Kerkbode voorgehou word.[13] Dit is juis hierdie ikoniese status van die belydenis van Belhar wat met groot agterdog bejeën moet word. In die lig van die kulturele aannames en eensydighede wat reeds genoem is, is dit eerder rasioneel om te stel dat ons verder moet besin oor ’n weg anderkant apartheid en Belhar.

 

7.4 Onvolledig

Uit die voorafgaande blyk dit ook dat een van die kernprobleme met die belydenis van Belhar die onvolledigheid daarvan is. Die belydenis verwerk nie al die Bybelse gegewens oor die genoemde sake nie. Dit plaas die gegewens binne ’n aanvegbare verwysingsraamwerk, en dit gebruik begrippe wat gelade is met liberaal-demokratiese beskouings. Indien die NG Kerk werklik wil reformeer, behoort dit grondiger gedoen te word. Die bedoeling van ’n protes teen rasse-vooroordeel kan ’n noodsaaklike getuienis van die kerk wees, maar dit behoort in ’n vollediger geskrif ingebou te word waaraan meer kerkgroepe kan saamwerk, en wat die wangebruike daarvan in diens van liberale polititeke agendas vermy. Om bloot ter wille van eenheid ’n eensydige waarheid te dien, al doen jy dit ook in die naam van liefde en van die Here van die kerk, kan op die langtermyn ’n oefening in irrelevansie in die samelewing wees.

 

8. Ten slotte

Kom ons wees eerlik: Sake soos ‘eenheid’, ‘geregtigheid’, en ‘versoening’ is belangrik. Dit staan in die hart van die evangelie van Jesus Christus en die implikasies daarvan is inderdaad geweldig. Die vraag gaan oor hoe ons hierdie groot woorde uit die Bybel interpreteer en toepas en volgens wie se spelreëls. Kan gelowiges oningelig, verkeerd ingelig, irrasioneel, en eensydig, belydenis doen van wat hulle glo - meer volgens die oogmerke van die liberale tradisie as volgens die Bybel? Die voorstanders van die belydenis van Belhar kan nie oortuigend aantoon dat die standaarde, die motiewe en die einddoel van hierdie besluit wat hulle wil neem, bo verdenking is nie. Die grootste ironie is dat die voorstanders van die belydenis van Belhar, soos soveel kere in die geskiedenis van die NG Kerk, handlangers van die staat se agenda is.[14] Indien die NG Kerk en ook ons eie kerkverband werklik wil reformeer oor sosiale aangeleenthede, benodig hulle en ons beslis iets anderkant Belhar.


[1] Jan Louw, by http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/830-belhar-n-futiele-oefening.htm

[2] Skakel 012 362 1390 en vra vir die versendingkantoor, of kontak versending@apk.co.za.

[3] Die Kerkbode, 1 Augustus, 2014, p. 14.

[4] Kevin DeYoung by  http://thegospelcoalition.org/blogs/kevindeyoung/2011/12/02/todd-billings-looks-at-belhar/

[5] Kerkbode, 1 Augustus, 2014, p. 15.

[6] Kevin DeYoung by http://thegospelcoalition.org/blogs/kevindeyoung/2012/09/27/book-briefs-dutch-reformed-edition/

[7] Johan Janse van Rensburg, by  http://www.glodiebybel.co.za/index.php/geloofskwessies-m/103-belharbelydenis/829-voordrag-voor-die-buitengewone-vergadering-van-die-vrystaatse-sinode-belhar.html

[8] Memorandum van ooreenkoms tussen die VKSA en die NGK by

http://www.vgksa.org.za/documents/Memorandum%20of%20Agreement.pdf

[9] Kevin DeYoung by http://thegospelcoalition.org/blogs/kevindeyoung/2009/05/11/belhar-confession-yea-or-nay/

[10] Kerkbode, 1 Augustus 2014, p. 15.

[11] H.G. Stoker, Die verset van die buiteland teen ons rassebeleid, Woord en Daad, jr.5, nr. 6, 3 Augustus 1960 : 2,4.

[12] Mark R. Kreitzer, Review of The Thousand Generation Covenant: Dutch Reformed covenant theology and group identity in colonial South Africa, 1652-1812. by Jonathan N. Gerstner (Leiden:E. J. Brill), by http://www.contra-mundum.org/cm/reviews/mk_thousand.pdf

[13] Kyk byvoorbeeld na die woorde van Dr. Nelus Niemandt hieroor in die Kerkbode, 1 Augustus, 2014, p. 9

[14] Kyk in hierdie verband na die onlangse artikel van Ebert Terblanche by http://debat.maroelamedia.co.za/afrikaners-te-wit-vir-die-hemel/

 

 

TOP